LUKAS 21:5-36

LUKAS 21:5-36 Bybel vir almal (ABA)

Party van die mense het gepraat oor hoe mooi die tempel is. Die bouers het die mure gebou met mooi klippe en hulle het dit mooi gemaak met gewyde presente. Toe sê Jesus: “Daar sal 'n tyd kom wanneer vyande al hierdie geboue sal afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie.” Die mense het toe vir Jesus gevra: “Wanneer sal die dinge gebeur waarvan U praat? Watter teken sal vir ons wys wanneer al hierdie dinge sal gebeur?” Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie. Baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ Hulle sal ook sê: ‘Die regte tyd het nou gekom.’ Maar julle moet hulle nie glo nie. Julle moenie skrik wanneer julle hoor die mense maak oorlog of hulle is ongehoorsaam aan hulle regerings nie. Hierdie dinge moet eers gebeur, maar dit is dan nog nie dadelik die einde van alles nie.” Toe het Jesus vir die mense gesê: “Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land oorlog maak. Daar sal groot aardbewings wees, op baie plekke sal daar hongersnood wees. Baie mense sal siek word en sterf. Daar sal vreeslike dinge gebeur, en daar sal tekens in die lug wees, tekens wat 'n mens bangmaak. Maar voor al hierdie dinge gebeur, sal die mense julle vang en hof toe vat in die sinagoges, en hulle sal julle in die tronk gooi. Hulle sal julle ook hof toe vat voor konings en goewerneurs omdat julle aan My behoort. Dan kan julle vir hulle van My vertel. Julle moet besluit om nie voor die tyd gereed te maak vir wat julle sal sê wanneer julle in die hof kom nie, want Ek sal vir julle sê wat julle moet sê. Julle sal soos wyse mense praat en julle vyande sal nie weet wat om te antwoord nie, hulle sal nie kan sê julle praat verkeerd nie. Ook julle ouers, julle broers, julle familie en julle vriende sal vir julle hof toe vat. Hulle sal party van julle ook doodmaak. Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort. Maar julle sal nie verlore gaan nie, nie een haar van julle kop sal verlore gaan nie. As julle aanhou glo, dan sal julle die ewige lewe kry.” “Wanneer julle sien die soldate van die vyande is rondom Jerusalem, dan moet julle weet dit is nog net 'n kort tydjie, dan sal die vyande Jerusalem verwoes. Wanneer dít gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. En die mense in Jerusalem moet weghardloop. En die mense buite die stad moenie na Jerusalem kom nie. Want dit sal 'n tyd wees wanneer God die mense van Jerusalem sal straf, sodat alles kan gebeur wat in die Ou Testament geskryf is. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat babas verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Want die mense in die land Judea sal swaarkry, God sal dan begin om hulle swaar te straf. Die vyande sal party mense van Judea doodmaak. En hulle sal ander mense vang en wegvat na al die ander volke van die wêreld. Ander mense sal in Jerusalem kom woon en hulle sal die stad ontwy. En al hierdie dinge sal aanhou totdat die tyd kom wanneer die Here die volke sal straf.” “Daar sal wonderlike dinge gebeur met die son en die maan en die sterre. Die mense op die aarde sal baie bang word, want alles sal deurmekaar wees. Die branders van die see sal so wild word dat die mense nie sal weet wat gebeur nie. Mense sal sterf omdat hulle bang is, omdat hulle sal weet dat vreeslike dinge in die wêreld sal gebeur. Ja, God sal die hemel skud en alles wat daarin is. Dan sal almal vir My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom, en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, dan moet julle ophou om moedeloos te wees, want dan weet julle dat God julle gou sal kom vrymaak.” Jesus het vir sy dissipels 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Julle moet kyk na die vyeboom en al die ander bome. Wanneer die blare begin groei, dan weet julle en kan julle self sien die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die tyd is naby wanneer God Koning sal wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Julle moet oppas, julle moenie julle geld mors en dronk word en bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, want dan sal julle vir God vergeet. En die dag wanneer God Koning sal word, sal dan vir julle te skielik kom. Dit sal wees soos 'n vangstrik wat skielik 'n voël vang. Ja, dit sal skielik gebeur met al die mense wat op die aarde woon. Julle moet altyd gereed wees. Julle moet bid dat julle krag sal hê om weg te vlug van al hierdie dinge wat gou sal gebeur. Julle moet bid dat julle gereed sal wees wanneer die Seun van die mens julle sal oordeel.”

LUKAS 21:5-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy: Hierdie dinge wat julle sien — daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie. En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur? En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie. En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie. Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom. Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. En dit sal vir julle uitloop op 'n getuienis. Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie. Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie. Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam. En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie. Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry. EN wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal 'n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. EN daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. MAAR pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.

LUKAS 21:5-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: “Alles wat julle sien – daar sal 'n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.” Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?” Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.” Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af. “Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig. Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie. Deur julle volharding moet julle julleself red.” “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.” “Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op 'n wolk sien kom. As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

LUKAS 21:5-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Terwyl sommige praat oor die tempelterrein, oor die mooi stene en die gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: “Dit wat julle hier sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op 'n ander gelaat word nie; alles sal afgebreek word.” Hulle het Hom toe gevra: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?” Hy het geantwoord: “Pasop dat julle nie mislei word nie, want daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê, ‘Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’ Moenie agter hulle aanloop nie. Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie vreesbevange raak nie, want hierdie dinge moet eers gebeur; maar dit sal nie onmiddellik die einde wees nie.” Verder het Hy ook vir hulle gesê: “Een nasie sal teen 'n ander nasie optrek, en een koninkryk teen 'n ander koninkryk. Daar sal hewige aardbewings wees, en op een plek ná die ander sal daar hongersnood en epidemies uitbreek. Daar sal groot en skrikwekkende tekens uit die hemel kom. Maar voor al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle gevange neem en julle vervolg. Hulle sal julle aan die •sinagoges oorlewer en in die tronke opsluit; hulle sal julle voor konings en prokurators sleep ter wille van my Naam. Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om te getuig. Neem julle dan voor om nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie, want Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie. Julle sal selfs deur julle ouers, broers, familie en vriende uitgelewer word, en hulle sal sommige van julle doodmaak. Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. Red julle lewens deur te volhard.” “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel is, moet julle weet dat haar verwoesting naby is. Dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, en hulle wat binne die stad self is, moet uitgaan, en hulle wat op die platteland is, moet die stad nie binnegaan nie; want daardie dae is dae van vergelding, sodat alles wat geskryf is, vervul sal word. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed, want daar sal groot nood in die land wees en straf vir hierdie volk. Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word , totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is. ” “Dan sal daar tekens wees in die son en die maan en die sterre, en op die aarde sal die nasies beangs en verward wees oor die gedreun en hoë golwe van die see. Mense sal flou val van vrees en vermoedens oor wat die wêreld gaan tref, want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle ‘die •Seun van die Mens op 'n wolk sien kom’ met krag en groot heerlikheid. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan op en lig julle koppe, want julle bevryding is naby. ” Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel: “Kyk na die vyeboom en al die ander bome. Wanneer hulle reeds bot, merk julle dit self op en weet dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die •koninkryk van God naby is. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie. “Wees op julle hoede dat julle harte nie belas word deur oormatige gefuif en dronkenskap en die bekommernisse van die lewe, en daardie dag julle onverwags betrap soos 'n valstrik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. Wees te alle tye waaksaam , en bid dat julle in staat sal wees om al hierdie dinge wat gaan gebeur, te ontvlug, en voor die •Seun van die Mens te kan staan. ”

LUKAS 21:5-36 Die Boodskap (DB)

Daarna het party van Jesus se volgelinge met mekaar gestaan en praat oor hoe mooi die tempel is. Hulle het hulle verkyk aan die reuseklippe en aan al die pragtige versierings. Jesus sê toe: “Een van die dae sal daar niks oor wees van alles wat julle nou hier voor julle eie oë sien nie. Hierdie gebou gaan tot op die grond afgebreek word.” Toe sê sy volgelinge benoud vir Hom: “Leermeester, sê vir ons wanneer dit gaan gebeur. Sê asseblief ook vir ons hoe ons sal weet wanneer die einde van die wêreld naby is.” “Wees versigtig vir daardie mense wat allerlei stories hieroor opmaak,” sê Jesus toe vir hulle. “Baie mense sal sommer uit die bloute hier by julle opdaag en sê: ‘Kyk, dit is Ek, die Messias! Nou is God se nuwe wêreld uiteindelik hier!’ Maar moenie na hulle luister nie. Hulle is ’n spul leuenaars. “Wanneer mense begin oorlog maak en mekaar probeer uitwis, is die einde ook nog nie daar nie. Moenie dan paniekerig raak nie. Hierdie dinge gaan nog alles gebeur. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser probeer ontslae raak. Daar sal ook op baie plekke aardbewings wees en kos sal baie skaars raak. Hongersnood sal aan die orde van die dag wees. So ook allerhande siektes. Groot rampe sal die aarde tref. Al dié slegte dinge sal die aarde teister. “Net voor al hierdie dinge gebeur, sal julle ook baie swaarkry. Ongelowiges sal julle vang en julle mishandel. En mense wat maak asof hulle godsdienstig is, sal julle voor hulle leiers aankla. Baie van julle sal in tronke gegooi word. Julle sal ook in die howe en voor hooggeplaaste mense gedaag word omdat julle in My glo. Maar moenie bekommerd wees nie. Daar sal wonderlike geleenthede wees om vir My te getuig. Moenie ’n slapelose nag hê oor wat julle moet sê nie. Ek sal julle saak hanteer. Ek sal presies die regte woorde vir julle gee om te sê. Ek sal julle soveel wysheid gee dat julle vyande se monde van verbasing sal oophang. Hulle sal nie weet wat om julle te antwoord nie. “Die slegte nuus is dat julle vyande partykeer uit julle eie huis sal kom. Julle ouers en julle broers en susters, ja, julle eie familie en julle beste vriende sal julle in die rug steek. Hulle sal julle soos misdadigers uitlewer. Party van hulle sal selfs so ver gaan om julle dood te maak. “Die mense sal julle haat en met julle spot omdat julle my volgelinge is. Maar moenie bang wees nie. Daar sal nie ’n haar uit julle koppe val sonder God se wete nie. Hou maar net aan glo. Onthou: God se nuwe wêreld wag op almal wat tot die bitter einde toe volhard.” “As julle die dag sien dat ’n vreemde leër besig is om Jerusalem te omsingel, moet julle weet dat sy dae getel is. Dan moet julle so gou moontlik daar padgee. Gaan kruip iewers in die heuwels in Judea weg. Maak net dat julle wegkom! As julle dalk buite Jerusalem bly en op pad soontoe is, draai dadelik om. Want dit sal ’n verskriklike tyd wees. God se oordeel sal dan op Jerusalem uitgegiet word net soos die profete lankal gewaarsku het. “Ek kry veral vroue jammer wat dan verwag of wat nog klein babatjies het. Hulle gaan bitter swaarkry! Want oral gaan daar groot bloedvergieting en lyding wees. Dit sal ’n tyd van wraak wees soos Jerusalem nog nooit beleef het nie. Baie mense sal in daardie tyd doodgemaak word of as gevangenes na ander lande toe weggevat word. Ander volke sal in Jerusalem instroom en dit onder hulle voete vertrap. Hierdie dinge sal aanhou totdat God uiteindelik besluit dis genoeg.” “Op ’n dag sal verskriklike dinge begin gebeur. “Die son, die maan en die sterre sal skielik onheilspellend begin verander. Hulle sal nie meer dieselfde lyk nie. Hulle sal begin skud en uit die hemel val. “Oral op die aarde sal chaos losbreek. Die natuurwette wat alles in die skepping beheer, sal skielik hulle krag verloor. Dan sal die see oor almal begin spoel. “Al hierdie dinge sal die mense rasend van vrees maak. Almal sal doodbang wees. Maar dan, skielik, sal die Seun daar wees. Almal sal Hom sien wanneer Hy met sy hemelse krag en heerlikheid op die toneel verskyn. “Wanneer al hierdie dinge begin gebeur, moet julle nie bang wees nie. Want God se nuwe wêreld waarna julle so uitgesien het, is dan voor die deur. Begin solank kyk of julle nie al die Seun sien aankom nie, want Hy gaan enige oomblik op die toneel verskyn! “Julle het netnou gevra wanneer al hierdie dinge gaan gebeur. Wel, luister gou na hierdie voorbeeld uit die natuur. Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle blaartjies en blommetjies begin maak, weet hy dat die somer net om die draai is. Nou ja, al hierdie dinge wat Ek so pas vir julle vertel het, moet vir julle soos die ‘blaartjies en blommetjies’ wees wat sê dat God se nuwe wêreld voor die deur is. “Luister mooi. Wat Ek nou sê, is spesiaal vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dis net praatjies nie. Julle dink die hemel en die aarde staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde nog honderd maal vaster staan. “Staan reg vir daardie groot dag. Wees gereed. Moenie julle oorgee aan dronkpartytjies en allerhande vieslike sondes nie. Moet ook nie so besig raak met julle werk dat julle vergeet om te kyk hoe laat dit al op God se horlosie is nie. Dan gaan daardie dag julle heeltemal onkant betrap. Moenie soos baie ander mense op die laaste dag benoud begin rondhardloop omdat julle nie gereed is nie. “Ek waarsku julle nou voor die tyd: kry julle lewe in orde. Vandag nog! Bid elke dag dat die Here julle sal oppas en julle sal help om reg te leef. Dan sal julle vol vreugde voor die Seun van die mens gaan staan.”

LUKAS 21:5-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl sommige druk in gesprek was oor die tempel, oor die mooi klipblokke en gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: “Hierdie dinge wat julle sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op ’n ander een sal oorbly nie. Alles sal gesloop word.” Hulle vra toe vir Jesus: “Leermeester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan gebeur?” In reaksie daarop het Jesus gesê: “Pas op sodat julle nie mislei word nie, want baie sal na vore tree en maak of hulle namens My optree en sê: ‘Ek is die een,’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! Wanneer julle ook al hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie, want hierdie dinge moet eers gebeur, maar die einde volg nie onmiddellik nie.” Daarop het Hy aan hulle gesê: “Nasie sal teen nasie optrek en koninkryk teen koninkryk. Daar sal hewige aardbewings wees, en van plek tot plek sal daar hongersnood en epidemies wees. Daar sal vreesaanjaende dinge voorkom en magtige tekens van die hemel af. “Nog voordat al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle arresteer en vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges en tronke oorlewer; hulle sal julle voor konings en goewerneurs sleep omdat julle in my Naam optree. Dit sal aan julle ’n geleentheid gee om te getuig. “Neem julle nou reeds voor om julle nie te bekommer oor julle verdediging nie, want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie. Julle sal uitgelewer word deur ouers, broers, familie en vriende, en hulle sal sommige van julle doodmaak. Julle sal ook deur almal gehaat word omdat julle in my Naam optree. Maar selfs nie ’n haar op julle kop sal verlore gaan nie. Deur julle volharding sal julle julle lewe behou.” “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle kennis neem dat sy vernietiging aangebreek het. Dan moet die mense wat in Judea is, na die berge toe vlug, en die mense wat in die middel van die stad self is, moet dit ontruim, en die mense wat op die platteland is, moet nie Jerusalem binnegaan nie. “Daardie dae is dae van vergelding sodat wat geskryf staan in vervulling moet gaan. Groot ellende wag op die verwagtende vroue en ook op dié wat nog borsvoed gedurende daardie dae, want daar sal groot benoudheid in die land heers en God se toorn sal op hierdie volk rus. Sommige sal deur die skerpkant van die swaard omkom en ander sal as gevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal vertrap word deur die vreemde nasies totdat die tyd van die nasies verby is.” “Daar sal wondertekens wees wat die son, maan en sterre betref. En op die aarde sal daar onrus onder die nasies wees uit angs vir die gebulder van die see en sy golwe. “Mense word flou van vrees en van die voorbodes oor wat nog vir die wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemel sal geskud word. En dan sal hulle vir My, die Seun van die Mens, sien kom op ’n wolk met krag en groot heerlikheid. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.” Jesus het toe aan hulle ’n gelykenis vertel: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Wanneer julle sien dat hulle begin bot, weet julle uit julle eie dat die somer naby is. Net so weet julle ook dat die koningsheerskappy van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. “Ek verseker julle, hierdie geslag sal beslis nie uitsterf voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde sal beslis nie vergaan nie.” “Spits julle daarop toe dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie, en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n strik oorval nie. Want daardie dag sal oor al die aardbewoners kom. Wees wakker en bid altyddeur vir krag om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid