MATTEUS 13:31-32
MATTEUS 13:31-32 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n mosterd-saad in sy grond geplant het. Dit is die kleinste saadjie van al die soorte saad, maar wanneer die plantjie klaar gegroei het, dan is dit groter as die ander plante in die tuin en dit word 'n boom. Dan kom die voëls en hulle maak neste in die boom se takke.”
MATTEUS 13:31-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.
MATTEUS 13:31-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”
MATTEUS 13:31-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. ”
MATTEUS 13:31-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man geneem en in sy land gesaai het. Dit is wel die minste van al die saad, maar as dit gegroei het, is dit die grootste onder die kruie en word 'n boom, sodat die voëls van die hemel kom en vernag in die takke daarvan.
MATTEUS 13:31-32 Die Boodskap (DB)
Jesus het voortgegaan met nog ’n verhaal: “God se nuwe wêreld kan met ’n baie klein saadjie, ’n mosterdsaadjie, vergelyk word. Iemand vat daardie klein saadjie en plant dit buite. Uit hierdie piepklein saadjie groei so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dit is so groot dat voëls selfs daarin nes kan maak.”
MATTEUS 13:31-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier is nog ’n gelykenis wat Hy vir hulle vertel het: “God se koningsheerskappy is soos ’n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ’n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak.”