LUKAS 7:36-50
LUKAS 7:36-50 Bybel vir almal (ABA)
Een van die Fariseërs het vir Jesus genooi om by hom te kom eet. Jesus het by die Fariseër se huis gekom en Hy het by die tafel gaan sit. Daar was 'n slegte vrou in die stad, almal het geweet sy is 'n slegte vrou. Sy het gehoor Jesus is by die huis van die Fariseër om daar te eet. Sy neem toe 'n klip-kruikie met lekkerruik-olie en sy gaan sit by Jesus se voete. Sy het aangehou huil. Sy het Jesus se voete met haar trane natgemaak en met haar hare afgedroog. Toe soen sy Jesus se voete en gooi die olie op sy voete. Toe die Fariseër wat vir Jesus genooi het, dit sien, het hy gedink: As hierdie man 'n profeet was, dan sou hy geweet het watter soort vrou dit is wat aan hom raak. Hy sou geweet het sy is 'n slegte vrou. Toe sê Jesus vir die Fariseër: “Simon, Ek wil vir jou iets sê.” En Simon sê: “Meneer, sê dit vir my.” Jesus vertel toe vir hom 'n gelykenis: “Daar was twee mense wat geld geskuld het aan iemand wat vir hulle geld geleen het. Die een man het 500 silwer geldstukke geskuld, en die ander man het 50 silwer geldstukke geskuld. Altwee mans kon nie hulle skuld betaal nie. Toe het die man wat die geld vir hulle geleen het, gesê hulle moenie die skuld terugbetaal nie, hulle mag die geld hou. Watter man sal die dankbaarste wees vir die man wat gesê het hulle mag die geld hou?” Simon het gesê: “Ek dink die man wat die meeste geld geskuld het.” Jesus sê toe: “Jy het reg gedink.” Toe draai Jesus na die vrou en Hy sê vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Toe Ek by jou huis gekom het, het jy nie vir My water gegee om my voete te was nie, maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. Jy het My nie gesoen toe jy My gegroet het nie. Maar hierdie vrou het aangehou om my voete te soen vandat Ek ingekom het. Jy het ook nie lekkerruik-olie op my kop gegooi nie, maar hierdie vrou het lekkerruik-olie op my voete gegooi. Daarom sê Ek vir jou, God het die baie sondes wat sy gedoen het, vergewe. Toe sy hierdie dinge aan My gedoen het, het sy gewys dat sy lief is vir My. Dit wys ook sy is baie dankbaar dat God haar baie sondes vergewe het. Jy dink jy het min sondes, maar God het dit vergewe. Jy wys ook hoe min dankbaar jy is en hoe min jy lief is vir Hom.” Jesus sê toe vir die vrou: “Ek vergewe jou sondes.” Die mense wat saam met Jesus by die tafel gesit het, begin toe met mekaar praat en hulle sê: “Wie is hierdie man wat sondes vergewe?” Maar Jesus het vir die vrou gesê: “Omdat jy glo, daarom red Ek jou. Totsiens, dit sal goed gaan met jou.”
LUKAS 7:36-50 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. En toe 'n vrou in die stad, wat 'n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy 'n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy 'n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is 'n sondares. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek. Hy sê toe: 'n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel. Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. 'n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe? En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
LUKAS 7:36-50 Afrikaans 1983 (AFR83)
Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.” Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Meneer, sê dit maar!” antwoord hy. Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” “Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
LUKAS 7:36-50 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Een van die •Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het die Fariseër se huis binnegegaan en vir ete aangeleun. En kyk, daar was 'n sondige vrou in die dorp wat gehoor het dat Hy by die Fariseër se huis gaan eet het. Sy het 'n albasterfles vol reukolie gevat en agter Jesus, by sy voete, gaan staan. Sy het gehuil en begin om sy voete met haar trane nat te maak. Sy het sy voete met haar hare afgedroog, dit gesoen, en met die reukolie ingevryf. Toe die Fariseër wat Hom uitgenooi het, dit sien, het hy in sy hart gedink, as hierdie man 'n profeet was, sou hy tog geweet het wie dit is wat hom aanraak en watter soort vrou sy is, dat sy 'n sondige vrou is. Maar Jesus het vir hom gesê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Sê maar, Meester! ” antwoord hy. “Twee mense was by 'n sekere geldskieter in die skuld. Die een het vyfhonderd denarius geskuld, en die ander vyftig. Omdat hulle hom nie kon terugbetaal nie, het hy albei se skuld kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” En Jesus sê vir hom: “Jy het reg geoordeel.” Toe het Hy omgedraai na die vrou en vir Simon gesê: “Sien jy hierdie vrou? Toe Ek by jou huis ingestap het, het jy nie eers vir my water vir my voete gegee nie, maar sy het my voete met haar trane nat gemaak en met haar hare afgedroog. Jy het My nie 'n soen gegee nie, maar sy het, vandat Ek hier aangekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Jy het my kop nie met olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met reukolie ingevryf. Daarom sê Ek vir jou, haar sondes – en dit was baie – is vergewe, omdat sy baie liefde betoon het. Maar die een vir wie min vergewe word, het min liefde.” En vir haar het Hy gesê: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin die mense wat aangeleun het vir ete onder mekaar sê: “Wie is hierdie man, dat hy selfs sondes vergewe?” Maar Jesus het vir die vrou gesê: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
LUKAS 7:36-50 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En een van die Fariseërs het hom gevra om saam met hom te eet. En hy het in die huis van die Fariseër ingegaan en aangesit om te eet. En kyk, 'n vrou in die stad wat 'n sondaar was, het, toe sy geweet het dat Jesus in die huis van die Fariseër aan tafel gesit het, 'n albaste boks met salf gebring, En sy het by sy voete agter hom gaan staan en geween en sy voete met trane begin was en dit met die hare van haar hoof afgedroog en sy voete gesoen en hulle met die salf gesalf. En toe die Fariseër wat hom genooi het, dit sien, spreek hy by homself en sê: Hierdie man, as hy 'n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat hom aanraak, want sy is 'n sondaar. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om vir jou te sê. En hy sê: Meester, sê aan. Daar was 'n sekere skuldeiser wat twee skuldenaars gehad het: die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander vyftig. En toe hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy hulle altwee eerlik vergewe. Sê my dan, wie van hulle sal hom die liefste hê? Simon het geantwoord en gesê: Ek veronderstel dat hy aan wie hy die meeste vergewe het. En hy sê vir hom: Jy het reg geoordeel. En hy draai na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in u huis ingegaan, U het my geen water vir my voete gegee nie; maar sy het my voete met trane gewas en dit met die hare van haar hoof afgedroog. U het my geen soen gegee nie, maar hierdie vrou het van die tyd dat ek ingekom het nie opgehou om my voete te soen nie. My hoof het jy nie met olie gesalf nie, maar hierdie vrou het my voete met salf gesalf. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes, wat baie is, is vergewe; want sy het baie liefgehad, maar vir wie min vergewe is, hy het min lief. En hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. En die wat saam met Hom aan tafel was, het by hulleself begin sê: Wie is Hy wat ook sondes vergewe? En hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
LUKAS 7:36-50 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het ’n Fariseër met die naam Simon vir Jesus uitgenooi om by hom te kom eet. Daar aangekom, het Jesus saam met Simon en ’n paar ander mans by die tafel gaan aansit. In dieselfde dorp het daar ook ’n vrou gebly wat ’n baie slegte lewe gelei het. Toe sy hoor dat Jesus by Simon se huis gaan eet het, was sy baie opgewonde. Sy het toe ’n bottel met baie duur parfuum gevat en reguit na Simon se huis toe gegaan. Sy wou Jesus se voete gaan salf om vir Hom te wys hoeveel respek sy vir Hom het. Toe sy by Simon se huis kom, het sy ongenooid ingestap, tussen al die mans deur, tot by Jesus. Toe die vrou agter Jesus op haar knieë gaan staan, het sy skielik in trane uitgebars. Haar trane oor haar stukkende lewe het toe op Jesus se voete geval. Sy het sy voete haastig met haar hare afgedroog. Daarna het sy sy voete gesoen en met die duur parfuum gesalf. Simon was baie ontsteld oor wat hierdie vrou in sy huis aangevang het. Hy het goed geweet wie sy was. Hy dink toe in die stilligheid by homself: “As hierdie Jesus regtig ’n boodskapper van God is, sal Hy mos weet dat dié vrou wat nou aan Hom raak ’n groot sondaar is. Dan sal Hy haar wegjaag, want sy is besig om Hom onrein te maak.” Jesus het baie goed geweet wat Simon dink. Hy sê toe vir hom: “Simon, daar is iets wat Ek graag vir jou wil vertel.” “Praat maar. U is mos die leermeester. Ek luister,” het Simon geantwoord. Jesus vertel toe vir hom ’n kort verhaaltjie: “Twee mans het geld aan ’n bankbestuurder geskuld; die een 80 000 rand, en die ander 8 000 rand. Maar hulle kon nie hulle skuld betaal nie. Toe besluit die bestuurder na ’n ruk om hulle skuld af te skryf. Sê vir My: Wie van hierdie twee mans was die blyste? Wat dink jy?” “Die een wat die meeste geld geskuld het,” het Simon geantwoord. “Jy is heeltemal reg,” het Jesus gesê. Toe draai Jesus na die vrou toe terwyl Hy nog met Simon praat. “Simon, jy het gesien wat hierdie vrou alles vir My gedoen het. Baie meer as jy. Jy het nie eens die moeite gedoen om water by jou deur neer te sit sodat die stof van my voete afgewas kon word toe Ek hier aangekom het nie. Maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. “Jy het My ook nie baie hartlik ontvang nie, nie eens ’n warm handdruk of ’n vriendelike omhelsing gegee nie. Maar hierdie vrou kon nie ophou om my voete te soen nie. “Jy het ook nie ’n geskenk vir My gehad nie, nie eens ’n bietjie reukolie wat Ek aan my hare kon sit om lekker te ruik nie. Maar hierdie vrou het sommer ’n hele bottel reukolie oor my voete uitgegooi. “Ja, hierdie vrou het baie lelike dinge aangevang. Maar dis nou verby. Haar sondes is vergewe. God dink nie meer daaraan nie. Daarom doen sy al hierdie wonderlike dinge vir My. Jy het nie die vaagste idee wat dit vir ’n sondaar soos sy beteken om deur God vergewe te word nie. Daarom dien jy Hom so halfhartig.” Jesus kyk toe na die vrou en sê vir haar: “Ek het baie goeie nuus vir jou. Jou sondes tel nie meer by God nie.” Al die ander mense aan tafel het onder mekaar gesê: “Wie is hierdie man dat hy selfs die mag het om sondes te vergewe? Net God kan tog so iets doen!” Jesus het vir die vrou gesê: “Dit wat jy vandag gedoen het, wys dat jy in God glo. Jou saak met Hom is nou in orde. Gaan leef in vrede met God.”
LUKAS 7:36-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een van die Fariseërs het Jesus na sy huis genooi vir ’n maaltyd, en Jesus het dit aanvaar en aangelê om te eet. En kyk, ’n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ’n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer. Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: “Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ’n sondaar!” Jesus het toe gereageer en vir Simon geantwoord. “Simon,” het Hy vir die Fariseër gesê, “Ek het iets om vir jou te sê.” “Reg, Meneer,” het Simon geantwoord, “sê maar.” Jesus vertel hom toe die volgende verhaal: “’n Man het vir twee mense geld geleen – 500 rand vir die een, en 50 vir die ander. Maar nie een van die twee kon hom terugbetaal nie; hy het dus maar al twee oorgesien en hulle skuld afgeskryf. Wie dink jy het hom daarna die meeste liefde bewys?” Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste skuld afgeskryf het.” “Dis reg,” het Jesus gesê. Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. Jy het My nie met ’n soen verwelkom nie, maar sy het my voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het. Jy het nie my kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf. Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!” Toe sê Jesus vir die vrou: “Jou sondes is vergewe.” Die mans aan tafel sê toe onder mekaar: “Wie dink hierdie man is hy om rond te gaan en sondes te vergewe?” En Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”