MATTEUS 10:34-36
MATTEUS 10:34-36 Bybel vir almal (ABA)
“Julle moenie dink daar sal vrede wees op die aarde omdat Ek gekom het nie. Ek het gekom, maar daar sal nie vrede wees tussen mense nie, hulle sal mekaar se vyande wees. Ek het gekom, en nou sal 'n man teen sy pa wees, 'n dogter teen haar ma, en 'n skoondogter teen haar skoonma. Ja, julle eie familie in julle huise sal julle vyande wees.
MATTEUS 10:34-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen 'n man en sy vader, en tussen 'n dogter en haar moeder, en 'n skoondogter en haar skoonmoeder. En 'n mens se huisgenote sal sy vyande wees.
MATTEUS 10:34-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring “ ‘tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees.’
MATTEUS 10:34-36 Die Boodskap (DB)
“Dit is nie altyd lekker en maklik om ’n Christen te wees nie. Daarom moet jy goed weet wat vir jou die belangrikste is. “Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie. My boodskap maak ook vyande. Mense wat nie met My saamstem nie, sal met My - en met julle - wil baklei. Hulle sal selfs teen ons wil oorlog maak. Dit moet julle besef: die oomblik toe Ek gekom het, het die verhoudings tussen mense gespanne begin raak. Selfs die intiemste verhoudings het begin verkrummel, soos die verhouding tussen ’n seun en sy pa, tussen ’n dogter en haar ma, ’n bruid en haar skoonma. Ja, tot die gesin, waarin mense veronderstel is om mekaar die liefste te hê, sal nie gespaar bly nie. “Julle vra waarom. Wel, dit gaan eintlik oor wie of wat vir jou as Christen die belangrikste is.
MATTEUS 10:34-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie! Nee, Ek het nie vrede gebring nie, maar stryd. Ek het gekom om skeiding te bring tussen ’n man en sy pa en ’n dogter en haar ma, tussen ’n skoondogter en haar skoonma. Selfs ’n mens se eie familie sal jou vyande wees.