JOSUA 7:2-5
JOSUA 7:2-5 Bybel vir almal (ABA)
Josua het mans gestuur van Jerigo na die stad Ai, naby die stad Bet-Awen, oos van die stad Bet-El. Josua het vir hulle gesê hulle moet gaan kyk hoe die plek is. Die mans het gegaan en hulle het gekyk hoe die stad Ai is. Hulle het teruggekom na Josua toe en vir hom gesê: “Jy moenie al die manne laat gaan nie, omtrent 2 000 of 3 000 manne is genoeg om Ai te oorwin. Daar is nie baie mense in Ai nie, jy moenie al die manne moeg maak nie.” Daar het toe omtrent 3 000 manne gegaan, maar die manne van Ai het hulle oorwin en hulle het weggevlug van die manne van Ai. Die manne van Ai het omtrent 36 Israeliete doodgemaak. Hulle het die Israeliete gevolg en gejaag van die poort van Ai tot by die klowe in die berge en hulle het die Israeliete doodgemaak toe hulle daar afgaan. Die Israeliete het moedeloos en baie bang geword.
JOSUA 7:2-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop het Josua manne van Jérigo af gestuur na Ai wat by Bet-Awen lê, oostelik van Bet-el, en hy het met hulle gespreek en gesê: Trek op en verken die land; en die manne het opgetrek en Ai verken. Toe hulle by Josua terugkom, het hulle vir hom gesê: Al die manskappe hoef nie op te trek nie; omtrent tweeduisend man of omtrent drieduisend kan optrek, en hulle sal Ai verslaan; moenie al die manskappe met 'n tog daarheen vermoei nie, want hulle is daar maar min. So het daar dan van die manskappe omtrent drieduisend man daarnatoe opgetrek; maar hulle moes vlug voor die manne van Ai; en die manne van Ai het uit hulle omtrent ses-en-dertig man doodgeslaan en hulle agtervolg van die poort af tot by Sebárim en hulle verslaan op die afdraand; en die volk se hart het versmelt en soos water geword.
JOSUA 7:2-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josua het van Jerigo af manne gestuur na Ai toe, naby Bet-Awen, oos van Bet-El, en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.” Die manne is toe weg en het Ai verken. Toe hulle by Josua terugkom, sê hulle vir hom: “Dit is nie nodig dat al die manskappe gaan nie. So twee of drie duisend man kan gaan en Ai inneem. Die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is min mense in Ai.” Daar het toe omtrent drie duisend man daarheen opgetrek, maar hulle moes op die vlug slaan vir die mense van Ai, en dié het omtrent ses en dertig van hulle doodgemaak. Die mense van Ai het van die stadspoort af op hulle hakke gebly tot by die klipskeure en hulle daar teen die afdraand doodgemaak. Die volk se moed is gebreek
JOSUA 7:2-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josua het manne uit Jerigo na Ai gestuur, wat by Bet-Awen, oos van Bet-El, lê. Hy het vir hulle gesê: “Trek op, verken die land.” Die manne het opgetrek en Ai verken. Hulle het na Josua teruggekom en gesê: “Nie al die manskappe moet optrek nie. Ongeveer twee- of drieduisend man kan optrek; hulle sal Ai verslaan. Moenie al die manskappe die moeite aandoen om hulle daarheen te stuur nie, want daar is maar min mense.” Ongeveer drieduisend van die manskappe het daarheen opgetrek, maar hulle het gevlug voor die manne van Ai. Die manne van Ai het ongeveer ses-en-dertig van hulle neergevel. Hulle het hulle van voor die stadspoort af tot by Sebarím agtervolg en hulle teen die hang neergevel. Die harte van die manskappe het ineengekrimp en soos water geword.
JOSUA 7:2-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Josua het manne van Jérigo na Ai gestuur wat langs Bet-Aven is, aan die oostekant van Bet-el, en met hulle gespreek en gesê: Trek op en bekyk die land. En die manne het opgegaan en Ai bekyk. En hulle het na Josua teruggekeer en vir hom gesê: Laat die hele volk nie optrek nie; maar laat omtrent twee of drie duisend man optrek en Ai verslaan; en laat die hele volk nie daar werk nie; want hulle is maar min. En daar het van die volk omtrent drie duisend man daarheen opgetrek, en hulle het voor die manne van Ai gevlug. En die manne van Ai het omtrent ses-en-dertig man van hulle verslaan, want hulle het hulle van voor die poort af tot by Sebarim gejaag en hulle in die afgang verslaan; daarom het die harte van die volk gesmelt en soos water geword.
JOSUA 7:2-5 Die Boodskap (DB)
Josua het van sy manne uit Jerigo uit na Ai toe gestuur, ’n stad oos van Bet-El, naby die dorp Bet-Awen, met die opdrag om die omgewing te gaan verken. Toe hulle dit gedoen het, het hulle teruggekom en vir Josua gesê: “Ai is maar ’n klein dorpie met min soldate. Dit is nie nodig om die hele leër te vat om hierdie dorpie in te neem nie; 2 000 of 3 000 soldate is genoeg.” Josua stuur toe omtrent 3 000 soldate om Ai aan te val, maar hulle het hulle teen die soldate van Ai vasgeloop en moes op die vlug slaan. Die soldate van Ai het hulle van die stadshekke af agtervolg tot by die steengroewe. Daar het hulle teen die afdraande omtrent 36 soldate doodgemaak. Dit het die volk se moed gebreek en hulle baie bang gemaak.
JOSUA 7:2-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua het manskappe van Jerigo af na Ai toe uitgestuur. Ai was naby Bet-Awen en oos van Bet-El. Hy het vir hulle gesê: “Gaan en verken die land.” Die mans het toe Ai gaan verken. Hulle het teruggekom en aan Josua rapporteer: “Die hele volk hoef nie daarteen op te trek nie. Daar hoef net so 2 000 of 3 000 man soontoe te gaan. Hulle sal Ai kan inneem. Dit is maar ’n klein plekkie.” Ongeveer 3 000 mans het toe daarheen opgetrek. Hulle moes egter vlug voor die mense van Ai. Die mense van Ai het die Israeliete van die poort van die stad af agternagesit en hulle gejaag tot by die klipskeure waar hulle omtrent 36 van hulle teen die skuinste doodgemaak het. Die volk se moed het in hulle skoene gesak.