MATTEUS 13:24-30
MATTEUS 13:24-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: 'n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
MATTEUS 13:24-30 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ”
MATTEUS 13:24-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ ‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”
MATTEUS 13:24-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ”
MATTEUS 13:24-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel en gesê: Die koninkryk van die hemele is vergelykbaar met 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het. Maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en weggegaan. Maar toe die lem opgespring en vrugte gedra het, het die onkruid ook verskyn. Toe kom die dienaars van die huisheer en sê vir hom: Meneer, het u nie goeie saad in u land gesaai nie? waar kom dit dan onkruid vandaan? Hy sê vir hulle: 'n Vyand het dit gedoen. Die dienaars sê vir hom: Wil jy dan dat ons hulle gaan bymekaarmaak? Maar hy sê: Nee! dat julle nie, terwyl julle die onkruid bymekaarmaak, ook die koring daarmee uitroei nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe; en in die tyd van die oes sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand; maar bring die koring bymekaar in my skuur.
MATTEUS 13:24-30 Die Boodskap (DB)
“Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’ Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’ “‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’”
MATTEUS 13:24-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ “‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. “‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. “Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’”