MATTEUS 1:20-23
MATTEUS 1:20-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. Sy sal geboorte gee aan 'n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. ” Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word: “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’
MATTEUS 1:20-23 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl Josef hieroor gedink het, het daar 'n engel van die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Josef, jy wat van die nageslag van Dawid is, jy moenie bang wees om met Maria te trou nie. Sy verwag 'n baba, maar dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. Sy sal 'n seun kry, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het gesê: “ Die maagd sal swanger word en sy sal 'n seun kry. Hulle sal Hom Immanuel noem.”
MATTEUS 1:20-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.
MATTEUS 1:20-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.”
MATTEUS 1:20-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. Sy sal geboorte gee aan 'n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. ” Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word: “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’
MATTEUS 1:20-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar terwyl hy oor hierdie dinge nadink, verskyn die engel van die Here aan hom in 'n droom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om jou vrou Maria vir jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. En sy sal 'n seun baar, en jy moet hom JESUS noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word wat van die Here gespreek is deur die profeet deur te sê: Kyk, 'n maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal hom Emmanuel noem, wat vertaal word: God met ons.
MATTEUS 1:20-23 Die Boodskap (DB)
Terwyl Josef besig was om planne te beraam hoe om uit sy verknorsing te kom, het hy een nag ’n droom gehad. ’n Engel van die Here het vir hom kom sê: “Trou met Maria. En moenie bekommerd wees nie. Dit is die Heilige Gees wat haar laat verwag het. Sy gaan een van die dae ’n Seun hê. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal sy volk binnekort van al hulle sondes vrymaak.” So het die woorde waar geword wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het: “’n Jongmeisie wat nog nie by ’n man geslaap het nie, gaan binnekort geboorte aan ’n seun gee. Hulle sal hom Immanuel noem.” (As ’n mens hierdie Hebreeuse naam vertaal, beteken dit: God is hier by ons.)
MATTEUS 1:20-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Met hierdie dinge in gedagte het hy aan die slaap geraak. Daarop verskyn ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: “Moenie huiwer om voort te gaan met jou huwelik met Maria nie. Die Kindjie wat sy dra, is verwek deur die Heilige Gees. Sy sal aan ’n Seun geboorte gee, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes red.” Dit alles het gebeur om die Here se boodskap deur die profeet te laat uitkom: “Die maagd sal swanger word! Sy sal aan ’n Seun geboorte gee. En die mense sal Hom Immanuel noem.” (Hierdie naam beteken: God is by ons.)