LEVITIKUS 24:17-22
LEVITIKUS 24:17-22 Bybel vir almal (ABA)
'n Persoon wat 'n ander mens doodmaak, moet sterf. Wanneer iemand 'n dier van iemand anders doodmaak, dan moet hy betaal, hy moet vir die eienaar 'n ander dier gee. Wanneer 'n persoon iemand anders seermaak, dan moet hulle dieselfde doen, hulle moet hom ook so seermaak. Die straf is: As hy die man seergemaak het, dan moet julle hom ook seermaak, 'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand. Hulle moet dieselfde aan hom doen wat hy aan 'n ander mens gedoen het. Iemand wat 'n dier doodmaak, moet betaal, maar iemand wat 'n mens doodmaak, moet sterf. Dit moet dieselfde wet vir almal wees, vir vreemdelinge en vir Israeliete, want Ek is julle God die Here.”
LEVITIKUS 24:17-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word. Maar hy wat 'n stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; lewe vir lewe. En as iemand aan sy naaste 'n liggaamsgebrek toebring — soos hy gedoen het, net so moet ook aan hom gedoen word: breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand — dieselfde liggaamsgebrek wat hy aan 'n mens toebring, moet ook aan hom toegebring word. Hy dan wat 'n stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; maar hy wat 'n mens doodslaan, moet gedood word. Net een wet moet daar vir julle wees — die vreemdeling moet soos die kind van die land wees; want Ek is die HERE julle God.
LEVITIKUS 24:17-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry. As iemand 'n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang. Die beginsel is: 'n lewe vir 'n lewe. “As iemand 'n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word: as hy iemand se been gebreek het, moet sý been ook gebreek word; as hy iemand se oog beskadig het, moet sý oog ook beskadig word; as hy iemand se tand uitgeslaan het, moet sý tand ook uitgeslaan word. Daar moet aan hom gedoen word wat hy aan sy medemens gedoen het. “As iemand 'n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang, maar as iemand 'n moord pleeg, moet hy die doodstraf kry. Hierdie beginsel geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge, want Ek, die Here, is julle God.”
LEVITIKUS 24:17-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘Wanneer iemand enige mens doodslaan, moet hy beslis sterf; en wie 'n dier doodslaan, moet daarvoor vergoed: 'n lewe vir 'n lewe. Wanneer iemand sy volksgenoot vermink – soos wat hy gedoen het, so moet daar aan hom gedoen word: 'n breuk vir 'n breuk, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand. Soos wat hy iemand vermink het, moet hy ook vermink word. Wie 'n dier doodslaan, moet daarvoor vergoed, maar wie 'n mens doodslaan, moet sterf. Daar moet vir julle een beslissing wees. Soos dit vir die gebore Israeliet is, moet dit vir die vreemdeling wees. Ek is die HERE julle God.’ ”
LEVITIKUS 24:17-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy wat iemand doodmaak, moet sekerlik gedood word. En hy wat 'n dier doodmaak, sal dit regmaak; dier vir dier. En as iemand 'n gebrek aan sy naaste veroorsaak; soos hy gedoen het, so sal met hom gedoen word; Skeur vir breuk, oog vir oog, tand vir tand: soos hy 'n gebrek aan 'n mens veroorsaak het, so sal dit weer aan hom gedoen word. En hy wat 'n dier doodmaak, hy moet dit teruggee; en hy wat 'n mens doodmaak, hy moet gedood word. Julle sal een wet hê, sowel vir die vreemdeling as vir een van julle land: want Ek is die HERE julle God.
LEVITIKUS 24:17-22 Die Boodskap (DB)
“As ’n persoon iemand anders doodmaak, moet hy self doodgemaak word. Die persoon wat iemand anders se dier doodmaak, moet daarvoor vergoed en ’n dier wat dieselfde waarde het, in sy plek gee. As iemand ’n medemens aan sy lyf seermaak, moet hy op dieselfde plek seergemaak word en in eie munt terugbetaal word. As hy iemand se been breek, word sy been gebreek. As hy iemand se oog beskadig, word sy oog ook beskadig. As hy iemand se tand uitslaan, word sy eie tand uitgeslaan. Hy word presies met gelyke munt terugbetaal vir die skade wat hy gedoen het. As hy ’n dier doodmaak, kan hy nog daarvoor vergoed, maar as hy ’n mens doodmaak, moet hy met sy eie lewe betaal. Daar is net een wet vir almal. Die gebore Israeliet en die buitelander word presies eenders behandel. Ek is die Here. Ek is julle almal se God.”
LEVITIKUS 24:17-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Enigeen wat die lewe van ’n ander persoon neem, moet doodgemaak word. “Enigeen wat ’n ander persoon se dier doodmaak, moet die persoon ten volle vergoed. Hy moet die dier wat doodgemaak is, vervang met ’n lewende dier. “Enigeen wat ’n ander persoon beseer, moet behandel word ooreenkomstig die besering wat hy veroorsaak het – ’n beenbreuk vir ’n beenbreuk, ’n oog vir ’n beseerde oog, ’n tand vir ’n gebreekte tand. Presies wat iemand gedoen het toe hy ’n ander persoon seergemaak het, moet nou met hom gemaak word. “Wie ’n dier doodmaak, moet dit ten volle vergoed, maar wie ’n ander persoon se lewe neem, moet doodgemaak word. “Hierdie bepalings is van toepassing op gebore Israeliete en op die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die HERE, is julle God.”