LUKAS 4:14-44
LUKAS 4:14-44 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het teruggegaan na Galilea. Die Heilige Gees het Hom sterk gemaak. In Galilea het al die mense oor Jesus gepraat. Jesus het vir hulle in die sinagoges geleer, en almal het gedink Hy is wonderlik. Jesus het in Nasaret gekom, die stad waar Hy grootgeword het. Hy het altyd op die Sabbatdag na die sinagoge gegaan. Eendag het Hy in die sinagoge opgestaan om vir die mense uit die Bybel te lees. Iemand het die boek van die profeet Jesaja vir Hom gegee. Jesus het die boek oopgemaak en Hy het gelees wat Jesaja geskryf het: Die Gees van die Here lei my. Die Here het my gesalf en gesê ek moet die goeie boodskap vir die arm mense bring. Hy het my gestuur om vir die gevangenes te sê hulle is vry, hulle kan uitgaan. Hy het my gestuur om vir die blinde mense te sê hulle sal weer kan sien. Ek moet almal vrymaak wat swaarkry. Ek moet sê dit is nou die tyd wanneer die Here alles sal regmaak. Daarna het Jesus die boek toegemaak en Hy het dit teruggegee vir die persoon wat dit moes bêre. Jesus het gaan sit en almal in die sinagoge het na Jesus gekyk. Jesus het met die mense begin praat en gesê: “Vandag het God laat gebeur wat Ek uit die Bybel gelees het.” Almal het goed gepraat oor Jesus. Hulle het gedink die dinge wat Hy sê, is wonderlik. Hulle het vir mekaar gesê: “Hy is Josef se seun, en luister watter wonderlike dinge sê hy!” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moenie te gou bly word oor My nie. Julle sal later vir My wil sê: ‘As jy 'n dokter wil wees, dan moet jy eers jouself gesond maak. Ons het gehoor van al die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het. Jy moet dieselfde dinge nou ook hier doen, hier in die stad waar jy grootgeword het.’ ” Jesus het ook gesê: “Maar Ek sê vir julle: Mense hou nie van 'n profeet in die stad waar sy mense woon nie. Luister nou goed: In die tyd toe Elia in die land Israel gelewe het, het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie, en daar was baie min kos op die hele aarde. Daar was baie weduwees in die land Israel, maar die Here het nie vir Elia na een van hulle toe gestuur nie, net na 'n weduwee in die stad Sarepta in Sidon. En in die tyd toe die profeet Elisa gelewe het, was daar baie melaatse mense in die land Israel. Maar die Here het nie een van hulle gesond gemaak nie, net vir Naäman, die Siriër.” Almal in die sinagoge het kwaad geword toe hulle hoor wat Jesus sê. Hulle het opgestaan en vir Jesus weggejaag uit die stad. Hulle stad was op 'n berg, en hulle het Hom gevat tot by die kant van die berg. Hulle wou Hom daar afstamp. Maar Jesus het tussen die mense deur geloop en weggegaan. Jesus het toe na Kapernaum, 'n stad in Galilea, gegaan. Daar het Hy elke Sabbatdag vir die mense geleer. Die mense was baie verbaas oor die dinge wat Hy vir hulle geleer het, want hulle het besef dat wat Hy gesê het, van God gekom het. In die sinagoge was daar 'n man, daar was 'n onrein gees in die man. Die gees het hard geskree en gesê: “Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is. U is die Heilige wat van God kom.” Jesus het met die gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!” Almal het gesien die duiwel gooi die man op die grond. Toe het hy uit die man gegaan, hy het die man nie seergemaak nie. Al die mense was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Die woorde wat hierdie man sê, kom van God. Hy sê vir die onrein geeste om uit te gaan, en dan gaan hulle uit.” Die mense het oral gepraat oor wat Jesus gedoen het. Jesus het weggegaan van die sinagoge en Hy het na Simon se huis gegaan. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het koors gehad. Die mense het vir Jesus gevra om haar te help. Jesus het by haar gaan staan en Hy het kwaai gepraat met die koors. Die koors het weggegaan, en sy het dadelik opgestaan en vir hulle kos gegee. Toe die son ondergaan en die Sabbatdag verby was, het almal hulle siek mense na Jesus toe gebring. Jesus het sy hande op elkeen gesit en Hy het hulle gesond gemaak. Daar het ook duiwels uit baie mense uitgegaan en die duiwels het geskree: “U is die Seun van God.” Die duiwels het geweet Hy is die Christus. Daarom het Jesus kwaai gepraat met hulle en gesê hulle moet stilbly. Die volgende oggend het Jesus na 'n stil plek gegaan om alleen te wees. Baie mense het Hom gesoek. Toe hulle Hom kry, wou hulle nie hê Hy moet weggaan van hulle nie. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek moet ook vir die mense in ander stede die goeie boodskap bring dat God Koning is. Dit is hoekom God My gestuur het.” Jesus het toe aangehou om in die sinagoges in die Jode se land te preek.
LUKAS 4:14-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan; en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie? En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook. En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie. Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar 'n groot hongersnood gekom het in die hele land, en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na 'n weduwee. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër. En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. En Hy het afgekom na Kapérnaüm, 'n stad van Galiléa, en hulle op die sabbat geleer. En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag. EN in die sinagoge was daar 'n man met die gees van 'n onreine duiwel, en hy het met 'n groot stem uitgeskreeu en gesê: Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir 'n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit! En daar het 'n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing. EN Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom. En Simon se skoonmoeder was aangetas deur 'n hewige koors, en hulle het Hom geraadpleeg oor haar. Toe gaan Hy oor haar staan en bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. En toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, mense met allerhande kwale, na Hom gebring, en Hy het een vir een van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak. En duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en gesê: U is die Christus, die Seun van God! En Hy het hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was. En toe dit dag geword het, het Hy uitgegaan en na 'n verlate plek vertrek; en die skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom teëgehou, dat Hy nie van hulle sou weggaan nie. Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur. En Hy het verder in die sinagoges van Galiléa gepreek.
LUKAS 4:14-44 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat. Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’ Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar 'n groot hongersnood in die hele land gekom het. Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.” Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan. Daarna het Hy na Kapernaum toe gegaan, 'n dorp in Galilea, en die mense gereeld op die sabbatdag geleer. Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat. In die sinagoge was daar 'n man wat in die mag was van 'n bose, onrein gees, en hy het hard geskreeu: “Ha! Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die bose gees het die man tussen die mense laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. Almal was baie verbaas, en hulle raak aan die praat en vra vir mekaar: “Wat vir 'n woord is dit dat hy met gesag en mag die onrein geeste gebied, en hulle gaan uit?” En berigte oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei. Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met 'n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Ook bose geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is. Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na 'n eensame plek toe vertrek. Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.” En Hy het voortgegaan om in die sinagoges van die Joodse land te preek.
LUKAS 4:14-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vol van die krag van die Gees, het Jesus na Galilea teruggegaan, en die nuus oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in hulle •sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat. Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die •sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.” Almal het hulle instemming met Hom betuig, en was verwonderd oor die woorde vol genade wat uit sy mond gevloei het. En hulle het gesê: “Is Hy dan nie die seun van Josef nie?” Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou, ‘Geneesheer, genees jouself. Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen daardie dinge nou ook hier in jou tuisdorp.’ ” En Hy het gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Geen profeet is welkom in sy tuisdorp nie. Wat Ek vir julle sê, is die waarheid: In Elia se tyd, toe die hemel vir drie jaar en ses maande gesluit gebly en 'n groot hongersnood in die land geheers het, was daar baie weduwees in Israel. Tog is Elia nie na een van hulle gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat, in die omgewing van Sidon. Daar was ook in die tyd van die profeet Elisa baie melaatses in Israel. Tog is nie één van hulle gereinig nie, maar wel Naäman, die Siriër.” Toe hulle hierdie dinge hoor, het almal in die sinagoge woedend geword. Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. Hierna het Hy na Kapernaum afgegaan, 'n stad in Galilea, waar Hy die mense gereeld op die Sabbatdag onderrig het. Hulle was verbaas oor sy lering, omdat Hy met gesag gepraat het. In die •sinagoge was daar 'n man in wie daar die gees van 'n •onrein demoon was. Hy het kliphard geskreeu: “Ag, los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God! ” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die demoon het die man tussen hulle op die grond laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom te beseer. Almal was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Wat is besonders omtrent hierdie man se woorde, dat Hy die onrein geeste met soveel gesag en mag gebied, en hulle dan die mense verlaat?” Die nuus oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei. Nadat Jesus die •sinagoge verlaat het, is Hy na Simon se huis en het daar ingegaan. Simon se skoonmoeder was siek met 'n hoë koors, en daarom het hulle Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het oor haar gebuk en die koors bestraf, en dit het haar verlaat. Sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. Teen sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Daar het ook demone uit baie mense uitgegaan, terwyl hulle skreeu: “U is die •Seun van God!” Maar Hy het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om te praat nie. Hulle het immers geweet dat Hy die Christus is. Teen dagbreek het Hy vertrek en na 'n verlate plek gegaan. Die skares het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, het hulle Hom probeer verhinder om van hulle af weg te gaan. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.” En Hy het voortgegaan om in die •sinagoges van Judea te preek.
LUKAS 4:14-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n roem van Hom uitgegaan in die hele omtrek. En Hy het in hulle sinagoges geleer, terwyl Hy deur almal verheerlik is. En hy het in Nasaret gekom waar hy grootgeword het; en soos sy gewoonte was, het hy op die sabbatdag in die sinagoge ingegaan en opgestaan om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan hom oorgegee. En toe hy die boek oopmaak, vind hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig; Hy het My gestuur om die gebrokenes van hart te genees, om verlossing aan die gevangenes te verkondig en aan blindes herstel van gesig, om die wat gebroke is in vryheid te laat, Om die aangename jaar van die Here te verkondig. En hy het die boek toegemaak en dit weer aan die bedienaar gegee en gaan sit. En die oë van almal wat in die sinagoge was, was op Hom gevestig. En Hy het vir hulle begin sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. En almal het vir hom getuig en verwonderd oor die vriendelike woorde wat uit sy mond uitgegaan het. En hulle sê: Is dit nie die seun van Josef nie? En Hy sê vir hulle: Julle sal sekerlik vir my hierdie spreekwoord sê: Geneesheer, genees jouself; alles wat ons gehoor het in Kapernaum gedoen, doen ook hier in jou land. En hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet word in sy eie land aanvaar nie. Maar Ek sê voorwaar vir julle, baie weduwees was in Israel in die dae van Elía, toe die hemel drie jaar en ses maande toegesluit was, toe daar groot hongersnood in die hele land was; Maar na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarepta, 'n stad van Sidon, na 'n vrou wat 'n weduwee was. En baie melaatses was in Israel in die tyd van die profeet Eliseus; en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Arameër. En almal wat in die sinagoge was, is vervul met toorn toe hulle dit hoor, En hulle het opgestaan en hom uit die stad uitgedryf en hom gelei na die rand van die heuwel waarop hulle stad gebou is, sodat hulle hom van voor af kon neerwerp. Maar hy wat tussen hulle deur gegaan het, het sy pad gegaan, En hy het afgekom na Kapernaum, 'n stad van Galiléa, en hulle op die sabbatdae geleer. En hulle was verstom oor sy leer, want sy woord was met krag. En in die sinagoge was daar 'n man wat 'n gees van 'n onrein duiwel gehad het, en met 'n groot stem uitgeroep het: en gesê: Laat ons staan; wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? kom jy om ons te vernietig? Ek ken jou wie jy is; die Heilige van God. En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit. En toe die duiwel hom in die middel ingegooi het, het hy uit hom uitgegaan en hom geen leed aangedoen nie. En hulle was almal verbaas en het onder mekaar gepraat en gesê: Wat 'n woord is dit! want met gesag en krag gee Hy die onreine geeste bevel, en hulle gaan uit. En die roem van hom het uitgegaan na elke plek van die land rondom. En hy het uit die sinagoge opgestaan en in die huis van Simon ingegaan. En die moeder van Simon se vrou is met 'n groot koors geneem; en hulle het Hom vir haar gesmeek. En hy het oor haar gaan staan en die koors bestraf; en dadelik het sy opgestaan en hulle bedien. En toe die son ondergaan het, het almal wat siek was aan allerhande siektes, hulle na Hom gebring; en hy het elkeen van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak. En duiwels het ook uit baie uitgegaan en uitgeroep en gesê: U is die Christus, die Seun van God. En Hy wat hulle bestraf, het hulle nie toegelaat om te praat nie. Want hulle het geweet dat Hy Christus is. En toe dit dag geword het, het hy weggegaan en na 'n verlate plek gegaan; En hy sê vir hulle: Ek moet die koninkryk van God ook aan ander stede verkondig, want daarom is ek gestuur. En hy het in die sinagoges van Galilea gepreek.
LUKAS 4:14-44 Die Boodskap (DB)
Vol van die krag van die Heilige Gees het Jesus na Galilea toe teruggekeer. Kort voor lank het almal geweet dat Hy terug is. Jesus het oral in die sinagoges gepreek waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid. Die mense het groot respek vir Jesus gehad. Op ’n dag het Jesus na Nasaret toe gegaan waar Hy grootgeword het. Oudergewoonte het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Bybel te lees, het hulle die boekrol van Jesaja vir Hom gegee. Jesus het dit oopgemaak en begin lees: “Die Gees van die Here is op my. Hy het my aangestel om goeie nuus te bring vir daardie mense op wie almal neersien; van nou af is hulle vir God baie spesiaal. God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy groot jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’” Daarna het Jesus die boekrol toegemaak en dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee. Hy het gaan sit terwyl almal se oë op Hom vasgenael was. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.” Almal in die sinagoge was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat Jesus sulke mooi dinge sê nie. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” het hulle onder mekaar gevra. “Is dit nie verstommend dat hy sulke dinge sê nie?” Toe sê Jesus vir die mense: “Julle sal seker nou vir My sê: ‘Dokter, maak jouself gesond.’ Julle weet mos van al die genesings en wonderwerke wat Ek in Kapernaum gedoen het. Nou wil julle seker hê dat Ek dieselfde dinge hier in my tuisdorp, onder my eie mense moet kom doen. Wel, Ek het nuus vir julle. Geen boodskapper van God word ooit deur sy eie mense aanvaar nie. Kyk maar net na julle eie geskiedenis, dan sal julle sien Ek praat die waarheid. Vat nou maar vir Elia. In sy tyd was daar ’n baie groot hongersnood in Israel. ’n Volle drie en ’n half jaar lank het die mense doodgegaan van die honger. Tog het Elia nie na een van die weduwees in Israel toe gegaan nie. Nee, God het hom net na ’n weduwee in Sarfat, daar in die heidense gebied van Sidon, gestuur. En in die tyd van die profeet Elisa was daar ook baie melaatses in Israel. Tog het God net vir Naäman die Siriër gesond laat word van sy melaatsheid.” Toe die mense in die sinagoge hoor wat Jesus sê, het hulle ontplof van woede. Hulle het opgespring en Jesus hardhandig uit die dorp verwilder. Hulle het Hom na ’n kloof toe gevat op die kant van die berg waarop Nasaret gebou was. Daar wou hulle Hom afgooi. Maar Jesus het eenvoudig tussen hulle deurgestap en uit Nasaret padgegee. Hierna het Jesus na Kapernaum toe gegaan, ’n dorp in Galilea. Toe die sabbat aanbreek, het Hy die inwoners in die Joodse aanbiddingsplek gaan leer wat God van hulle vra. Almal was verstom oor wat Hy gesê het. Daar was soveel gesag in sy woorde. In die sinagoge was daar ’n man wat in die mag van ’n duiwel was. Toe hy naby Jesus kom, het die duiwel hom skielik hard laat skree: “Wat het ons met Jou te doen, Jesus van Nasaret? Los ons uit! Dink Jy miskien dat Jy ons kan kom vernietig? Ek weet baie goed wie Jy is: Jy is daardie man wat van God af kom!” Jesus het die duiwel dadelik stilgemaak: “Bly stil! Gee pad uit die man uit!” Die duiwel het die man toe op die grond neergegooi en padgegee. Gelukkig het hy nie seergekry nie. Almal wat dit gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het onder mekaar begin praat en gesê: “Wie is hierdie man dat hy met ’n enkele woord sulke groot dinge kan laat gebeur? Hy sê net vir die duiwels om pad te gee, dan doen hulle dit!” Kort voor lank was Jesus groot nuus. Almal in daardie omgewing het van Hom gehoor. Almal was aan die praat oor al die groot dinge wat Jesus doen. Nadat Jesus uit die sinagoge gestap het, het Hy na Simon se huis toe gegaan. Daar aangekom, het Hy gehoor dat Simon se skoonma baie siek geword het. Sy het in die bed gelê, vuurwarm van die koors. Haar familie was baie bekommerd oor haar. “Kan U nie iets vir haar doen nie?” het hulle vir Jesus gevra. Hy het toe by haar bed gaan staan en vir die koors gesê: “Gee pad uit haar liggaam uit. Nou dadelik!” Daar op die plek het Simon se skoonma gesond geword. Sy het dadelik uit die bed opgestaan en vir almal kos gemaak. Toe dit aand word, het baie mense hulle siekes na Jesus toe gebring. Jesus het hulle een vir een aangeraak. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle almal gesond gemaak. Jesus het ook ’n hele klomp duiwels uit mense verdryf. Wanneer hierdie duiwels die mense verlaat het, het hulle hard geskree: “U is die Seun van God, U is die Seun van God!” Maar Jesus het hulle beveel om stil te bly. Die bose magte het baie goed geweet dat Hy die Messias is, die Een wat deur God gestuur is om mense te kom verlos. Maar Jesus wou nie hê dat die duiwels moes sê wie Hy is nie. Hy wou dit self doen, op sy eie manier. Die volgende oggend toe dit lig word, het Jesus na ’n verlate plek toe vertrek om ’n bietjie alleen te wees. Die skare het agtergekom dat Hy weg is. Hulle het oral in die omgewing na Hom begin soek. Uiteindelik het hulle Jesus opgespoor. ’n Groot klomp mense het op Hom toegesak. Jesus kon amper nie beweeg nie, so baie mense was daar. Hy het vir hulle gesê: “Ek kan nie net vir julle preek nie. Ek moet die goeie nuus oor God se nuwe wêreld nog in baie ander plekke gaan bekendmaak. Dit is waarvoor God My gestuur het.” Jesus het in die verskillende sinagoges van die Jode gepreek.
LUKAS 4:14-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword. Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. Toe Hy kom in sy tuisdorp Nasaret waar Hy grootgeword het, het Hy soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan en opgestaan om die Skrif te lees. Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig. Hy het My gestuur om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers, en dat die tyd van die Here se goedheid gekom het.” Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk. Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!” Almal wat daar was, het goed van Hom gepraat en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. “Hoe is dit moontlik?” het hulle gevra. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” Toe het Jesus gesê: “Miskien sal julle die spreekwoord vir My aanhaal: ‘Geneesheer, genees jouself’ met die bedoeling: ‘Waarom doen jy nie hier in jou tuisdorp die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het nie?’ Maar die waarheid is, ’n profeet word nie in sy tuisdorp aanvaar nie. “Daar was sekerlik baie weduwees in Israel wat hulp nodig gehad het in Elia se tyd toe dit drie en ’n half jaar nie gereën het nie en hongersnood in die land geheers het. Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon. Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.” Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend. Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was. Hulle wou Hom oor die krans stoot, maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan. Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer. Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat. Op ’n dag toe Hy in die sinagoge was, het ’n man in wie daar die gees van ’n onrein demoon was, begin skree: “Gaan weg! Waarom pla jy ons, Jesus van Nasaret? Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet wie jy is: Die Heilige wat deur God gestuur is!” Jesus het hom kortgevat. “Bly stil!” het Hy vir die bose gees gesê. “Kom uit die man uit!” Die bose gees het die man daar voor almal op die vloer gegooi; toe het die bose gees uit hom gegaan sonder om hom verder seer te maak. Die mense het verbaas uitgeroep: “Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!” Die berig oor wat Jesus gedoen het, het soos ’n veldbrand deur die hele streek versprei. Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met ’n hoë koors was. “Maak haar asseblief gesond,” het almal gesmeek. Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en ’n maaltyd vir hulle voorberei. Met sononder daardie dag het almal hulle siekes na Jesus toe gebring. Ongeag watter siektes hulle gehad het, Jesus het hulle aangeraak en almal genees. Sommige was van bose geeste besete en die bose geeste het op sy bevel uitgekom terwyl hulle skree: “U is die Seun van God.” Maar omdat hulle geweet het dat Hy die Messias is, het Hy hulle tereggewys en verbied om daaroor te praat. Vroeg die volgende môre het Jesus na ’n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie. Maar Hy het geantwoord: “Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor Ek gestuur is.” Hy het dus voortgegaan om in die Joodse sinagoges te preek.