MATTEUS 11:1-11
MATTEUS 11:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus klaar met sy twaalf dissipels gepraat het en vir hulle gesê het wat hulle moet doen, het Hy van daar na die stede in Galilea gegaan om vir die mense te leer en vir hulle te preek. Johannes die Doper was toe in die tronk en hy het gehoor wat Christus alles gedoen het. Johannes het 'n paar van sy dissipels na Jesus toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir 'n ander Een wag?” Jesus het vir hulle gesê: “Gaan terug na Johannes toe en vertel vir hom wat julle gehoor en gesien het. Sê vir hom: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is. En God sal mense seën wat nie twyfel nie en wat aanhou om in My te glo.” Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets van Johannes vertel. Jesus vra toe vir hulle: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos 'n riet in die wind heen en weer waai? Nee! Het julle gedink julle sal 'n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee! Die mense wat mooi en duur klere dra, woon in konings se paleise. Maar wat wou julle gaan sien? 'n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as 'n profeet gesien. God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het: “ Kyk, Ek stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en die pad gereedmaak vir jou. “Ek sê vir julle, en dit is seker: Niemand is belangriker as Johannes die Doper nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar waar God is, die Koning wat in die hemel is, daar is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes die Doper.
MATTEUS 11:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus klaar was met bevele aan sy twaalf dissipels te gee, het Hy daarvandaan weggegaan om te leer en te preek in hulle stede. En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. En toe hulle vertrek, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as 'n profeet! Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.
MATTEUS 11:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek. Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.” Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry 'n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. Dit is hy van wie daar geskrywe staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’ “Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.
MATTEUS 11:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus sy opdragte aan sy twaalf dissipels voltooi het, het Hy daarvandaan vertrek om in hulle dorpe te leer en te preek. Toe Johannes in die tronk verneem wat Christus alles doen, het hy sy dissipels gestuur om Hom te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: “Blindes sien weer en verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die goeie boodskap verkondig. “En gelukkig is die mens wat nie aan My aanstoot neem nie. ” Met hulle vertrek het Jesus begin om met die skare oor Johannes te praat: “Maar wat wou julle gaan sien toe julle na die woestyn uitgegaan het? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Kyk, mense met deftige klere woon in konings se paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “•Amen, Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie; en tog is die geringste in die •koninkryk van die hemele groter as hy.
MATTEUS 11:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Jesus klaar was met die bevele aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om in hulle stede te leer en te preek. En toe Johannes in die gevangenis die werke van Christus gehoor het, het hy twee van sy dissipels gestuur, En hy sê vir hom: Is U die een wat sou kom, of soek ons 'n ander? Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan wys weer vir Johannes wat julle hoor en sien. Blindes word gesien en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En welgeluksalig is hy elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. En toe hulle weggaan, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te sien? 'n Riet geskud deur die wind? Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Man geklee in sagte klere? kyk, die wat sagte klere dra, is in koningshuise. Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? ja, Ek sê vir julle, en meer as 'n profeet. Want dit is hy van wie geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou aangesig, wat jou weg voor jou sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het geen groter as Johannes die Doper opgestaan nie; maar die minste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.
MATTEUS 11:1-11 Die Boodskap (DB)
Johannes was toe al klaar in die tronk. Selfs daar in die tronk was die mense aan die praat oor Jesus en sy preke. Johannes was egter nie heeltemal seker wat besig was om te gebeur nie. Nuuskierig stuur hy toe van sy vriende na Jesus toe: “Is U regtig die Messias op wie ons gewag het?” vra hulle. “Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie ’n fout maak en dalk vir ’n verkeerde een wag nie.” Jesus het nie met ’n eenvoudige ja of nee geantwoord nie. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my preke en kyk wat Ek alles doen. Gaan dan na Johannes toe en vertel hom: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat nooit kon loop nie, stap nou tussen ons rond; mense wat uit die dorpe gejaag is omdat hulle melaats was, staan nou weer in die tempel, heeltemal gesond; dowes hoor; mense wat dood was, leef, en mense op wie almal neersien, hoor nou skielik dat hulle vir God baie besonders is. “Gelukkig is hy wat nie begin twyfel of Ek regtig die Messias is nie.” Johannes se volgelinge is toe daar weg. Intussen het Jesus egter met die groep mense om Hom verder oor Johannes gesels. “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? ’n Opportunis wat niks beteken nie? Nee! Of dalk ’n ryk man in ’n duur pak klere? Ag nee, julle weet mos sulke mense bly nie in die woestyn nie, maar sit gemaklik in groot huise. Ek vra weer, wat het julle verwag om te sien? As julle ’n boodskapper van God verwag het, is julle heeltemal reg. Johannes is regtig so ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die belangrikste profeet wat daar ooit was. Die woorde van Maleagi is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om almal te vertel dat jy kom; so sal hy alles en almal voorberei om dit vir jou makliker te maak.’ “Laat Ek verduidelik: in die geskiedenis was daar nie ’n belangriker man as Johannes nie. Tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei, belangriker as hy.
MATTEUS 11:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Jesus hierdie instruksies aan sy twaalf dissipels gegee het, het Hy daarvandaan vertrek om in die dorpe van Galilea onderrig te gee en te preek. Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra: “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?” Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien – blindes sien en verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word gesond en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus. En sê vir hom: ‘Gelukkig is elkeen vir wie Ek nie ’n struikelblok is nie.’” Ná hulle vertrek het Jesus met die skare oor Johannes begin praat. “Wat het julle verwag toe julle uitgegaan het om hierdie man in die woestyn te gaan sien? Tog seker nie iemand wat soos ’n riet deur die wind heen en weer gewaai word nie? Tog seker ook nie iemand wat in weelderige klere uitgevat is nie? Die mense wat so aantrek, woon immers in paleise, nie in die woestyn nie. Het julle nie veel eerder uitgegaan omdat julle ’n profeet verwag het nie? Natuurlik! Ek verseker julle, hy was selfs meer as ’n profeet. Dit is hý van wie in die Skrif geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou gereedmaak.’ “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy!