MATTEUS 22:1-10

MATTEUS 22:1-10 Die Boodskap (DB)

Jesus gesels toe daarna rustig verder: “Julle stel seker belang in hoe God in hierdie wêreld heers? Luister dan hierna: ’n koning het vir sy seun ’n groot troue gereël. Hy het baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was en die fees sommer ’n paar dae sou aanhou, het die koning gesê hy sal die mense kom roep sodra alles gereed is. Dan hoef hulle nie daar te kom sit en wag terwyl alles nog voorberei word nie. Toe alles mooi reg was, stuur die koning van sy helpers om die gaste te gaan haal. Snaaks genoeg wou die genooides toe nie meer kom nie. Die koning laat weet die genooides toe weer: ‘Kom, die tafels is gelaai met die heerlikste kos. Alles is reg. Laat die fees begin!’ Die genooides het egter hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie. Die een het gaan kyk hoe sy boerdery vorder en die ander een is werk toe. Party was so ongeduldig met die helpers wat so aanhoudend kom klop het dat hulle hulle sommer hardhandig verwilder het. Glo dit as jy wil, hulle het die helpers so seergemaak dat van hulle dood is. “Dit moes hulle nie gedoen het nie. Die koning was briesend! Hy stuur daarop sy soldate om die spul ongemanierde moordenaars te gaan soek en dood te maak. Sy soldate het dit gedoen en alles wat aan hierdie mense behoort het tot op die grond afgebrand. “Toe sê die koning vir sy helpers: ‘Kom ons probeer weer. Alles is mos reg vir die fees om te begin. Net jammer die genooides was ’n hoop nikswerds. Gaan nooi nou almal uit wat julle in die hande kry. Dit maak nie saak waar hulle is nie.’ Die helpers is daar weg en het almal voor die voet genooi. Die feessaal het begin vol loop. Die fees kon begin. “Die slawe het ook vir elkeen wat fees toe gekom het mooi klere gegee om aan te trek. Dit het gewys dat hulle nou gaste van die koning is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid