MATTEUS 16:13-19
MATTEUS 16:13-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.
MATTEUS 16:13-19 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het na plekke naby die stad Sesarea-Filippi gegaan. Hy vra toe vir sy dissipels: “Wat sê die mense, wie is Ek, die Seun van die mens?” Die dissipels sê toe: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party sê U is Elia, en party sê U is Jeremia of een van die profete.” Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê julle? Wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die God wat lewe.” Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Simon seun van Jona, God sal jou seën. Dit is nie 'n mens wat vir jou gehelp het om dit te weet nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, die rots, en Ek sal my kerk op hierdie rots bou. Vyande sal my kerk nie oorwin nie, die dood sal dit ook nie doen nie. Ek gee vir jou die sleutels van my huis. Jy sal oopsluit en jy sal toesluit. Jy sal vir mense leer dat God Koning is oor hulle. Almal wat nie by jou die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom.”
MATTEUS 16:13-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.
MATTEUS 16:13-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”
MATTEUS 16:13-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus in die gebied van Caesarea-Filippi kom, het Hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die •Seun van die Mens?” Hulle het geantwoord: “Sommige sê Johannes die Doper, ander Elia, en ander weer Jeremia, of een van die profete.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die •Christus, die •Seun van die lewende God.” Jesus antwoord hom: “Gelukkig is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou bekend gemaak nie, maar my Vader in die hemele. En Ek sê vir jou, jy is •Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Ek sal vir jou die sleutels van die •koninkryk van die hemele gee, en wat jy ook al op aarde toesluit, sal in die hemele toegesluit wees, en wat jy ook al op aarde vrylaat, sal in die hemele vrygelaat wees. ”
MATTEUS 16:13-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Jesus in die gebied van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense is Ek, die Seun van die mens? En hulle sê: Sommige sê dat jy Johannes die Doper is; en ander, Jeremias, of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. En Jesus antwoord en sê vir hom: Geseënd is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou, dat jy Petrus is, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy ook al op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees; en wat jy ook al op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.
MATTEUS 16:13-19 Die Boodskap (DB)
Toe Jesus op ’n dag naby die stad Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê U is Johannes die Doper wat weer lewendig geword het. Ander sê weer Elia. Nog ander sê U is Jeremia of een van die profete.” Jesus vra hulle toe trompop: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?” Simon Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.” Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak. “Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is. Jy is Petrus, die rots. Op hierdie rots sal Ek my kerk bou. Hierdie belydenis is so groot dat selfs nie eens die grootste magte van die hel sterk genoeg is om dit stil te maak nie. “Ek gaan ook vir jou die sleutels van God se nuwe wêreld gee. Jy kan nou die pad daarheen vir ander mense oopsluit en toesluit. Jy moet in my Naam vir mense sê hoe om daar te kom. Op hierdie manier sluit jy dan die deur na God se koninkryk vir hulle oop. Wanneer hulle nie na jou wil luister nie, moet jy vir hulle sê dat God se oordeel op hulle rus. So sluit jy dan die deur soontoe vir hulle toe.”
MATTEUS 16:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jesus in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” “Wel,” antwoord hulle, “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.” Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie. Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.’”