MATTEUS 1:17-25

MATTEUS 1:17-25 Bybel vir almal (ABA)

Van Abraham tot by Dawid was daar 14 geslagte. Van Dawid tot by die tyd toe die mense van Juda slawe was in Babilonië, was daar ook 14 geslagte. Van die tyd toe hulle slawe was in Babilonië tot by die Christus was daar ook 14 geslagte. Dit is wat gebeur het voordat Jesus Christus gebore is: Sy ma, Maria, was verloof aan Josef. Hulle was nog nie getroud nie en hulle het nog nie saam geslaap nie, maar Maria het swanger geword. Dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. Josef, Maria se verloofde, was 'n goeie man. Hy was gehoorsaam aan die Wette van Moses en hy wou nie haar naam sleg maak by die mense nie. Daarom het hy besluit om sy verlowing met Maria te breek, maar hy wou dit vir niemand sê nie. Terwyl Josef hieroor gedink het, het daar 'n engel van die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Josef, jy wat van die nageslag van Dawid is, jy moenie bang wees om met Maria te trou nie. Sy verwag 'n baba, maar dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. Sy sal 'n seun kry, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het gesê: “ Die maagd sal swanger word en sy sal 'n seun kry. Hulle sal Hom Immanuel noem.” Immanuel beteken “ God is by ons.” Nadat Josef wakker geword het, het hy gedoen wat die engel van die Here vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou. Hy het nie by haar geslaap nie, hy het gewag tot nadat die seun gebore is. Josef het die seun Jesus genoem.

MATTEUS 1:17-25 Die Boodskap (DB)

In Jesus se geslagsregister is daar veertien geslagte van Abraham tot by Dawid. Daarna, van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap, is daar nog veertien geslagte. Na hierdie groot krisis in Israel se geskiedenis is daar nog veertien geslagte tot by Christus se geboorte. Nou kom ons by die verhaal van Jesus Christus se geboorte. Dit het so gebeur: Daar was ’n vrou met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef. Op ’n dag het hy uitgevind Maria verwag ’n kind. Josef was baie omgekrap hieroor, want hy het geweet dat dit nie sy kind was nie. Natuurlik was dit die Heilige Gees wat Maria laat verwag het, maar Josef het dit toe nog nie geweet nie. Omdat Josef die wette van Moses goed geken het, het hy geweet dat dit ’n groot skande vir ’n ongetroude vrou was om ’n baba te verwag. Hy wou Maria nie verneder deur die verlowing in die openbaar te verbreek nie. Daarom het hy besluit om stilweg die verlowing te verbreek voordat almal van Maria se swangerskap te hore kom. Terwyl Josef besig was om planne te beraam hoe om uit sy verknorsing te kom, het hy een nag ’n droom gehad. ’n Engel van die Here het vir hom kom sê: “Trou met Maria. En moenie bekommerd wees nie. Dit is die Heilige Gees wat haar laat verwag het. Sy gaan een van die dae ’n Seun hê. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal sy volk binnekort van al hulle sondes vrymaak.” So het die woorde waar geword wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het: “’n Jongmeisie wat nog nie by ’n man geslaap het nie, gaan binnekort geboorte aan ’n seun gee. Hulle sal hom Immanuel noem.” (As ’n mens hierdie Hebreeuse naam vertaal, beteken dit: God is hier by ons.) Toe Josef wakker word, het hy presies gedoen wat die engel vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou. Hy het egter nie by haar geslaap totdat haar Seun gebore is nie. Toe die Kindjie gebore is, het Josef Hom Jesus genoem.