Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

MALEAGI 1:11-14 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MALEAGI 1:11-14 AFR83 (Afrikaans 1983)

Van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, word Ek deur die nasies geëer. Oral word daar vir My offers gebring, rein offers. Ek word deur die ander nasies geëer, sê die Here die Almagtige, maar júlle doen my Naam oneer aan. Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word. En dan sê julle nog dis 'n klomp moeite en julle trek die neus daarvoor op. Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here. Daar rus 'n vloek op elke skelm wat 'n bul of 'n ram in sy kudde het en 'n gelofte doen en dan 'n verminkte ding aan die Here offer! Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir My het die nasies ontsag.

MALEAGI 1:11-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en 'n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die leërskare. Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die HERE is verontreinig, en wat sy opbrings betref — sy spys is veragtelik. En julle sê: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere — so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE. Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee 'n manlike dier is, 'n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die HERE offer; want Ek is 'n groot Koning, sê die HERE van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene.

MALEAGI 1:11-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Daar is nasies wat My eer van waar die son opkom tot waar dit weer ondergaan. Oral eer hulle My deur wierookoffers en rein offers te bring. Die nasies het groot ontsag vir my Naam,” sê die HERE, die Almagtige. “Julle bewys nie respek deur dit wat julle doen nie. Met die veragtelike offers wat julle bring, sê julle eintlik dat julle die altaar van die Here minag. Julle sê: ‘Dit is moeilik om Hom te dien’ en dan trek julle ook nog julle neuse daarvoor op,” sê die HERE, die Almagtige! “Julle bring gesteelde, lam en siek diere en bied dit as offers aan! Moet Ek nou tevrede wees met dit wat julle bring?” vra die HERE. “Daar rus ’n vloek op die bedrieërs wat beloof om ’n ram uit hulle kudde te gee, maar dan ’n verminkte dier aan die Here offer.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Is Ek nie ’n groot Koning nie? Selfs die nasies het groot ontsag vir My!”

MALEAGI 1:11-14 DB (Die Boodskap)

Mense oor die hele wêreld eer My. Die offers wat hulle vir My bring, is aanvaarbaar, want hulle bedoel dit uit die hart uit. Op hierdie manier bewys hulle dat hulle respek het vir My as die Here aan wie alles behoort. Julle optrede is sonder respek. Julle nooi My as ’n gas, maar dit waarmee julle die tafel vir My dek, is goed wat julle self nie eens wil hê nie. En dan trek julle nogal die neus vir My op en sug oor hoe moeilik dit is om die Here tevrede te stel. Gaan kyk ’n bietjie wat bring julle vir My as offers: gesteelde, lam en siek diere; dis mos nie aanvaarbaar nie. As iemand belowe het om vir My die beste te gee wat hy het en hy kom dan later daar aan met iets minderwaardigs, moet hy weet dit sal baie swaar met hom gaan. Want Ek laat My nie bedrieg nie. Ek is die Grootkoning, die Here aan wie alles behoort. Die volke van die wêreld het respek vir My.

MALEAGI 1:11-14 ABA (Bybel vir almal)

“Al die volke op die hele aarde dien My, en die mense bring oral vir My offers, rein offers. Ja, al die volke dien My.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Maar julle wat priesters is, julle eer My nie. Julle sê die altaar van die Here is onrein, en julle respekteer nie die offers op die altaar nie. En julle sê dit is harde werk om offers te bring. Julle hou nie daarvan om dit te doen nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Julle bring diere wat julle gesteel het of diere wat nie gesond is nie en julle offer dit vir My. Ek wil dit nie hê nie,” sê die Here. “As iemand 'n bul of 'n ram het en hy belowe om dit vir My te offer, maar hy bring 'n os of 'n hamel, dan is hy skelm en Ek vervloek hom. Ek is die Groot Koning, en al die volke eer My.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.

MALEAGI 1:11-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Immers, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies en op elke plek word reukwerk en 'n rein offer aangebied vir my Naam, want my Naam is groot onder die nasies,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Maar julle ontheilig my Naam aangesien julle dink, die tafel van die Heer is besoedel, en oor wat dit bied, dink julle, sy voedsel kan maar geminag word. En dan sê julle, ‘Kyk, watter moeite is dit nie!’ En julle skat dit gering, ” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Julle bring diere wat geroof en mank en siek is, en bied dit as 'n offergawe aan! Moet Ek dit uit julle hand aanvaar?” vra die HERE. “Vervloek is iemand wat bedrieg deur 'n gelofte af te lê, maar 'n verminkte dier aan die Heer offer, terwyl daar 'n manlike dier in sy kudde is. Ek is immers die groot Koning,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “en my Naam wek ontsag by die nasies. ”

MALEAGI 1:11-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Want van die opgang van die son af tot by sy ondergang sal my Naam groot wees onder die heidene; en op elke plek sal vir my Naam reukwerk en 'n rein offer gebring word, want my Naam sal groot wees onder die nasies, spreek die HERE van die leërskare. Maar julle het dit ontheilig deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is ontheilig; en die vrug daarvan, ja, sy spys is veragtelik. Julle het ook gesê: Kyk, wat 'n moegheid is dit! en julle het dit uitgeblus, spreek die HERE van die leërskare; en julle het verskeurde en kreupeles en siekes gebring; so het julle 'n offer gebring; moet ek dit van julle hand aanneem? spreek die HERE. Maar vervloek is die bedrieër wat in sy kudde 'n mannetjie het en 'n gelofte beloof en aan die HERE 'n verdorwe ding offer; want Ek is 'n groot Koning, spreek die HERE van die leërskare, en my Naam is verskriklik onder die nasies.