MATTEUS 13:11-13
MATTEUS 13:11-13 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy wat in die hemel is, die Koning is en dat Hy regeer. Maar God het die ander mense nie gehelp om dit te verstaan nie. As iemand hierdie geheim net 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om dit nog beter te verstaan. Dan sal hy dit baie goed verstaan. Maar as iemand hierdie geheim nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie. Ek vertel vir die mense gelykenisse, want hulle kyk, maar hulle sien niks. Hulle hoor, maar hulle verstaan nie wat hulle hoor nie.
MATTEUS 13:11-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.
MATTEUS 13:11-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie.
MATTEUS 13:11-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het hulle geantwoord: “Omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die •koninkryk van die hemele te verstaan; maar vir daardie mense is dit nie gegee nie. Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; maar van wie nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Daarom praat Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie.
MATTEUS 13:11-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy antwoord en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want elkeen wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal meer oorvloed hê; maar elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word selfs wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle in gelykenisse, omdat hulle siende nie sien nie; en terwyl hulle hoor, hoor hulle nie en verstaan hulle nie.
MATTEUS 13:11-13 Die Boodskap (DB)
“As julle mooi na my verhale luister, sal julle baie oor God se mag in hierdie wêreld leer. Julle sal dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg kan verstaan. “Maar wie die verhale nie met die oog op my boodskap wil verstaan nie, sal nooit weet wat dit beteken nie. Hoe meer julle van God se nuwe wêreld verstaan, hoe duideliker sal die verhale vir julle word. Hoe duideliker dit word, hoe meer sal julle van God se nuwe wêreld verstaan. Vir mense wat egter nie die verhale wil verstaan soos Ek dit bedoel nie, sal dit net leë stories bly. Daarom vertel Ek vir hulle verhale. Mense wat nie my boodskap wil hoor nie, sal hier rondstaan en nie ’n woord begryp van wat hier aangaan nie. Mense wat nie wil aanvaar dat God hier en nou werk nie, sal niks verstaan van wat besig is om te gebeur nie.
MATTEUS 13:11-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy antwoord hulle toe: “Omdat julle bevoorreg word om die geheime van God se koningsheerskappy te verstaan. Húlle word nie so bevoorreg nie. Hulle wat reeds verstaan, vir hulle sal nog meer gegee word en hulle sal oorvloedige kennis hê. Maar hulle wat nie insig het nie, van hulle sal ook nog die bietjie weggeneem word wat hulle wel verstaan. Ek praat met hulle by wyse van gelykenisse, want hulle kyk en tog sien hulle nie, en hulle hoor, maar tog luister en verstaan hulle nie.