LUKAS 24:32-45 - Compare All Versions

LUKAS 24:32-45 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het. Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?” Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis. Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet. Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.

LUKAS 24:32-45 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was, wat sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn. Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood. EN terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet. En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.

LUKAS 24:32-45 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hulle sê toe vir mekaar: “Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?” Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle, wat die nuus vertel: “Die Here is regtig opgewek, en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breek van die brood. Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle miskien iets te ete hier?” Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis. Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet. Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek nog saam met julle was, het Ek aan julle verduidelik dat alles wat in die wet van Moses en in die profete en die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.” Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan.

LUKAS 24:32-45 DB (Die Boodskap)

“Dis waar!” het hulle bly vir mekaar gesê. “Ons moes dit eintlik al besef het toe Hy netnou so oortuigend uit die Bybel met ons gepraat het. Toe Hy vir ons gewys het wat regtig daar staan, het ons harte omtrent opgewonde geklop!” Dadelik het die twee opgestaan en vinnig in die donker teruggestap Jerusalem toe. Toe hulle daar aankom, is hulle direk na die plek toe waar die elf apostels en die ander volgelinge van Jesus was. Maar voordat die twee ’n woord kon uitkry, sê die apostels en die ander vir hulle: “Ons het goeie nuus vir julle. Jesus leef! Hy het aan Simon Petrus verskyn!” “Ons het net sulke goeie nuus vir julle,” sê die twee. Hulle vertel toe hoe Jesus saam met hulle kom stap het en hoe hulle Hom herken het toe Hy die brood daar in hulle huis gebreek het. Terwyl almal nog opgewonde praat oor wat met Petrus en die twee mans uit Emmaus gebeur het, staan Jesus skielik daar by hulle. “Vrede vir julle,” het Hy vir hulle gesê. Maar die arme klomp het hulle boeglam geskrik. Hulle het gedink dis ’n spook. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Vir wat is julle geloof so klein? Kom staan ’n bietjie nader. Kyk mooi na my hande en na my voete. Sien julle die spykermerke? Dit is Ek, Jesus! Toe, kom vat aan My. Voel my arms en bene. Is julle nou oortuig dat Ek nie ’n spook is nie? ’n Mens kan tog nie aan ’n spook vat nie. Dit het nie vleis en bene nie.” Terwyl Jesus praat, het Hy sy hande en sy voete vir die apostels gewys sodat hulle aan Hom kon vat en kon sien dat dit regtig Hy was. Party van hulle het rondgespring van blydskap terwyl ander Hom net oopmond aangestaar het. Terwyl hulle so verbaas daar rondstaan en nie mooi weet of hulle moet glo wat hulle nou sien nie, sê Jesus vir hulle: “Het julle nie vir My iets om te eet nie?” “Ja, natuurlik,” het hulle geantwoord en dadelik vir Hom gebakte vis voorgesit. Hy het dit daar voor hulle oë opgeëet. Daarna sê Jesus vir die apostels: “Onthou julle dat Ek vroeër vir julle gesê het dat alles wat die Bybel oor My sê binnekort waar sou word? Wel, elke uitspraak oor My in die wet van Moses, en ook in die profete en die psalms, het nou waar geword.” Toe het Jesus gesorg dat hulle meteens verstaan wat die Bybel sê.

LUKAS 24:32-45 ABA (Bybel vir almal)

Die mans het vir mekaar gesê: “Nou weet ons hoekom ons so opgewonde was toe Hy met ons op die pad gepraat het en vir ons alles uit die Bybel verduidelik het.” Die twee mans het dadelik opgestaan en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle het die elf apostels daar gekry en ook die ander mense by hulle. Die apostels en die ander mense het vir die mans vertel dat die Here regtig weer lewe en dat Hy aan Simon verskyn het. Toe het die twee mans vir die apostels en die ander mense vertel wat alles gebeur het. Hulle het gesê hulle het besef dit is Jesus toe Hy die brood gebreek het. Die apostels was nog besig om oor hierdie dinge te praat, toe het Jesus tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “God sal vir julle vrede gee.” Hulle het groot geskrik, hulle het gedink hulle sien 'n spook. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom skrik julle so? En hoekom glo julle nie wat julle sien nie? Kyk na my hande en my voete. Julle sal sien dit is Ek. Kom raak aan My, julle sal sien Ek het 'n liggaam, 'n spook het nie vleis en been nie.” Jesus het dit gesê, en Hy het sy hande en sy voete vir hulle gewys. Hulle was bly maar hulle kon nie glo wat hulle sien nie en hulle het nie geweet wat om te sê nie. Toe vra Jesus vir hulle: “Het julle hier iets wat Ek kan eet?” Hulle het vir Hom 'n stuk gaar vis gegee. Jesus het dit geneem en hulle het gekyk terwyl Hy dit eet. Daarna het Jesus vir hulle gesê: “Onthou julle wat Ek gesê het voor Ek gesterf het en weer begin lewe het? Ek het toe vir julle gesê dat alles waar moet word wat in die boeke van Moses geskryf is oor My, en ook in die boeke van die profete en in die boek Psalms.” Toe het Jesus vir hulle gesê hoe hulle die Bybel moet verstaan.

LUKAS 24:32-45 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

En hulle het vir mekaar gesê: “Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?” Hulle het onmiddellik opgestaan en na Jerusalem teruggekeer, waar hulle die elf, en die ander saam met hulle, bymekaar gevind het. En hulle het gesê: “Die Here is werklik uit die dood opgewek en het aan Simon verskyn!” Hulle verduidelik toe wat op die pad gebeur het, en hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het. Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle 'n gees sien. Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – 'n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” En hulle het Hom 'n stuk geroosterde vis gegee. Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet. Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die •Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word. ” Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan

LUKAS 24:32-45 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En hulle sê vir mekaar: Het ons hart nie in ons gebrand toe Hy met ons op die pad gepraat het en die Skrif vir ons oopgemaak het nie? En hulle het in dieselfde uur opgestaan en na Jerusalem teruggekeer en die elf bymekaar gevind en die wat by hulle was, en gesê: Die Here het waarlik opgestaan en aan Simon verskyn. En hulle het vertel wat op die pad gebeur het, en hoe Hy van hulle bekend was by die breking van die brood. En terwyl hulle so spreek, het Jesus self in die midde van hulle gestaan en vir hulle gesê: Vrede vir julle! Maar hulle was verskrik en beangs en het gedink dat hulle 'n gees gesien het. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld? en waarom kom gedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dat dit Ek is; hanteer my en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat ek het nie. En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En terwyl hulle uit blydskap nog nie geglo het nie, en hulle verwonderd het, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? En hulle het vir hom 'n stuk gebraaide vis en 'n heuningkoek gegee. En hy het dit geneem en voor hulle geëet. En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles vervul moet word wat geskrywe is in die wet van Moses en in die profete en in die psalms, aangaande ek. Toe het Hy hulle verstand geopen, sodat hulle die Skrifte kon verstaan