LUKAS 24:1-20

LUKAS 24:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Baie vroeg die Sondag-oggend het die vroue na die graf gegaan. Hulle het lekkerruik-olie gereedgemaak en hulle het dit saamgeneem. By die graf het hulle gesien iemand het die klip voor die graf weggerol. Hulle gaan toe by die graf in, maar sien nie die liggaam van die Here Jesus daar binne nie. Die vroue was baie verbaas daaroor. Skielik het daar twee mans by hulle gestaan, die mans het blink klere aangehad. Die vroue het bang geword en hulle het laag gebuig. Toe sê die mans vir hulle: “Hoekom soek julle die Een wat lewe by die mense wat dood is? Jesus is nie hier nie, God het Hom weer laat lewe. Onthou julle wat Jesus vir julle vertel het toe julle nog in Galilea was? Hy het gesê God sal Hom, die Seun van die mens, vir sondige mense gee om dood te maak, hulle sal Hom kruisig, maar Hy sal op die derde dag weer lewe.” Die vroue het toe onthou dat Jesus dit gesê het. Daarna het die vroue teruggegaan huis toe. Hulle het alles vir die elf apostels en die ander gelowiges vertel. Die vroue wat hierdie dinge gesien het, was Maria Magdalena, Johanna, Maria ma van Jakobus, en die ander vroue wat by hulle was. Toe hulle hierdie dinge vir die apostels vertel, het die apostels gedink die vroue praat nonsens, en hulle het die vroue nie geglo nie. Petrus het opgestaan en hy het na die graf gehardloop. Hy het gebuk en by die graf ingekyk en gesien daar lê net lappe. Hy het teruggegaan en hy was baie verbaas oor wat gebeur het. Dieselfde Sondag het twee van die mense wat ook altyd by Jesus se dissipels was, na die dorpie Emmaus geloop. Emmaus was 60 stadioi van Jerusalem. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus. Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop. Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie. Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?” Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer. Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?” Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?” Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was 'n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet. Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig.

LUKAS 24:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was. En hulle het die steen van die graf afgerol gevind. En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere. En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan. En hulle het sy woorde onthou. Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander. En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het. En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie. Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het. EN twee van hulle was dieselfde dag op pad na 'n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het.

LUKAS 24:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.” Toe het hulle sy woorde onthou en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie. Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe. Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Met somber gesigte gaan hulle staan, en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het.

LUKAS 24:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Teen dagbreek, op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan met die geurige speserye wat hulle voorberei het. Hulle ontdek toe dat die klip van die graf weggerol was; en toe hulle ingaan, het hulle die Here Jesus se liggaam nie gekry nie. Hulle was verward hieroor, maar skielik het daar twee mans met glansende klere by hulle gestaan. Hulle was verskrik en het hulle gesigte na die grond toe gedraai, en die mans het vir hulle gesê: “Waarom soek julle die lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, ‘Die •Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.’ ” Hulle het toe sy woorde onthou en van die graf af teruggedraai, en al hierdie dinge aan die elf en al die ander gaan vertel. Dit was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en 'n paar ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die •apostels vertel; maar vir die apostels het hierdie woorde na leë praatjies geklink, en hulle het die vroue nie geglo nie. •Petrus egter het opgestaan en na die graf gehardloop. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke. En hy het teruggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het. En kyk, juis op dié dag was twee van hulle op pad na 'n dorp met die naam Emmaus, sestig stadion van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer?” Hulle het gaan staan, hulle gesigte somber. Een van hulle, met die naam Kleopas, het Hom geantwoord: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” Hy vra hulle: “Watter dinge?” En hulle antwoord Hom: “Dit wat gebeur het met Jesus van Nasaret, 'n profeet, magtig in woord en daad in die oë van God en die hele volk, en hoe die leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig het.

LUKAS 24:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En op die eerste dag van die week, baie vroeg in die môre, het hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat hulle voorberei het, en sommige ander saam met hulle. En hulle het gevind dat die klip van die graf weggerol is. En hulle het ingegaan en die liggaam van die Here Jesus nie gevind nie. En dit het gebeur, terwyl hulle baie verward daaroor was, kyk, daar staan twee manne by hulle in blink klere. En terwyl hulle bang was en hul aangesig na die aarde neerbuig, sê hulle vir hulle: Waarom soek julle die lewende onder die dooies? Hy is nie hier nie, maar het opgestaan; onthou hoe Hy met julle gespreek het toe Hy nog in Galilea was, en gesê: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan. En hulle het sy woorde onthou, En hy het van die graf af teruggekeer en al hierdie dinge aan die elf en al die ander vertel. Dit was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en ander vroue wat by hulle was, wat hierdie dinge aan die apostels vertel het. En hulle woorde het vir hulle gelyk as slinkse sprokies, en hulle het dit nie geglo nie. Toe staan Petrus op en hardloop na die graf; En toe hy vooroor gebuk het, sien hy die linneklere wat by hulleself lê, en hy het weggegaan terwyl hy in homself verwonderd was oor wat gebeur het. En kyk, twee van hulle het dieselfde dag gegaan na 'n dorpie met die naam van Emmaus, wat omtrent sestig myl van Jerusalem af was. En hulle het saam gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het. En terwyl hulle met mekaar praat en redeneer, het Jesus self nader gekom en saam met hulle gegaan. Maar hulle oë was vasgehou dat hulle Hom nie sou ken nie. En Hy sê vir hulle: Watter soort woorde is dit wat julle onder mekaar het terwyl julle wandel en bedroef is? En die een van hulle, wie se naam Kleopas was, antwoord en sê vir hom: Is jy net 'n vreemdeling in Jerusalem en weet jy nie die dinge wat in hierdie dae daar gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle sê vir hom: Aangaande Jesus van Nasaret, wat 'n profeet was, magtig in daad en woord voor God en die hele volk. En hoe die owerpriesters en ons owerstes Hom oorgegee het om ter dood veroordeel te word en Hom gekruisig het.

LUKAS 24:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Douvoordag op die Sondagoggend het die vroue na die graf toe gegaan met die aromatiese olie wat hulle voorberei het. Daar aangekom, kry hulle die steen weggerol van die ingang van die grotgraf af. Hulle het ingegaan, maar nie die liggaam van die Here Jesus daar gekry nie. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan daaroor. Skielik staan daar tussen hulle twee mans met helder blink klere aan. Die vroue was verskrik en het hulle gesigte afgebuig grond toe. Die mans sê vir hulle: “Waarom soek julle die lewende tussen die lyke? Hy is nie meer hier nie, maar is opgewek. Onthou julle hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: ‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag weer opstaan’?” Hulle het toe sy woorde onthou, en teruggedraai van die graf af en al hierdie dinge aan die elf en al die ander vertel. Die vroue was Maria Magdalena, Johanna, Maria, die ma van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die apostels gaan vertel, maar vir laasgenoemdes het hierdie dinge soos kletspraatjies geklink en hulle het die vroue nie geglo nie. Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy buk om in te loer, sien hy net die linnedoeke. Verbaas oor wat gebeur het, is hy terug huis toe. En kyk, op dieselfde dag was twee uit hulle geledere op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem. Hulle was druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self nadergekom en saam met hulle verder geloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Oor watter sake loop julle só ernstig en redeneer?” Met somber gesigte het hulle gaan stilstaan. Een van hulle wat Kleopas genoem word, antwoord Jesus toe: “U is seker die enigste buitelander in Jerusalem wat nie kennis dra van al die dinge wat gedurende hierdie dae in die stad gebeur het nie.” Jesus reageer en vra hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Dié dinge wat gaan oor Jesus van Nasaret. Hy was ’n profeet, kragtig in woord en daad voor God en die hele volk. Maar die priesterhoofde en ons volksleiers het Hom uitgelewer om tot die dood veroordeel en gekruisig te word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid