JOSUA 7:6-9
JOSUA 7:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Josua het sy klere geskeur en hy het tot die aand voor die kis van die Here gaan lê met sy gesig teen die grond, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi. Josua het gebid en gevra: “Ag, Here, my Here, hoekom het U hierdie volk oor die Jordaan-rivier laat kom? Hoekom het U ons vir die Amoriete gegee sodat hulle ons almal kan doodmaak? Dit sou beter gewees het as ons anderkant die Jordaan-rivier gebly het. Asseblief, Here, wat kan ek nou sê? Die Israeliete het gevlug vir hulle vyande! Die Kanaäniete en die ander mense in die land sal hoor wat gebeur het, en hulle sal ons aanval en vang en ons doodmaak sodat niemand in die land sal onthou dat ons hier was nie. Wat sal U dan doen sodat mense kan aanhou om U te respekteer?”
JOSUA 7:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die HERE, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi. En Josua het gesê: Ag, Here HERE, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete, sodat hulle ons kan vernietig? Het ons tog maar besluit om oorkant die Jordaan te bly! Ag Here, wat sal ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het? En as die Kanaäniete en al die inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; wat sal U dan vir u grote Naam doen?
JOSUA 7:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
en Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig in die grond gelê voor die ark van die Here, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi. Daarna het Josua gesê: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer oorkant die Jordaan gebly! Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug? Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en alle gedagtenis aan ons uit die land uitroei! Wat sal U dán doen om die grootheid van u Naam te verseker?”
JOSUA 7:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig teen die grond neergebuig voor die ark van die HERE – hy en die oudstes van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gestrooi. Josua het gesê: “Ag, HERE, my Heer, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons in die hande van die Amoriete oor te gee, om ons te vernietig? Was ons maar liewer bereid om oorkant die Jordaan te bly! Asseblief, my Heer! Wat moet ek sê nadat Israel voor sy vyande gevlug het? Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal dit hoor, ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei . Wat sal U dan doen vir u groot Naam? ”
JOSUA 7:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Josua het sy klere geskeur en op sy aangesig op die aarde neergeval voor die ark van die HERE tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en stof op hulle koppe gegooi. Toe sê Josua: Ag, HERE HERE, waarom het U hierdie volk enigsins oor die Jordaan gebring om ons in die hand van die Amoriete te gee om ons te vernietig? sou ons tot God tevrede gewees het en aan die oorkant van die Jordaan gewoon het! O HERE, wat sal ek sê as Israel hulle rug keer voor hulle vyande! Want die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; en wat sal U aan u groot Naam doen?
JOSUA 7:6-9 Die Boodskap (DB)
Josua en die leiers van die volk het hulle klere geskeur en met hulle gesig in die grond voor die verbondsark van die Here gaan lê. Hulle het tot die aand toe daar gelê met stof op hulle kop om hulle hartseer te wys. Toe sê Josua: “Ag, Here, hoekom het U ons oor die Jordaan laat trek, net om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly! Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug? Want as die Kanaäniete en al die ander inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons totaal uitroei! Wat word dan van die eer en ontsag wat U toekom?”
JOSUA 7:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua het sy klere geskeur. Hy het voor die ark van die HERE op die grond neergeval en daar bly lê tot die aand toe. Hy en die leiers van Israel het stof oor hulle koppe gestrooi. Josua het toe gehuil: “Ag, oppermagtige HERE, waarom het U hierdie volk oor die Jordaan laat kom om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan vernietig? As ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly het! HERE, wat kan ek nou sê nadat Israel vir sy vyande moes vlug? Wanneer die Kanaäniete en almal wat in die land woon daarvan hoor, gaan hulle ons omsingel en ons van die aarde af verdelg. Wat sal dan van u eervolle Naam word?”