LUKAS 19:28-40

LUKAS 19:28-40 Bybel vir almal (ABA)

Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, het Hy verder gegaan na Jerusalem. Toe Hy naby die dorpies Betfage en Betanië op die Olyf-berg kom, het Jesus twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle 'n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit 'n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hier. En wanneer iemand vir julle vra hoekom julle die donkie losmaak, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik.” Daardie twee dissipels het toe gegaan en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Toe hulle die donkie losmaak, het sy eienaars vir die dissipels gevra: “Hoekom maak julle die donkie los?” Die dissipels het gesê: “Die Here wil hom gebruik.” Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe, en hulle gooi van hulle klere oor die donkie, en hulle tel Jesus op die donkie. Daarna het Jesus verder gery op die donkie, en die mense het van hulle klere op die pad voor Hom oopgegooi. Toe Jesus naby Jerusalem kom, op die pad wat van die Olyf-berg na onder gaan, was al die mense wat saam met Jesus geloop het, baie bly. Hulle het hard begin skree en hulle het God geprys oor al die wonderlike dinge wat hulle gesien het. Hulle het geskree: Prys die Man wat kom! Hy is die Koning, die Here het Hom gestuur! Daar is vrede in die hemel, God in die hoogste hemel is Koning! Party van die Fariseërs wat tussen die mense was, het vir Jesus gesê: “Meneer, jy moet vir jou dissipels sê hulle moet stilbly. Hulle mag nie hierdie dinge sê nie.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, dan sal die klippe hard skree en dit sê.”

LUKAS 19:28-40 Die Boodskap (DB)

Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit. Hy kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. “Gaan gou na Betfage toe,” sê Jesus vir twee van sy volgelinge. “Nes julle die dorp inkom, sal julle ’n jong donkie daar kry. Niemand het nog ooit op hom gery nie. Bring hom vir My. As iemand vra wat julle doen, sê dan: ‘Die Here het hierdie donkie nodig.’” Die twee volgelinge het toe na Betfage gegaan en die jong donkie daar gekry. Terwyl hulle hom losmaak, kom sy eienaars daar aan en sê: “Wat vang julle aan? Hoekom maak julle die donkie los?” “Die Here het hom nodig,” het hulle geantwoord. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe. Daarna het die dissipels hulle klere gevat en ’n saal vir Hom gemaak waarop Hy kon sit. Toe Jesus begin ry, het hulle hulle klere uit respek voor Hom in die pad neergesit. Toe Jesus naby die lang afdraande kom wat van die Olyfberg af na Jerusalem toe loop, het ’n groot klomp van sy volgelinge begin om God hardop te loof en te prys. Hulle was baie bly oor al die groot dinge wat Hy gedoen het. Hulle het Jesus soos ’n koning daar in Jerusalem verwelkom en hard uitgeroep: “Prys Hom wat as Koning in die Naam van die Here kom! Nou seëvier God se hemelse vrede. Al die eer kom die allerhoogste God toe.” ’n Klompie Fariseërs wat ook in die skare was, was baie geskok oor hierdie woorde. Hulle sê toe: “Leermeester, hou jou dissipels in toom! Jy kan mos nie toelaat dat hulle sulke dinge oor jou sê nie!” Jesus antwoord: “En waarom nie? As hulle sou stilbly, sou die klippe hier langs die pad dieselfde oor My uitroep!”

LUKAS 19:28-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe. Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant; by die ingang sal julle ’n donkie kry wat vasgemaak is, waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hier. As enigiemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só sê: ‘Die Here het hom nodig.’” Die twee dissipels wat deur Jesus gestuur is, gaan kry toe alles net soos Hy vir hulle gesê het. Terwyl hulle besig is om die donkie los te maak, sê sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?” Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.” Hulle het die donkie na Jesus toe gebring. Hulle het hulle bo-klere op die donkie oopgesprei, en Jesus laat opklim. Terwyl Jesus vorentoe beweeg, het die mense hulle bo-klere op die pad oopgesprei. Toe Hy naderkom, reeds op die afdraand van die Olyfberg, het die groot skare dissipels God uit volle bors begin loof en prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. Hulle het gesing: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!” Sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Jesus gesê: “Leermeester, bestraf jou dissipels!” Jesus het gereageer: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”