MATTEUS 13:37-43
MATTEUS 13:37-43 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “Die Persoon wat die goeie saad saai, is Ek, die Seun van die mens. Die koringland is die wêreld. Die goeie saad is die goeie mense, God regeer oor hulle. Die onkruid is die slegte mense, die slegte een, die duiwel, regeer oor hulle. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die tyd wanneer die koring ryp is en die werkers dit afsny, is die tyd wanneer dit die einde van die wêreld sal wees. Die werkers wat die koring-oes bymekaarmaak, is die engele. Hulle maak die onkruid bymekaar en gooi dit in die vuur. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die Seun van die mens sal dan sy engele stuur, en hulle sal die sondaars bymekaarmaak en wegvat daar waar God regeer. Hulle sal die mense wegvat wat ander mense verlei het om sonde te doen en die mense wat nie gedoen het wat God se wette sê nie. Die engele sal al daardie sondaars in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hulle sal hard op hulle tande byt van pyn. Dan sal die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, blink soos die son. Hulle sal daar wees waar hulle Vader Koning is. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!”
MATTEUS 13:37-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
MATTEUS 13:37-43 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele. “Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. “Wie ore het, moet luister.”
MATTEUS 13:37-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het geantwoord: “Die een wat die goeie saad saai, is die •Seun van die Mens; die saailand is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die •koninkryk; die drabok is die kinders van die Bose; die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel; die oes is die voleinding van die tyd; en dié wat oes, is engele. Net soos die drabok dan bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, so sal dit wees by die voleinding van die tyd. Die Seun van die Mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk al die struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf, bymekaarmaak en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Dan sal die •regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister! ”
MATTEUS 13:37-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy antwoord en sê vir hulle: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens; Die veld is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die koninkryk; maar die onkruid is die kinders van die Bose; Die vyand wat hulle gesaai het, is die duiwel; die oes is die einde van die wêreld; en die maaiers is die engele. Daarom word die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand; so sal dit wees aan die einde van hierdie wêreld. Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk versamel alle dinge wat aanstoot gee en die wat ongeregtigheid doen; en sal hulle in 'n vuuroond gooi: daar sal 'n geween en gekners van die tande wees. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
MATTEUS 13:37-43 Die Boodskap (DB)
Jesus het begin verduidelik: “Die boer wat die skoon saad saai, is die Seun. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier. “Neem hierdie dinge ernstig op. “Luister mooi na wat Ek sê.”
MATTEUS 13:37-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort. Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele. “Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”