MATTEUS 11:2-11

MATTEUS 11:2-11 Bybel vir almal (ABA)

Johannes die Doper was toe in die tronk en hy het gehoor wat Christus alles gedoen het. Johannes het 'n paar van sy dissipels na Jesus toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir 'n ander Een wag?” Jesus het vir hulle gesê: “Gaan terug na Johannes toe en vertel vir hom wat julle gehoor en gesien het. Sê vir hom: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is. En God sal mense seën wat nie twyfel nie en wat aanhou om in My te glo.” Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets van Johannes vertel. Jesus vra toe vir hulle: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos 'n riet in die wind heen en weer waai? Nee! Het julle gedink julle sal 'n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee! Die mense wat mooi en duur klere dra, woon in konings se paleise. Maar wat wou julle gaan sien? 'n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as 'n profeet gesien. God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het: “ Kyk, Ek stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en die pad gereedmaak vir jou. “Ek sê vir julle, en dit is seker: Niemand is belangriker as Johannes die Doper nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar waar God is, die Koning wat in die hemel is, daar is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes die Doper.

MATTEUS 11:2-11 Die Boodskap (DB)

Johannes was egter nie heeltemal seker wat besig was om te gebeur nie. Nuuskierig stuur hy toe van sy vriende na Jesus toe: “Is U regtig die Messias op wie ons gewag het?” vra hulle. “Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie ’n fout maak en dalk vir ’n verkeerde een wag nie.” Jesus het nie met ’n eenvoudige ja of nee geantwoord nie. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my preke en kyk wat Ek alles doen. Gaan dan na Johannes toe en vertel hom: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat nooit kon loop nie, stap nou tussen ons rond; mense wat uit die dorpe gejaag is omdat hulle melaats was, staan nou weer in die tempel, heeltemal gesond; dowes hoor; mense wat dood was, leef, en mense op wie almal neersien, hoor nou skielik dat hulle vir God baie besonders is. “Gelukkig is hy wat nie begin twyfel of Ek regtig die Messias is nie.” Johannes se volgelinge is toe daar weg. Intussen het Jesus egter met die groep mense om Hom verder oor Johannes gesels. “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? ’n Opportunis wat niks beteken nie? Nee! Of dalk ’n ryk man in ’n duur pak klere? Ag nee, julle weet mos sulke mense bly nie in die woestyn nie, maar sit gemaklik in groot huise. Ek vra weer, wat het julle verwag om te sien? As julle ’n boodskapper van God verwag het, is julle heeltemal reg. Johannes is regtig so ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die belangrikste profeet wat daar ooit was. Die woorde van Maleagi is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om almal te vertel dat jy kom; so sal hy alles en almal voorberei om dit vir jou makliker te maak.’ “Laat Ek verduidelik: in die geskiedenis was daar nie ’n belangriker man as Johannes nie. Tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei, belangriker as hy.