LUKAS 5:1-11
LUKAS 5:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Eendag het Jesus by die see van Gennesaret gestaan en Hy het die boodskap van God vir die mense verduidelik. Baie mense het na Hom geluister en hulle het rondom Jesus gestaan en teen Hom gedruk. Jesus het twee bote gesien wat langs die see lê. Die vissermanne was nie in die bote nie. Hulle was besig om die visnette te was. Jesus het in een van die bote geklim. Dit was Simon se boot. Jesus het vir Simon gevra om 'n bietjie verder van die strand weg te roei. Jesus het gaan sit en Hy het uit die boot vir die mense geleer. Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: “Roei 'n bietjie verder tot waar die see diep is en gooi julle nette in die water om vis te vang.” Simon het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het die hele nag hard gewerk, maar ons het niks gevang nie. Maar as U sê ek moet dit doen, dan sal ek die nette ingooi.” Toe Simon die nette in die see gooi, het hulle so baie visse gevang dat die nette amper stukkend geskeur het. Hulle het hulle vriende in die ander boot geroep om te kom help. Hulle vriende het gekom en hulle het altwee bote vol visse gemaak. Dit was so vol, die bote het amper gesink. Toe Simon Petrus dit sien, het hy voor Jesus op die grond geval en gesê: “Here, gaan weg van my, want ek is 'n man wat baie sonde doen.” Simon Petrus en die ander mense saam met hom was baie verbaas oor die baie visse wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes was ook baie verbaas. Hulle was die seuns van Sebedeus en hulle het saam met Simon gewerk en visgevang. Jesus het vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy nie meer visvang nie, jy sal mense bymekaarmaak.” Hulle het met die bote tot by die land geroei. Hulle het alles daar gelos en saam met Jesus gegaan.
LUKAS 5:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennésaret staan en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel. Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om 'n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer. En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang. En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak. En toe hulle dit gedoen het, het hulle 'n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man! Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.
LUKAS 5:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op 'n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor, sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit 'n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het. Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.” Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.
LUKAS 5:1-11 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Jesus by die See van Galilea gepreek. Daar was so ’n groot klomp mense dat hulle mekaar omtrent vertrap het om Hom behoorlik te kon sien. Jesus maak toe ’n plan. Hy het gesien dat twee vissersbote teen die kant van die see vasgemeer lê. Die vissermanne het pas uit hulle bote geklim en was besig om hulle nette skoon te maak. Jesus gaan klim toe in Simon se boot en vra hom om ’n entjie van die kant af weg te vaar. Hy het in die boot gaan sit en van daar af met die skare gepraat. Later, toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vat die boot dieper in die see in en gooi dan weer julle visnette in.” Simon antwoord toe: “Ons het die hele nag op die see deurgebring en ons het net mooi niks gevang nie. Maar omdat U so sê, sal ek my visnette weer ’n keer laat sak!” So gesê, so gedaan. Skaars het Simon sy nette ingegooi of hulle was propvol vis. Daar was so baie vis dat die nette wou skeur. “Kom help ons. Maak gou!” het hy vir sy vriende in ’n ander boot daar naby hulle geskree. Later was albei bote vol vis. Hulle was so swaar gelaai dat hulle amper gesink het. Simon Petrus was verslae oor wat gebeur het. Hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en gesê: “Here, U kan nie langer by my bly nie, want ek is ’n groot sondaar.” Petrus en almal saam met hom op die bote was verstom oor hierdie groot visvangs. Ook Petrus se vriende, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was daardeur aangegryp. Jesus sê toe vir Petrus: “Moenie bang wees nie. Jou werk begin nou eers. Van nou af gaan jy mense vang. Jy sal maak dat baie mense in My glo.” ’n Rukkie later, toe hulle die bote veilig vasgemeer het, het hierdie mans hulle bote net daar laat staan en volgelinge van Jesus geword.
LUKAS 5:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag was Jesus op die strand van die See van Galilea besig om te preek, en groot menigtes het na Hom toe gebeur om na die woord van God te luister. Hy het twee leë skuite aan die waterkant gesien waar vissermanne dit gelos het om hulle nette te was. Jesus het in een van die skuite geklim en die eienaar, Simon, gevra om dit ’n entjie in die water te stoot. Hy het in die boot gaan sit en die skares van daar af geleer. Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: “Vaar nou dieper in en gooi julle nette uit om te vang.” “Meneer,” het Simon geantwoord, “ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie. Maar as u so sê, sal ons weer probeer.” En hierdie keer was hulle nette so vol dat dit begin skeur het! Hulle het hul maats in die ander skuit geroep om te kom help en gou was albei skuite so vol vis dat dit amper gesink het. Toe Simon Petrus besef wat gebeur het, val hy op sy knieë voor Jesus en sê: “Here, gaan asseblief weg van my af – ek is ’n te groot sondaar.” Want hy was verbyster deur die groot visvangs, net soos die ander by hom. Sy kollegas, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was net so verbaas. Jesus het vir Simon geantwoord: “Moenie bang wees nie! Van nou af sal jy mense vang!” En toe hulle aan wal kom, het hulle alles net so laat lê en Jesus gevolg.