MATTEUS 13:2-7
MATTEUS 13:2-7 Bybel vir almal (ABA)
Baie mense het na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim en Hy het daarin gaan sit. Al die mense het op die strand gestaan. Jesus het vir hulle baie dinge geleer, Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. Toe hy die saad gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het daardie saad opgepik. “Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie. “Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei.
MATTEUS 13:2-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in 'n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: 'n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val 'n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. En 'n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.
MATTEUS 13:2-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: “'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. 'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik.
MATTEUS 13:2-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Groot skare het om Hom saamgedrom, sodat Hy in die boot geklim het om daar te gaan sit. Die hele skare het op die strand bly staan. Hy het dikwels met hulle deur gelykenisse gepraat. Hy het gesê: “Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. Ander saad, weer, het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei; omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. Ander saad weer het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.
MATTEUS 13:2-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En groot menigtes het by hom vergader, sodat hy in 'n skuit geklim en gaan sit het; en die hele menigte het op die strand gestaan. En Hy het baie dinge in gelykenisse met hulle gespreek en gesê: Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai; En toe hy saai, het van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgeëet. Sommige het op klipperige plekke geval waar hulle nie baie grond gehad het nie, en dadelik het hulle opgeskiet, omdat hulle geen diepte van die aarde gehad het nie. En toe die son op was, is hulle verskroei; en omdat hulle geen wortel gehad het nie, het hulle verdor. En sommige het tussen die dorings geval; en die dorings het opgespring en dit verstik.
MATTEUS 13:2-7 Die Boodskap (DB)
Daar was so baie mense saam met Hom dat Hy in ’n bootjie moes klim sodat almal Hom kon sien. Die mense het op die wal bly staan. Jesus was lief om verhale in sy preke te gebruik om so sy boodskap vir die mense duideliker te maak. Met die bootjie as sy kansel het Hy begin preek: “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooi het van die saadjies op die voetpad deur die land geval. Die voëls was dadelik by en gou was daar niks van hierdie saad meer oor nie. Van die ander saad het op die groot rotse in die land geval. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie wortels maak in die vlak grond nie. Daarom kon die plantjies nie grootword nie. Die son het hulle gou doodgebrand. Van die saad het ook tussen lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk.
MATTEUS 13:2-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Groot klomp mense het rondom Hom saamgedrom. Gevolglik was Hy verplig om in ’n skuit te klim en daarin te gaan sit om die mense te onderrig. Hulle het almal op die strand bly staan om na Hom te luister. Hy het vir hulle baie ge-lykenisse vertel, soos die volgende een: “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik.