LEVITIKUS 26:14-21
LEVITIKUS 26:14-21 Bybel vir almal (ABA)
“Julle sal miskien nie gehoorsaam wees aan My nie, en julle sal miskien nie alles doen wat my gebooie sê nie. As julle wys dat julle dink my wette is nie belangrik nie en as dit vir julle moeilik is om te doen wat Ek besluit, en julle breek my verbond, dan sal Ek hierdie dinge aan julle doen: Ek sal julle baie bang laat word, julle sal tering en hoë koors kry. Dit sal julle blind maak en dit sal julle stadig laat sterf. Julle sal koring en gars saai, maar julle sal niks koring of gars afsny nie, julle vyande sal dit eet. Ek sal julle vyand word. Julle vyande sal julle oorwin en hulle sal oor julle regeer. Julle sal vlug, ook wanneer niemand julle jaag nie. En as julle dan nog nie gehoorsaam wil wees aan My nie, dan sal Ek aanhou om julle te straf oor julle sondes. Ek sal alles wegvat waarop julle trots is, die hemel bo-oor julle sal soos yster word sodat dit nie sal reën nie, en die aarde sal soos koper word sodat daar niks sal groei nie. Julle sal werk maar julle sal niks kry nie, daar sal nie koring en gars op die lande wees of vrugte aan die bome nie. En as julle opstandig bly teen My en julle wil nie gehoorsaam wees aan My nie, dan sal Ek aanhou om julle te straf oor julle sondes.
LEVITIKUS 26:14-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge 'n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek — dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie. En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie. En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes.
LEVITIKUS 26:14-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
“As julle egter nie na My luister nie en nie alles doen wat Ek julle beveel het nie, as julle my voorskrifte en bepalings verwerp en met minagting behandel, sodat julle nie my bevele nakom nie en my verbond verbreek, sal Ek die volgende doen: Ek sal julle lewens vol angs maak. Julle sal geteister word deur tering en koors, siektes wat 'n mens blind maak en jou laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs saai, want julle vyande sal julle oeste opeet. Ek sal my rug vir julle draai sodat julle deur julle vyande verpletter sal word. Julle haters sal dit vir julle so ondraaglik maak dat julle sal vlug al word julle nie agtervolg nie. “As julle ná al hierdie dinge nog nie na My luister nie, sal Ek julle nog swaarder straf oor julle sondes: Ek sal alles waarop julle staatmaak, laat verdwyn. Daar sal geen druppel reën val nie: dit sal wees asof die hemel van yster en die grond van brons is. Julle sal julle kragte tevergeefs inspan: daar sal geen oes op julle lande wees nie, en julle bome sal geen vrugte dra nie. “As julle My bly teenstaan en nie na My wil luister nie, sal Ek julle nóg swaarder straf, soos julle verdien oor julle sondes
LEVITIKUS 26:14-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘ Maar as julle na My nie luister en al hierdie bevele nie uitvoer nie; ja, as julle my vaste voorskrifte verwerp en 'n afkeer het van my beslissings, sodat julle nie al my bevele uitvoer nie en my verbond so verbreek, dan sal Ek die volgende aan julle doen: Ek sal onverwags verskrikking oor julle bring – tering en koors wat die oë laat verdof en die lewenskrag laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs julle saad saai; julle vyande sal dit opeet. Ek sal teen julle draai, sodat julle deur julle vyande verslaan word. Julle haters sal julle vertrap. Julle sal vlug sonder dat iemand julle agtervolg. “ ‘ En as julle daarna nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewe keer te straf vir julle sondes. Ek sal julle hardnekkige verwaandheid breek: Ek sal julle hemel soos yster maak en julle grond soos brons. Julle kragte sal tevergeefs ingespan word: Julle grond sal sy opbrengs nie gee nie en die bome van julle grond sal hulle vrugte nie lewer nie. “ ‘En as julle My steeds teengaan en nie bereid is om na My te luister nie, sal Ek oor julle die slae sewe keer vermeerder ooreenkomstig julle sondes.
LEVITIKUS 26:14-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; En as julle my insettinge verag, of as julle siel my verordeninge verafsku, sodat julle nie al my gebooie sal doen nie, maar my verbond verbreek; Ek sal dit ook aan julle doen; En Ek sal verskrikking, vertering en brandende angs oor julle aanstel, wat die oë sal verteer en droefheid van hart veroorsaak; en julle sal tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit eet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, en julle sal voor julle vyande gedood word; julle haters sal oor julle heers; en julle sal vlug as niemand julle agtervolg nie. En as julle nog steeds nie na My luister nie, dan sal Ek julle sewe maal meer straf vir julle sondes. En Ek sal die trots van jou krag verbreek; en Ek sal jou hemel maak soos yster en jou aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs uitgeput word, want julle land sal sy opbrings nie lewer nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie. En as julle teen My wandel en na My nie luister nie; Ek sal sewe maal meer plae oor jou bring volgens jou sondes.
LEVITIKUS 26:14-21 Die Boodskap (DB)
“Aan die ander kant kan dit gebeur dat julle julle nie aan My steur nie en nie hierdie dinge doen wat Ek julle beveel het nie. Julle kan my verbintenis met julle in die wiele ry omdat julle my reëls oortree. Julle kan soveel aanstoot neem aan my voorskrifte dat julle weier om my bevele uit te voer. As julle dit doen, sal Ek die volgende dinge met julle laat gebeur: Ek sal verwarring onder julle saai. Ek sal tering en koors tussen julle laat kom wat julle blind sal laat word en sal laat wegkwyn. Julle sal verniet saai, want julle vyand sal dit opeet. Ek sal my rug vir julle draai en julle vyand sal julle verpletter. Die mense wat julle haat, sal julle so sleg behandel dat julle sal begin vlug sonder dat daar eens iemand is wat julle jaag. “As julle na hierdie dinge gebeur het, nog nie bereid is om julle aan My te steur nie, sal Ek julle nog sewe keer erger straf vir julle oortredings. Omdat julle te veel van julleself dink, sal Ek julle siek maak. Ek sal die lug maak soos ’n ysterkoepel waaruit geen reën kan val nie. Die aardkors sal so ondeurdringbaar wees soos ’n bronsplaat. Julle sal verniet julle vernuf inspan, want julle sal nie uit die grond enige oes kan haal nie. Geen boom van die aarde sal vrugte oplewer nie. “As julle dan met My wil rusie maak en julle steeds onwillig bly om julle aan My te steur, sal Ek in lyn met julle oortreding nog sewe ander rampe oor julle loslaat.
LEVITIKUS 26:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie, en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag, sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet. Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie! “As julle ten spyte van al hierdie dinge nog steeds ongehoorsaam bly, sal Ek julle nog sewevoudig vir julle sonde straf. Ek sal julle hardkoppige trotsheid breek deur die reën weg te hou: die lug bokant julle sal soos yster wees en die grond onder julle soos brons. Al julle werk sal verniet wees, want daar sal geen oes op die lande of vrugte aan die bome wees nie. “As julle nog steeds vyandig teenoor My bly en weier om gehoorsaam te wees, sal Ek julle tref met nog sewe rampe.