LUKAS 6:37-38
LUKAS 6:37-38 Bybel vir almal (ABA)
“Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. Ja, julle moenie altyd ander mense wil oordeel nie, dan sal niemand vir julle wil oordeel nie. Julle moet ander mense vergewe, dan sal God julle ook vergewe. “Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen.”
LUKAS 6:37-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.
LUKAS 6:37-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.”
LUKAS 6:37-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word – 'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. ”
LUKAS 6:37-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie oordeel nie, en julle sal nie geoordeel word nie; veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie; vergewe, en julle sal vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word; goeie maat, ingedruk en saamgeskud en oorstroom, sal die mense in jou boesem gee. Want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.
LUKAS 6:37-38 Die Boodskap (DB)
“Moenie ander mense oordeel nie. Dan sal God julle ook nie oordeel nie. Moenie ander mense tot in die doderyk verdoem nie. Dan sal God julle ook nie verdoem nie. Vergeef ander mense, dan sal God julle ook vergewe. “Deel julle besittings met ander, dan sal God vir julle sorg. Julle sal nooit te min hê om van te leef nie. Julle sal van kop tot tone oorlaai word met goeie dinge. Ja, julle ganse lewe sal oorloop van goedheid. Al die goeie dinge wat julle met ander deel, sal op verrassende maniere na julle toe terugkom.
LUKAS 6:37-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word. As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.”