MATTEUS 19:16-30

MATTEUS 19:16-30 Bybel vir almal (ABA)

Iemand het na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Meneer, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te kry?” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom vra jy vir My wat is goed? Daar is net Een wat goed is, en dit is God. Maar as jy die ewige lewe wil kry, dan moet jy gehoorsaam wees aan God se wette.” Die man sê toe: “Watter wette?” Jesus het vir hom gesê: “ Jy mag nie iemand doodmaak nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer,” en “ jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” Die jongman sê toe vir Jesus: “Ek het alles gedoen wat God se wette sê. Wat moet ek nóg doen?” Jesus het vir hom gesê: “As jy waarlik alles wil doen wat God se wette sê, dan moet jy alles gaan verkoop wat jy het en jy moet die geld vir die arm mense gee. As jy dit doen, dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Toe die jongman hoor wat Jesus sê, was hy baie hartseer en hy het weggegaan, want hy was baie ryk. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Dit sal baie moeilik wees vir 'n ryk mens om in te kom waar God Koning is, God wat in die hemel is. Ek sê dit weer vir julle: 'n Ryk mens sal moeilik inkom waar God Koning is, God wat in die hemel is. 'n Kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Toe die dissipels dit hoor, was hulle verbaas en hulle het gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk en Hy het vir hulle gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.” Petrus het geantwoord en vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U. Wat sal ons kry?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Daar sal 'n dag kom wanneer God die wêreld en alles nuut sal maak, en Ek, die Seun van die mens, sal dan op my troon sit en Ek sal Koning wees. Dan sal julle wat saam met My gaan, op twaalf trone sit en julle sal regeer oor die twaalf stamme van Israel. En elkeen wat sy huis los of sy broers of sy susters of sy pa of sy ma of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, elkeen wat dit doen omdat hy gehoorsaam is aan My, sal baie meer kry. Hy sal die ewige lewe kry. Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”

MATTEUS 19:16-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê — dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort? Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My. Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad. En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat 'n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

MATTEUS 19:16-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” “Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” “Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?” Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: 'n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry. “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

MATTEUS 19:16-30 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag het ’n jongman vir Jesus kom sê: “Goeie Leermeester, U praat so baie oor God se nuwe wêreld. Ek wil ook bitter graag daar ’n plek kry. Sê my, watter goeie dinge moet ek doen sodat ek vir altyd daar kan gaan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, laat Ek jou vraag beantwoord. As jy vir altyd in God se nuwe wêreld wil bly, moet jy sy voorskrifte gehoorsaam. So eenvoudig is dit.” “Watter voorskrifte?” het die man gevra. “Die volgende,” antwoord Jesus. “Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie leuens vertel nie; jy moet respek vir jou pa en ma hê; en jy moet net soveel vir jou medemens omgee as vir jouself.” “Ag wat, ek doen daardie dinge al van kleins af,” sê die jongman toe. “Miskien is daar nog so ’n klein ietsie ekstra wat ek dalk kan doen, net om honderd persent seker te maak dat ek by God uitkom. Sê my, asseblief.” Hierop sê Jesus: “Nou goed. As jy God se voorskrifte een honderd persent wil hou, moet jy al jou besittings verkoop. Gee dan al daardie geld vir die armes. Los alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit alles doen, het jy vir jouself ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.” Jesus se woorde het die jongman baie omgekrap. Dit was die laaste woorde wat hy wou hoor, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om sy besittings aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Die jongman het toe dikmond omgedraai en weggestap. Terwyl Jesus die man agterna kyk, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se wêreld te kry nie. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om in God se nuwe wêreld te kom.” Jesus se woorde het die dissipels se voete onder hulle uitgeslaan. Verbysterd vra hulle Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word? Hoe sal iemand ooit ’n plek in God se wêreld kry?” Jesus het hulle stip aangekyk. Toe sê Hy vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. As julle op Hom vertrou, sal Hy sorg dat julle wel in sy wêreld inkom.” Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Nou moet U reguit vir ons sê wat ons dissipels se kans is om daar in te kom. Kyk, ons het al ons besittings weggegee en u volgelinge geword.” “Ek het baie goeie nuus vir julle,” antwoord Jesus. “Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal Ek as die Seun van die mens daar as Koning regeer. Ek self sal sorg dat julle die heel beste plekke daar kry. Julle sal soos konings op twaalf trone gaan sit en oor almal in Israel oordeel. “Maar Ek het ook goeie nuus vir al die ander mense wat baie dinge moes opoffer om my volgelinge te word. Party moes ’n huis of ’n familielid of ’n goeie werk prysgee. Hulle sal 100 maal daarvoor vergoed word, sommer nou al. Hulle sal elke dag God se goedheid ervaar. En hulle sal definitief ook ’n plek in my Vader se nuwe wêreld kry. “Mense wat nou hier op aarde baie belangrik is, sal glad nie ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat egter nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar belangrik wees.”

MATTEUS 19:16-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.” Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?” Jesus het geantwoord: “‘Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie ontrou wees in jou huwelik nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie onwaar getuienis aflê nie; respekteer jou pa en ma; jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” “Ek het al hierdie gebooie nagekom,” antwoord die jong man, “wat moet ek nóg doen?” Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my dissipel.” Toe die jong man dít hoor, het hy geskok weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Ek verseker julle dit is bitter moeilik vir ’n ryke om in God se koninkryk in te gaan. Ek wil dit beklemtoon, dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te gaan as wat dit vir ’n ryke is om in God se koninkryk in te gaan.” Toe hulle dit hoor, was die dissipels totaal verbysterd. “As dit so is, wie kan dan hoegenaamd verlos word?” het hulle gevra. Daarop het Jesus hulle aandagtig aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is alles moontlik!” Toe sê Petrus vir Hom: “Ons het alles opgegee om u dissipels te word. Wat sal ons daaruit kry?” Jesus se antwoord was: “Ek verseker julle dat wanneer Ek, die Seun van die Mens, in God se nuwe wêreld op my heerlike troon sal sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en julle sal regspreek oor die twaalf stamme van Israel. En elkeen wat ’n huis om my ontwil opgegee het, of broers of susters of ’n pa of ’n ma of kinders of grond – hy sal honderd maal soveel terugontvang en boonop die ewige lewe verkry. “Maar baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid