MATTEUS 10:1-20
MATTEUS 10:1-20 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het sy twaalf dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle krag gegee om onrein geeste uit mense te jaag en om al die siek mense gesond te maak. Hier is die name van die twaalf apostels: Simon, sy ander naam was Petrus, en sy broer Andreas, Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes, Filippus en Bartolomeus, Tomas en Matteus die tollenaar, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die patriot, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het. Jesus het hierdie twaalf dissipels gestuur om te gaan preek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie gaan na die heidene en moenie gaan na 'n stad van die Samaritane nie. Maar gaan na die mense van Israel, hulle is soos skape wat weggeraak het. Gaan preek vir hulle en sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet dat God wat in die hemel is, Koning is.’ Julle moet siek mense gesond maak en julle moet mense wat gesterf het, weer laat lewe. Julle moet melaatse mense gesond maak en julle moet duiwels uit mense jaag. Julle het nie betaal om hierdie krag te kry nie. Ander mense moet ook nie betaal wanneer julle vir hulle help nie. Moenie geld saamneem in julle beursies nie, niks goue of silwer of koper geld nie. Moenie 'n rugsak saamneem wanneer julle gaan nie, en moenie nog klere of nog sandale of 'n kierie saamneem nie. Wanneer iemand werk, dan moet 'n mens hom beloon. Wanneer julle in 'n stad of dorp inkom, dan moet julle uitvind by wie julle welkom is. Julle moet by daardie mense bly totdat julle weer weggaan uit daardie stad. Wanneer julle inkom in 'n huis, dan moet julle die mense groet en bid dat God sy vrede vir hulle sal gee. As die mense sê julle is welkom, dan moet julle sê dat die Here se vrede daar sal bly. Maar as hulle sê julle is nie welkom nie, dan moet julle nie sê dat die Here se vrede daar sal bly nie. As iemand sê julle mag nie daar bly nie en as hulle nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie huis of stad en julle moet die stof van julle voete afskud. Ek sê vir julle, en dit is seker: Dit sal baie sleg gaan met daardie mense op die dag wanneer God almal sal oordeel. Dit sal beter gaan met die stede Sodom en Gomorra as met daardie stad.” Jesus het ook gesê: “Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal soos skape wees wat tussen gevaarlike wolwe is. Daarom moet julle versigtig wees soos die slange, en soos duiwe moet julle niks verkeerd doen nie. Julle moet oppas vir die mense, want hulle sal julle vang en hof toe vat. Hulle sal julle met swepe slaan in die sinagoges. Die mense sal julle hof toe sleep voor goewerneurs en konings omdat julle aan My behoort. Dan sal julle vir die konings en die mense wat nie Jode is nie, kan sê wie Ek is. En wanneer die mense julle hof toe vat, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet sê nie, want God sal vir julle sê wat julle dan moet sê. Dit sal nie júlle wees wat praat nie, dit sal die Gees van julle Vader wees wat sal sê wat julle moet praat.
MATTEUS 10:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. En dit is die name van die twaalf apostels: die eerste Simon wat Petrus genoem word, en Andréas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer; Filippus en Bartholoméüs; Thomas en Matthéüs, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alféüs, en Lebbéüs wat genoem word Thaddéüs; Simon Kananítes en Judas Iskáriot, die een wat Hom verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in 'n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee. Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of 'n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd. En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek. En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot 'n getuienis vir hulle en vir die heidene. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.
MATTEUS 10:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak. Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas; Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: “Moenie met 'n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in 'n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet. “Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie en moenie vir die pad 'n reissak aanskaf of nog 'n kledingstuk of skoene of 'n stok nie. 'n Arbeider is tog geregtig op onderhoud. “As julle in 'n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit. As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe. As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.” “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.
MATTEUS 10:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het toe sy twaalf dissipels nader geroep en aan hulle gesag oor •onrein geeste gegee om hulle te kan uitdryf en om elke siekte en elke kwaal gesond te kan maak. Die twaalf •apostels se name was: eerstens Simon, wat bekend staan as •Petrus, en sy broer Andreas; Jakobus, seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Thomas en Matteus die •tollenaar; Jakobus, seun van Alfeus, en Taddeus; Simon Kananeus en Judas Iskariot, wat Hom verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur, nadat Hy hulle die volgende opdragte gegee het: “Moet julle nie begewe op 'n pad na die heidene, en moenie in 'n Samaritaanse dorp ingaan nie, maar gaan eerder na die verlore skape van die huis van Israel. Gaan verkondig die volgende, ‘Die •koninkryk van die hemele is op hande.’ Maak die siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses, dryf demone uit. Julle het dit verniet gekry – verniet moet julle dit uitdeel. “Moenie goue of silwer- of kopermunte in julle gordels saamneem nie, nie 'n reissak vir die pad nie, ook nie twee kledingstukke, of sandale, of 'n wandelstok nie; want die arbeider is sy kos werd. “Watter stad of dorp julle ook al binnegaan – vind uit wie daarin waardig is, en bly daar totdat julle vertrek. En wanneer julle die huis binnegaan, groet die huismense. En as hulle dit waardig is, skenk julle vrede aan hulle; maar as hulle dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En wie ook al julle nie verwelkom en na julle woorde nie luister nie – gaan weg uit daardie huis of stad en skud die stof van julle voete af. •Amen, Ek sê vir julle: Dit sal vir die land Sodom en Gomorra op die oordeelsdag draagliker wees as vir daardie stad.” “Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. Maar wees op julle hoede vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan sanhedrins, en in hulle •sinagoges sal hulle julle gesel. Voor prokurators en konings sal julle om my ontwil gesleep word, sodat julle voor hulle en voor die heidene kan getuig. En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.
MATTEUS 10:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nadat Hy sy twaalf dissipels na Hom geroep het, het Hy hulle mag gegee teen onrein geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. En die name van die twaalf apostels is dit; Die eerste, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, sy broer; Filippus en Bartolomeus; Thomas en Matteus, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alfeus, en Lebbaeus, wie se van Thaddeus was; Simon die Kanaäniet en Judas Iskariot, wat hom ook verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie op die pad van die heidene gaan nie, en moenie ingaan in enige stad van die Samaritane nie. Maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En terwyl julle gaan, preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit; verniet het julle ontvang, gee verniet. Moenie goud of silwer of koper in julle beursies voorsien nie, Geen skraap vir jou reis nie, geen twee rokke of skoene of nog stokke nie, want die werker is sy spys werd. En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is; en bly daar totdat julle daarvandaan gaan. En as julle in 'n huis kom, groet dit. En as die huis dit waardig is, laat julle vrede daaroor kom; maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En elkeen wat julle nie ontvang en julle woorde nie hoor nie, as julle uit daardie huis of stad uitgaan, skud die stof van julle voete af. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal verdraagliker wees vir die land Sodom en Gomorra in die oordeelsdag as vir daardie stad. Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe uit; wees dan wys soos slange en onskadelik soos duiwe. Maar pas op vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan die rade, en hulle sal julle gésel in hulle sinagoges; En julle sal voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van My, as 'n getuienis teen hulle en die heidene. Maar wanneer hulle julle oorgee, moenie dink hoe of wat julle moet spreek nie, want in daardie selfde uur sal julle gegee word wat julle sal spreek. Want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.
MATTEUS 10:1-20 Die Boodskap (DB)
Daarna roep Jesus sy twaalf dissipels eenkant toe. Hulle was: Simon (Petrus was sy ander naam); Andreas (hy was Simon se broer); die twee broers Jakobus en Johannes (Sebedeus was hulle pa); dan was daar ook Filippus, Bartolomeus en Tomas; Matteus (die een wat Jesus by die tolhuis ontmoet het) en Jakobus (Alfeus was sy pa); Taddeus; Simon (van Kana af); Judas Iskariot (hy het later teen Jesus gedraai en Hom verraai). Dit was die eerste groep mense wat in die ryp oeslande moes gaan werk. Jesus het vir hulle die nodige toerusting gegee, naamlik die mag om bose geeste te verjaag wat mense se lewe deurmekaarkrap, om siekes gesond te maak, en om mense te help wat op die een of ander manier deur die lewe gekneus is. Jesus het ook aan hulle spesifieke opdragte gegee: “Gaan eers na die Israeliete toe. Moenie allerhande afdraaipaadjies vat en eers onder die nie-Jode gaan werk nie. Los vir eers maar ook die Samaritane. “Die Israeliete is julle hoofdoel. Gaan samel eers daar die oes in. Soos herders moet julle hierdie skape gaan soek wat die spoor so erg byster geraak het. Hulle weet nie meer mooi waar God is nie. “Gaan vertel hulle van God se nuwe wêreld wat hier is. Gebruik die toerusting wat Ek vir julle gegee het. “Doen onder hulle wat julle My die afgelope tyd sien doen het: gaan maak siek mense gesond; gaan gee aan dooies weer lewe; gaan maak melaatses gesond, en gaan help mense wat in die mag van demone is om daarvan ontslae te raak. “Doen al hierdie dinge sodat mense die teenwoordigheid en grootheid van God self persoonlik kan ervaar. En onthou, hierdie dinge het julle nie self verdien nie. Ek het dit gratis vir julle gegee. Gaan gee dit daarom ook verniet aan ander weg.” Jesus het verder met hulle gepraat en vertel hoe hulle te werk moes gaan: “Julle hoef nie ’n klomp geld saam te vat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak of allerhande spesiale reëlings vir die reis te tref nie. Immers, iemand wat werk, word tog betaal, al kry hy net kos om te eet vir al sy moeite. “Sê nou maar julle kom in ’n stad of dorpie aan, kyk dan of daar iemand is wat vir julle blyplek aanbied en by wie julle graag sal wil bly. Moenie rondval nie; bly daar totdat julle weer na die volgende dorpie toe moet gaan. “So moet julle dit doen: As julle in ’n huis ingaan, groet die mense vriendelik. Sê vir hulle God sal vir hulle goed wees. Hou dan hulle reaksie fyn dop. As hulle julle met dieselfde vriendelikheid teruggroet, weet julle die saak is reg. Laat die vrede van God oor die mense van daardie huis kom. Maar as hulle julle nie goed ontvang nie, moenie verder sukkel nie. Loop daar weg, julle met die vrede wat julle bring en alles daarmee saam. “Sê nou iemand verontagsaam julle as julle na hom toe gaan, sê nou hy wil nie luister as julle met hom praat nie, wat dan? Wel, moenie julleself probeer opdring of julle tyd mors nie. Los hom net daar. En as die mense van ’n hele dorp so ’n verkeerde houding het, los hulle ook net daar. Skud die kop, trek julle skouers op en gaan verder. Troos julle hieraan: wanneer God die dag kom om almal te oordeel, gaan hierdie mense besef dat hulle verkeerd was. Hulle gaan baie spyt wees, maar spyt kom altyd te laat. Saam met die ou stede soos Sodom en Gomorra wat so bekend was vir hulle sonde, gaan hierdie mense lelik onder God se oordeel deurloop. “Moenie dink alles sal altyd net goed gaan nie. Die gevare en probleme is groot en baie. Dit is byna so gevaarlik soos ’n herder wat sy skape deur ’n bos lei waar dit wemel van die luiperds en leeus. Daarom moet julle ingesteldheid reg wees. Julle moet presies weet wat julle wil doen. Probeer ook om mense nie aanstoot te gee of kwaad te maak nie.” “Julle moet ook weet wat op julle wag. Die mense gaan vir julle baie probleme gee. Net omdat julle aan my kant is, sal hulle julle sommer in die tronk wil gooi. Hulle sal julle op die lelikste moontlike maniere voor almal slegsê. En dit is nie al nie. Hulle sal julle by die polisie gaan aankla asof julle boewe is. “Om twee redes hoef dit julle nie bang te maak nie. Wat hierdie mense nie weet nie, is dat hulle julle eintlik ’n guns doen: hulle trek al die aandag na julle toe. Almal, selfs mense wat nie eens Jode is nie, sal nuuskierig wees om te hoor wat julle sê. So sal hulle die goeie nuus hoor, of hulle nou wil of nie! “As hulle julle voor die hof sleep, hoef julle nie oor prokureurs of advokate bekommerd te wees nie. Julle hoef nie te wonder oor hoe julle julle gaan verdedig nie. God gaan julle verdedig. Wie weet beter as Hy wat om te sê? Wanneer julle beurt dus kom om iets te sê, sal die regte woorde wel daar wees. Dit sal nie julle woorde wees nie; die Gees van julle Vader sal self vir julle elke woord gee wat nodig is. “Die ergste van alles het Ek julle nog nie vertel nie. Dit sal nie net vreemde mense wees wat julle ernstige moeilikheid gaan gee nie.
MATTEUS 10:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het sy twaalf dissipels na Hom toe geroep en aan hulle die volmag gegee om onrein geeste uit mense te dryf en elkeen met ’n siekte of kwaal gesond te maak. Hier volg die name van die twaalf apostels: eerstens Simon (ook bekend as Petrus), en Andreas (sy broer), vervolgens Jakobus (die seun van Sebedeus) en Johannes (sy broer), Filippus en Bartolomeus, Tomas en Matteus (die tollenaar), Jakobus (die seun van Alfeus) en Taddeus, Simon (die Yweraar) en Judas Iskariot (wat Jesus sou uitlewer). Jesus het hierdie twaalf uitgestuur met die volgende instruksies: “Moenie afdraai na gebiede waar die nie-Jode woon of in ’n Samaritaanse dorp ingaan nie. Gaan liewer na die verdwaalde skape van die huis van Israel. Gaan kondig aan: ‘God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!’ Maak siekes gesond, laat dooies opstaan, reinig dié met ernstige velsiektes, dryf bose geeste uit. Julle het hierdie volmag verniet ontvang. Doen daarom julle werk ook verniet. “Moenie enige kontant in julle beursies saamvat nie. Ook nie ’n reissak vir die pad of ’n ekstra drarok of ekstra sandale of selfs ’n kierie nie. ’n Werker verdien tog sekerlik om versorg te word. As julle in ’n dorp of kleiner plekkie ingaan, maak seker by wie julle welkom is en bly daar totdat julle weer vertrek. As julle in ’n huis ingaan, begroet sy inwoners met die vredesgroet. As julle in daardie huis welkom is, sal God se vrede daarop bly. Maar as julle nie welkom is nie, moet julle julle vredesgroet terugtrek. As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp uit en skud die stof van julle voete af. “Ek verseker julle, op die oordeelsdag sal dit met die sondige stede Sodom en Gomorra beter gaan as met daardie dorp.” “Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. Wees dan waaksaam soos die slange, maar terselfdertyd opreg soos die duiwe. Pas op vir die mense! Hulle sal julle aan die howe oorgee en in hulle sinagoges met gésels slaan. Julle sal voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van My. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle en die volke van My te getuig. Wanneer hulle julle oorgee, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die regte woord sal op die regte tyd vir julle gegee word. Dit sal nie júlle wees wat die praatwerk doen nie, maar die Gees van julle Vader wat julle as sy spreekkanale sal gebruik.