Slaan direk na inhoud oor

MATTEUS 18:32-35 – Vergelyk alle weergawes

MATTEUS 18:32-35 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’ Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het. “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

MATTEUS 18:32-35 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.

MATTEUS 18:32-35 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. Moes jy jou nie ook oor jou medeamptenaar ontferm het soos ek my oor jou ontferm het nie?’ Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe.”

MATTEUS 18:32-35 DB (Die Boodskap)

“Die koning het die amptenaar toe dadelik ontbied en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Ek het so pas jou skuld van twintig miljoen rand afgeskryf omdat jy my om genade gesmeek het. Moes dit jou nie beweeg het om dieselfde vir daardie ander amptenaar te doen toe hy op sy knieë voor jou kom staan het nie?’ Die koning was so kwaad dat hy die amptenaar daar en dan tronk toe gestuur het waar hy gemartel is. “My Vader in die hemel sal net soos hierdie koning met julle maak as julle weier om mekaar van harte te vergewe.”

MATTEUS 18:32-35 ABA (Bybel vir almal)

Toe roep die koning die eerste amptenaar en sê vir hom: ‘Jy is 'n slegte amptenaar! Jy het gesoebat en ek het gesê jy mag die geld hou, dit is nie nodig dat jy daardie skuld betaal nie. Jy moes ook jammer gewees het vir die ander amptenaar, soos ek jammer was vir jou.’ Die koning was baie kwaad. Hy het die amptenaar vir die tronkbewaarders gegee. Hulle moes aanhou om hom te slaan totdat hy alles betaal het wat hy skuld. My Vader in die hemel sal dieselfde doen met julle as julle nie mekaar wil vergewe nie. Julle moet dit doen met julle hele hart.”

MATTEUS 18:32-35 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daarop ontbied sy heer hom en sê vir hom, ‘Jou slegte slaaf! Al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. Moes jy nie ook jou medeslaaf begenadig soos ek jou begenadig het nie?’ En sy heer het kwaad geword en hom aan die folteraars oorgegee totdat hy al die skuld sou terugbetaal. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

MATTEUS 18:32-35 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe sê sy heer, nadat hy hom geroep het, vir hom: O slegte dienskneg, ek het jou al daardie skuld kwytgeskeld, omdat jy my begeer het. Moes jy nie ook medelye gehad het met jou mededienskneg, net soos Ek my oor jou ontferm het nie? En sy heer was toornig en het hom aan die pynigers oorgegee totdat hy alles betaal het wat hom toekom. So sal my hemelse Vader ook aan julle doen as julle nie elkeen sy broer sy oortredinge van harte vergewe nie.