LUKAS 12:1-3
LUKAS 12:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus met die Fariseërs en die skrifgeleerdes gepraat het, het daar ander mense ook gekom. Daar was so baie mense dat hulle mekaar raakgetrap het. Jesus praat toe eers met sy dissipels. Hy het gesê: “Julle moet oppas vir die Fariseërs, hulle is vals. Hulle is soos suurdeeg, 'n mens sien nie dat dit werk nie. Mense kan probeer om dit weg te steek dat hulle vals is, maar God sal dit vir almal wys. Mense doen nou dinge in die geheim, maar God sal vir almal sê wat dit is. Dieselfde sal gebeur wanneer julle die goeie boodskap oor My vir die mense bring. Alles wat julle nou oor My in die donker sê omdat julle bang is, sal God vir almal laat weet wanneer dit lig is. En alles wat julle nou oor My vir iemand in 'n huis saggies fluister in sy oor, sal God vir almal laat weet. Mense sal dan op die huise se dakke staan en skree en dit vir almal sê.”
LUKAS 12:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het, begin Hy aan sy dissipels te sê: Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid. En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.
LUKAS 12:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.”
LUKAS 12:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl die skare in hulle duisende saamdrom, sodat hulle mekaar byna vertrap, begin Jesus toe eers met sy dissipels praat: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs, dit is, hulle skynheiligheid. Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.”
LUKAS 12:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Intussen, toe daar 'n ontelbare menigte mense bymekaar was, sodat hulle op mekaar getrap het, het Hy eerstens vir sy dissipels begin sê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is skynheiligheid. Want daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie; ook nie weggesteek nie, wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die duisternis gespreek het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor in die binnekamer gespreek het, sal op die dakke verkondig word.
LUKAS 12:1-3 Die Boodskap (DB)
Intussen het duisende mense na Jesus toe gestroom. Tussen die gedrang deur sê Hy vir sy dissipels: “Julle moet lig loop vir die Fariseërs. Met hulle skewe leerstellings maak hulle almal heeltemal deurmekaar. Hulle is ’n klomp skynheiliges. “Gelukkig kan mense se leuens nooit die waarheid in ’n bottel toeskroef nie. Die een of ander tyd sal die waarheid uitkom. Onthou: wat julle ook al in die geheim sê, sal wel bekend word. Kort voor lank word julle diepste geheime sommer nog van die dakke af uitbasuin. Wees daarom baie versigtig wat julle sê.”
LUKAS 12:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Intussen het die skares aangegroei tot duisende wat rondgemaal en mekaar vertrap het. Jesus het Hom eerstens tot sy dissipels gerig en hulle gewaarsku: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, naamlik hulle skynheiligheid. Die tyd kom dat alles openbaar sal word; alles wat geheim gehou word, sal onthul word. Wat julle ook al in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote deure gefluister het, sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!”