MATTEUS 16:21-28
MATTEUS 16:21-28 Bybel vir almal (ABA)
Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat Hy na Jerusalem moet gaan en dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe. Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom begin raas. Petrus het gesê: “Here, ek bid dat God dit sal keer, dit sal nooit met U gebeur nie!” Jesus het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy wil hê Ek moet verkeerd doen. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet dat hy aan 'n kruis sal sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe? Want Ek, die Seun van die mens, sal gou saam met die engele kom om Koning te wees soos my Vader Koning is. Dan sal Ek elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat Ek, die Seun van die mens, kom om Koning te wees. Hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”
MATTEUS 16:21-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense. TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.
MATTEUS 16:21-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe? Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”
MATTEUS 16:21-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van toe af het Jesus begin om aan sy dissipels duidelik te maak dat Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners, en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word. •Petrus het Hom eenkant geneem en Hom begin teregwys: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit 'n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy lewe? Want die •Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom, beklee met die heerlikheid van sy Vader, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens wat hy gedoen het. •Amen, Ek sê vir julle, sommige van dié wat hier staan, sal die dood beslis nie smaak voordat hulle die Seun van die Mens in sy koningsheerskappy sien kom het nie. ”
MATTEUS 16:21-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Van daardie tyd af het Jesus begin om aan sy dissipels te wys hoe Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes, en gedood word en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom en begin Hom te bestraf en sê: Laat dit ver van U wees, Here, dit sal U nie oorkom nie. Maar hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter my, Satan! Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, laat hom homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; en elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat 'n mens as hy die hele wêreld win en sy eie siel skade ly? of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy siel? Want die Seun van die mens sal kom in die heerlikheid van sy Vader met sy engele; en dan sal hy elkeen beloon volgens sy werke. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige wat hier staan, wat die dood nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.
MATTEUS 16:21-28 Die Boodskap (DB)
Jesus het van toe af begin om vir sy dissipels te verduidelik waarom Hy regtig Jerusalem toe moes gaan. Hy het gesê dat Hy in die hande sou val van al die godsdienstige leiers en skrifkenners van die volk en dat hulle Hom baie sou laat ly. Uiteindelik sou Hy doodgemaak word. Op die derde dag sou God Hom egter weer lewendig maak. Petrus was baie geskok oor hierdie woorde. Hy het Jesus eenkant toe geneem en gesê: “Nooit aste nimmer nie! God sal mos nie toelaat dat so iets met U gebeur nie.” Jesus het egter vir Petrus waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Gee pad van my af, Satan! Dit is Satan self wat nou deur jou praat. Daarom probeer jy God se plan dwarsboom. Jy is nie aan sy kant nie, maar aan die kant van die mense.” Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jou eers die volgende vraag af: Wat help dit as jy die hele wêreld aan jou voete het, maar jy kry nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg? “Ek wil julle ook waarsku: Ek, die Seun van die mens, sal binnekort met my engele terugkeer na die wêreld toe. Al die Goddelike heerlikheid van my Vader sal My op daardie dag omring. Dan gaan Ek elke mens se beloning vir hom uitdeel. Ek gaan kyk hoe almal geleef het en vir elkeen gee wat hy verdien. “Ek het egter goeie nuus vir julle: party van julle wat nou na My luister, sal beslis nie doodgaan voordat julle met julle eie oë gesien het hoe Ek op die toneel verskyn nie. Julle sal sien hoe God se nuwe wêreld aanbreek.”
MATTEUS 16:21-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners, en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag opwek. Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!” Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: “Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.” Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. Ek, die Seun van die Mens, sal inderdaad kom, vergesel van God se engele. Ek sal met die heerlikheid van my Vader beklee wees, en Ek sal almal oordeel volgens hulle dade. Dít verseker Ek julle, sommige van julle wat hier staan, sal nie sterf voordat julle sal sien hoe Ek, die Seun van die Mens, kom en regeer in my koninkryk nie.”