LUKAS 7:19-23
LUKAS 7:19-23 Bybel vir almal (ABA)
en stuur hulle na die Here toe om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir 'n ander Een wag?” Johannes se dissipels het by Jesus gekom en gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om vir U te vra of U die Christus is wat moes kom, en of ons vir 'n ander Een moet wag.” Jesus was besig om baie mense gesond te maak wat siek was. Hy het ook bose geeste uit mense gejaag en Hy het baie blinde mense weer laat sien. Jesus sê toe vir Johannes se dissipels: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is weer gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is. En God sal mense seën wat aanhou om in My te glo.”
LUKAS 7:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
LUKAS 7:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien. Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”
LUKAS 7:19-23 Die Boodskap (DB)
Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien. Jesus sê toe vir hulle: “Kyk om julle. Kyk na al die wonderwerke wat Ek doen. En luister mooi na wat Ek sê. Gaan vertel dan vir Johannes: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat glad nie kon loop nie, stap nou weer rond; mense wat eenkant moes bly omdat hulle melaats was, is nou heeltemal gesond; dowes kan weer hoor; mense wat dood was, leef weer, en mense wat niks het nie, hoor nou skielik dat hulle vir God baie spesiaal is. “Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.”
LUKAS 7:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
en hulle na die Here toe gestuur om te vra: “Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?” Johannes die Doper se twee dissipels het Jesus gekry en vir Hom gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om te vra: ‘Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?’” Op daardie oomblik het Jesus baie mense van verskeie siektes genees, en Hy het bose geeste uitgewerp en blindes se sig herstel. Hy het vir Johannes se dissipels gesê: “Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig. En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’”