MATTEUS 22:1-22
MATTEUS 22:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het weer vir die mense gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit soos wanneer 'n koning 'n fees-ete gehou het vir sy seun wat getrou het. Hy het mense na die troue genooi, en hy het sy slawe gestuur om die mense te gaan roep om te kom. Maar die mense wou nie kom nie. Die koning het ander slawe gestuur en vir hulle gesê: ‘Sê vir die mense wat ek genooi het: Alles is nou gereed vir my fees-ete. Ek het beeste en vet kalwers laat slag, en alles is gereed. Kom na die fees-ete.’ Maar die mense wat genooi was, wou nie kom nie, hulle het weggegaan. Een man het na sy stuk grond gegaan, en 'n ander man na sy besigheid. Ander mense het sy slawe gegryp, hulle het slegte dinge gedoen aan sy slawe en hulle het die slawe doodgemaak. Die koning het toe kwaad geword, en hy het sy soldate gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad te verbrand. Die koning sê toe vir sy slawe: ‘Alles is gereed vir die fees-ete, maar die mense wat ek genooi het, was nie die regte mense om na die fees te kom nie. Gaan nou na die plekke waar die hoofpaaie uit die stad uitgaan en nooi almal wat julle sien om te kom na die fees-ete.’ Die slawe het toe uitgegaan op die paaie en hulle het almal bymekaargemaak wat hulle gesien het, slegte mense en goeie mense. Die saal vir die fees-ete het vol geword van die mense wat kom eet het. Toe die koning in die saal ingaan om die mense te groet, sien hy daar is iemand wat nie fees-klere aan het nie. Die koning het vir hom gesê: ‘My vriend, hoe het jy hier ingekom? Jy dra nie die regte klere vir 'n fees nie.’ Maar die man kon nie sê hoekom hy nie die regte klere aangetrek het nie. Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.’ Want God nooi baie mense, maar Hy kies net 'n paar mense.” Die Fariseërs het toe gaan planne maak. Hulle wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, hulle wou hê Hy moet probleme kry. Hulle stuur toe hulle leerlinge saam met Herodiane na Jesus toe om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en alles wat jy vir hulle leer, is waar. Jy is nie bang vir wat die mense van jou sê nie. Jy kyk nie wie mense is nie, jy doen dieselfde aan almal. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Maar Jesus het geweet hulle is slegte mense en Hy het vir hulle gesê: “Julle skynheilige mense, hoekom wil julle hê Ek moet iets sê wat vir My probleme kan gee? Bring vir My die geldstuk waarmee mense belasting betaal.” Hulle bring toe vir Jesus 'n silwer geldstuk, en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?” Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet aan die keiser betaal wat aan die keiser behoort, en julle moet ook aan God betaal wat aan God behoort.” Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en hulle het weggegaan van Jesus.
MATTEUS 22:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en 'n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie 'n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min uitverkies. TOE gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik. En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie — sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom 'n penning gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? Hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.
MATTEUS 22:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het. Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’ “Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan. En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek. “Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’ Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword. “Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie, en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok. Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?” Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik? Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.” Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?” “Die keiser s'n,” antwoord hulle. Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.
MATTEUS 22:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het weer met hulle deur gelykenisse gepraat en gesê: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n •bruilofsfees vir sy seun voorberei het. Hy het toe sy slawe gestuur om dié wat na die bruilofsfees genooi is, te roep, maar hulle wou nie kom nie. Nog 'n keer het hy ander slawe gestuur, met die opdrag, ‘Sê vir die genooides: Kyk, ek het my feesmaal gereedgemaak. My beeste en die vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed – kom na die bruilofsfees!’ Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en weggegaan, die een na sy stuk grond, die ander na sy besigheid. Die res van hulle het sy slawe gegryp, hulle sleg behandel en doodgemaak. Die koning het kwaad geword; hy het sy soldate gestuur, daardie moordenaars om die lewe gebring en hulle stad afgebrand. Toe sê hy vir sy slawe, ‘Die bruilofsfees is gereed, maar die genooides was dit nie waardig nie. Gaan dan uit na die kruispaaie en nooi soveel mense na die bruilofsfees as wat julle kan vind.’ Toe het daardie slawe uitgegaan na die paaie en almal bymekaargemaak wat hulle teëgekom het, slegtes sowel as goeies. En die bruilofsaal het vol gaste geword. Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar 'n man sonder 'n bruilofskleed aan. En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.” Toe het die •Fariseërs gegaan en 'n plan beraam om Hom in 'n strik te laat beland oor wat Hy sê. Hulle stuur toe hulle dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: “Meester, ons weet dat u opreg is en God se weg waarheidsgetrou leer en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie. Sê dan vir ons wat is u opinie: Is dit toelaatbaar om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Omdat Jesus egter hulle bose bedoeling geken het, het Hy gesê: “Waarom toets julle My, julle skynheiliges? Wys vir My die munt waarmee julle belasting betaal.” Hulle het vir Hom 'n denarius gebring. Hy vra hulle toe: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” En hulle sê vir Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Hy vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas. Hulle het Hom daar agtergelaat en weggegaan.
MATTEUS 22:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus antwoord en spreek weer met hulle deur gelykenisse en sê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n sekere koning wat vir sy seun 'n huwelik gesluit het, En hy het sy dienaars uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur en gesê: Sê vir die genooides: Kyk, ek het my maaltyd voorberei: my osse en my vetgemaakte diere is geslag, en alles is gereed; kom na die bruilof. Maar hulle het dit gering gemaak en gegaan, die een na sy plaas, die ander na sy koopware. En die oorblyfsel het sy dienaars geneem en hulle kwaadwillig gesmeek en hulle gedood. Maar toe die koning dit hoor, was hy kwaad; en hy het sy leërs uitgestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad verbrand. Toe sê Hy vir sy dienaars: Die bruilof is gereed, maar die genooides was dit nie waardig nie. Gaan dan op die grootpaaie, en almal as wat julle sal vind, bid vir die huwelik. Daardie dienaars het toe uitgegaan op die grootpaaie en almal bymekaargemaak wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilof was toegerus met gaste. En toe die koning inkom om die gaste te sien, sien hy daar 'n man wat nie 'n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed? En hy was sprakeloos. Toe sê die koning vir die dienaars: Bind hom hande en voete en neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min is uitverkies. Toe het die Fariseërs gegaan en raad gehou hoe hulle Hom in sy toespraak kon verstrik. En hulle het hulle dissipels saam met die Herodiane na Hom uitgestuur en gesê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer, en dat U vir niemand omgee nie, want U ag die persoon van mense nie. Sê dan vir ons: Wat dink jy? Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te gee, of nie? Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: Waarom versoek julle My, geveinsdes? Wys my die eerbewysgeld. En hulle het vir hom 'n penning gebring. En Hy sê vir hulle: Wie s'n is hierdie beeld en opskrif? Hulle sê vir hom: Die keiser s'n. Toe sê Hy vir hulle: Gee dan aan die keiser wat die keiser toekom; en aan God die dinge wat God toekom. Toe hulle hierdie woorde hoor, was hulle verwonderd en het hom verlaat en weggegaan.
MATTEUS 22:1-22 Die Boodskap (DB)
Jesus gesels toe daarna rustig verder: “Julle stel seker belang in hoe God in hierdie wêreld heers? Luister dan hierna: ’n koning het vir sy seun ’n groot troue gereël. Hy het baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was en die fees sommer ’n paar dae sou aanhou, het die koning gesê hy sal die mense kom roep sodra alles gereed is. Dan hoef hulle nie daar te kom sit en wag terwyl alles nog voorberei word nie. Toe alles mooi reg was, stuur die koning van sy helpers om die gaste te gaan haal. Snaaks genoeg wou die genooides toe nie meer kom nie. Die koning laat weet die genooides toe weer: ‘Kom, die tafels is gelaai met die heerlikste kos. Alles is reg. Laat die fees begin!’ Die genooides het egter hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie. Die een het gaan kyk hoe sy boerdery vorder en die ander een is werk toe. Party was so ongeduldig met die helpers wat so aanhoudend kom klop het dat hulle hulle sommer hardhandig verwilder het. Glo dit as jy wil, hulle het die helpers so seergemaak dat van hulle dood is. “Dit moes hulle nie gedoen het nie. Die koning was briesend! Hy stuur daarop sy soldate om die spul ongemanierde moordenaars te gaan soek en dood te maak. Sy soldate het dit gedoen en alles wat aan hierdie mense behoort het tot op die grond afgebrand. “Toe sê die koning vir sy helpers: ‘Kom ons probeer weer. Alles is mos reg vir die fees om te begin. Net jammer die genooides was ’n hoop nikswerds. Gaan nooi nou almal uit wat julle in die hande kry. Dit maak nie saak waar hulle is nie.’ Die helpers is daar weg en het almal voor die voet genooi. Die feessaal het begin vol loop. Die fees kon begin. “Die slawe het ook vir elkeen wat fees toe gekom het mooi klere gegee om aan te trek. Dit het gewys dat hulle nou gaste van die koning is. Toe die koning die saal inkom, val sy oog egter op iemand wat nie sulke feesklere aanhet nie. Die man wou natuurlik daar buite nie erken dat hy die uitnodiging nie wou aanneem en vriende met die koning wou wees nie. Tog het hy skelm by die fees ingeglip. Die koning vra hom toe: ‘Ou maat, wat soek jy hier? Jy het seker gedink jy kan skelm hier inkom, want as jy saam met my helpers hiernatoe gekom het, sou hulle vir jou ook mooi klere gegee het. Toe hulle jou daar buite uitgenooi het, het jy natuurlik gemaak of jy jou nie aan hulle steur nie, nie waar nie?’ Die man was vas; hy het nie geweet wat om te sê nie. Die koning sê toe vir sy helpers: ‘Gooi hierdie man hier uit! Raak daar buite in die donker van hom ontslae. In die hel sal hy voel wat dit beteken om van pyn op jou tande te kners.’ “Onthou, baie sal die uitnodiging hoor, maar nie naastenby almal sal die hemelse fees haal nie.” Die Joodse godsdienstige leiers het daarna koppe bymekaar gaan sit. Hulle wou so graag hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring. Hulle het saam beplan hoe hulle dit sou regkry. Hulle het besluit om Hom met ’n moeilike politieke saak in ’n strik te laat trap. Daarom het hulle ondersteuners van Herodes, die koning van die gebied, saamgevat toe hulle met Jesus gaan praat het. Toe hulle by Jesus kom, stel hulle hulle plan in werking. Hulle het met die heuningkwas begin: “Meneer, jy is ’n goeie onderwyser. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien jy soek nie gewildheid nie, maar net die waarheid. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie.” Daarna kom hulle met die angel: “Maar sê nou vir ons, dink jy dit is reg dat ons so baie belasting aan die keiser moet betaal?” Die keiser was immers ’n koning van ’n vreemde land wat hulle onderdruk het. Jesus was te uitgeslape vir hulle. Hy het deur hulle slinkse plan gesien. Daarom sê Hy vir hulle: “Julle weet so goed soos Ek dat julle My in die moeilikheid wil bring. Maar nogtans gaan Ek julle antwoord. Het iemand miskien vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting moet betaal, asseblief?” Daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke. Vinnig gee iemand vir Hom een. Hy sê toe vir hulle: “Kyk mooi na hierdie geld. Wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle vinnig. “As die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. “Maar onthou, julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.” Hierdie antwoord het die opposisie se plan heeltemal deurmekaargekrap. Hulle het nie geweet wat om te sê nie. So stil-stil is hulle maar daar weg.
MATTEUS 22:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het vir hulle ook nog ander gelykenisse vertel om God se koningsheerskappy uit te beeld. So het Hy byvoorbeeld gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n koning wat ’n bruilofsfees vir sy seun voorberei het. Toe die fees gereed was, het hy sy slawe uitgestuur om die gaste te laat weet dat dit tyd was om te kom, maar hulle wou nie kom nie. Daarop het hy weer ander slawe gestuur met die opdrag: ‘Sê vir die gaste: My feesmaal staan gereed. My beeste en vetmaakvee is klaar geslag. Alles is reg om te begin. Kom na die bruilof!’ “Die genooides het egter net hulle skouers opgetrek en elders heen gegaan, die een na sy boerdery en die ander een na sy besigheid. Die res het die slawe gegryp en mishandel en selfs doodgemaak. “Daarop het die koning woedend geword. Hy het sy weermag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand. Hy sê toe vir sy slawe: ‘Die bruilof is gereed, maar die gaste wat ek genooi het, is hierdie eer onwaardig. Gaan staan nou op die straathoeke en nooi almal wat julle raakloop om die bruilof by te woon.’ “Toe het daardie slawe op die strate uitgegaan en elkeen saamgebring wat hulle kon kry, slegtes sowel as goeies. So het die bruilofsaal vol gaste geword. Toe die koning egter die saal binnekom om die gaste te ontmoet, merk hy iemand op wat sonder bruilofsklere opgedaag het. Daarop sê hy vir die persoon: ‘My vriend, hoe het jy dan sonder die regte klere hier ingekom?’ Maar hy kon geen verskoning aanbied nie. “Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind hierdie vent stewig vas en smyt hom uit in die donker daar buite waar daar bitterlik gehuil en van selfverwyt op die tande gekners sal word.’ Daar is inderdaad baie meer genooides as uitverkorenes.” Die Fariseërs het toe vergadering gaan hou om te bespreek hoe hulle Jesus op ’n verkeerde opmerking sou kon uitvang om as aanklag teen Hom te gebruik. Hulle stuur toe ’n paar van hulle volgelinge saam met ondersteuners van Herodes wat vir Jesus vra: “Leermeester, ons weet hoe eerlik u is. Sonder om doekies om te draai leer u die mense wat God van ons verwag. U ontsien niemand nie, want u laat u nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Sê dan vir ons wat is u standpunt: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Jesus het hulle egter deurgekyk. “Julle skynheiliges,” sê Hy, “julle probeer My uitvang! Wys vir My die Romeinse belastingmunt.” Hulle bring toe vir Hom die muntstuk. “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” vra Hy vir hulle. Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” “Wel,” sê Hy toe, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom.” Jesus se antwoord het hulle stomverbaas gelaat, en hulle het die aftog geblaas.