LUKAS 1:26-31
LUKAS 1:26-31 Bybel vir almal (ABA)
Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea. God het hom gestuur na 'n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was 'n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was 'n maagd. Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.” Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken. Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou. Jy sal swanger word en jy sal 'n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem.
LUKAS 1:26-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.
LUKAS 1:26-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.
LUKAS 1:26-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem.
LUKAS 1:26-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die sesde maand is die engel Gabriël van God gestuur na 'n stad in Galilea met die naam van Nasaret, Aan 'n maagd wat verloof is aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar ingekom en gesê: Wees gegroet, jy wat baie goed is, die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy ontsteld oor sy woord, en het haar in gedagte gehad watter groet dit sou wees. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal in jou skoot swanger word en 'n seun baar, en jy moet hom JESUS noem.
LUKAS 1:26-31 Die Boodskap (DB)
In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!” Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem.
LUKAS 1:26-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid. Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!” Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem.