JOSUA 7:21-26
JOSUA 7:21-26 Bybel vir almal (ABA)
Ek het tussen die goed wat ons gevat het, 'n mooi bo-kleed gesien uit die land Sinar, en ook 200 sikkels silwer en 'n staaf goud wat 50 sikkels weeg. Ek wou dit graag hê en ek het dit gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is onder al die ander goed.” Josua het mense gestuur en hulle het na die tent gehardloop. Daar kry hulle toe die goed wat in die tent begrawe is, die silwer was onder al die ander goed. Hulle het die goed uit die tent geneem en hulle het dit na Josua en al die Israeliete toe gebring. Hulle het dit daar voor die kis van die Here neergesit. Josua en al die Israeliete het vir Akan seun van Serag geneem en hulle het hom na die Akor-vallei gebring. Hulle het ook alles wat aan Akan behoort het, na die Akor-vallei gebring: die silwer en die bo-kleed en die goud, en Akan se kinders, sy beeste, sy donkies, sy skape en bokke. Josua sê toe vir Akan: “Jy het die dood oor ons gebring, baie van ons het gesterf. Vandag sal die Here die dood oor jou bring, jy sal sterf.” Al die Israeliete het toe vir Akan en sy kinders en sy diere met klippe doodgegooi en verbrand. Hulle het 'n groot hoop klippe oor hulle gepak. Dit is nou nog daar. Die Here was toe nie meer kwaad nie. Die plek se naam is nou nog Akor-vallei.
JOSUA 7:21-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en tweehonderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder. Toe Josua dan boodskappers stuur en hulle na die tent loop, lê dit daar begrawe in sy tent, en die silwer daaronder. En hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit na Josua en al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die HERE uitgeskud. Daarop het Josua en die hele Israel met hom saam Agan, die seun van Serag, geneem met die silwer en die mantel en die goudstaaf en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy kleinvee en sy tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hul na die dal Agor gebring. En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi. En hulle het 'n groot hoop klippe op hom gestapel wat tot vandag toe daar is. Toe het die HERE Hom afgewend van die gloed van sy toorn. Daarom noem hulle daardie plek Dal Agor tot vandag toe.
JOSUA 7:21-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
ek het onder die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook sowat twee kilogram silwer en 'n staaf goud van meer as 'n halwe kilogram; ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe. Die silwer is heel onder.” Josua het mense gestuur, en hulle het na die tent toe gehardloop en daar kry hulle toe die goed in Akan se tent, die silwer onder. Hulle het die goed uitgehaal en na Josua en al die Israeliete toe gebring. Toe hulle dit daar voor die Here uitskud, vat Josua en die hele Israel saam met hom vir Akan seun van Serag en bring hom na die Akorlaagte toe, en ook die silwer, die klere en die staaf goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent, alles wat aan hom behoort. Josua het gesê: “Jy het die dood oor óns gebring, vandag bring die Here die dood oor jóú!” Die hele Israel het toe vir Akan met klippe doodgegooi en hom en sy mense en sy besittings verbrand en met klippe toegegooi. Hulle het 'n groot hoop klippe bo-oor gepak. Dit is vandag nog daar. Daarna het die Here se toorn bedaar. Hulle noem die plek tot vandag toe die Akorlaagte .
JOSUA 7:21-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek het onder die buit een mooi koningsmantel uit Sinar, tweehonderd sikkel silwer en een staaf goud wat vyftig sikkel weeg, gesien. Ek het dit begeer en dit gevat. Kyk, dit is weggesteek in die grond, binne-in my tent. Die silwer is heel onder.” Josua het toe boodskappers gestuur. Hulle het na die tent gehardloop, en sowaar, dit was weggesteek in die tent met die silwer heel onder. Hulle het dit uit die tent gehaal en na Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit voor die HERE uitgeskud. Josua en die hele Israel saam met hom, neem toe vir Agan, afstammeling van Serag, met die silwer, die koningsmantel en die staaf goud, asook sy seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort. Hulle het hulle laat opgaan in die vallei van Agor. Josua het gesê: “Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Vandag stort die HERE jou in die ongeluk!” Toe gooi die hele Israel hom met klippe dood. Die res het hulle verbrand of gestenig. Hulle het 'n groot hoop klippe op hom gepak, wat vandag nog daar is, en die HERE se brandende toorn het bedaar. Daarom het hulle daardie plek Vallei van Agor genoem; dit is vandag nog so.
JOSUA 7:21-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe ek onder die buit 'n mooi Babiloniese kleed sien en twee honderd sikkels silwer en 'n goudwig van vyftig sikkels gewig, het ek dit begeer en dit geneem; en kyk, hulle is verborge in die aarde in die middel van my tent, en die silwer daaronder. Daarop het Josua boodskappers gestuur, en hulle het na die tent gehardloop; en kyk, dit was weggesteek in sy tent, en die silwer daaronder. En hulle het dit uit die middel van die tent gehaal en dit na Josua en na al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die HERE uitgelê. En Josua en die hele Israel saam met hom het Akan, die seun van Serag, geneem, en die silwer en die kleed en die goue wig, en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy skape, en sy tent en alles wat hy gehad het, en hulle het dit na die dal Agor gebring. Toe sê Josua: Waarom het jy ons verskrik? die HERE sal jou vandag verskrik. En die hele Israel het hom met klippe gestenig en dit met vuur verbrand, nadat hulle hulle met klippe gestenig het. En hulle het 'n groot hoop klippe oor hom opgerig tot vandag toe. So het die HERE hom bekeer van die gloed van sy toorn. Daarom is die naam van daardie plek genoem: Die dal Agor, tot vandag toe.
JOSUA 7:21-26 Die Boodskap (DB)
Ek het onder die buit in Jerigo ’n pragtige mantel uit Babilonië gesien en ook sowat twee kilogram silwer en ’n staaf goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek wou dit bitter graag gehad het. Daarom het ek dit maar vir my gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is dieper as die ander goed begrawe.” Josua het mense gestuur om te gaan kyk of dit so is. Hulle is haastig na die tent toe. Daar aangekom, kry hulle alles net so daar begrawe, met die silwer heel onder. Hulle het al die goed uit die tent gehaal en dit na Josua en die Israeliete toe gebring. Daar by die heiligdom het hulle die goed voor die Here op die grond uitgeskud. Toe vat Josua vir Akan en sy kinders en sy vee en alles wat aan hom behoort het, saam met die silwer, die mantel en die goud wat hy gevat het, na die laagte van Akor toe. Die volk het saamgegaan. Toe sê Josua vir hom: “Jy het hierdie ramp oor ons gebring, maar vandag bring die Here die dood oor jou!” Die volk het toe vir Akan en sy gesin met klippe doodgegooi en hulle saam met hulle besittings verbrand. Hulle het ’n groot hoop klippe op hulle gestapel om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Daarna het die Here se woede bedaar. Van toe af staan die plek bekend as die Akorlaagte: die laagte van swaarkry en lyding.
JOSUA 7:21-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het tussen die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook silwer van ongeveer twee kilogram en ’n stuk goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek het dit begeer en toe vir myself gevat. Dit is in die grond in my tent weggesteek. Die silwer lê onder.” Josua het toe mense gestuur. Hulle het na die tent toe gehardloop. Daar kry hulle toe alles weggesteek in die tent, met die silwer heel onder. Hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit vir Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit daar voor die HERE neergesit. Josua en al die Israeliete het Akan die seun van Serag gevat en ook die silwer, die klere en die stuk goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort. Hulle is daarmee na die laagte van Akor toe. Josua het met hom geraas: “Hoekom het jy onheil oor ons gebring? Die HERE bring vandag onheil oor jou!” Die hele Israel het toe vir Akan en sy mense met klippe doodgegooi. Hulle het al sy besittings met vuur verbrand. Hulle het hom onder ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar. Die HERE se woede het toe afgekoel. Daardie plek se naam is tot vandag toe nog die Laagte van Akor.