JOSUA 6:14-15
JOSUA 6:14-15 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het op die tweede dag een maal om die stad geloop en toe het hulle teruggegaan na die kamp. Hulle het dit ses dae lank elke dag gedoen. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit begin lig word, en hulle het dieselfde gedoen, maar hulle het toe sewe maal om die stad geloop. Hulle het net op hierdie sewende dag sewe maal om die stad geloop.
JOSUA 6:14-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So het hulle dan op die tweede dag die stad een keer omgetrek; daarna het hulle in die laer teruggekom. So het hulle ses dae lank gedoen. Maar op die sewende dag het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; net maar dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek.
JOSUA 6:14-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen. Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan.
JOSUA 6:14-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die tweede dag het hulle een keer om die stad getrek en na die kamp teruggekeer. So het hulle dit ses dae lank gedoen. Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek.
JOSUA 6:14-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op die tweede dag het hulle een keer die stad omsingel en na die laer teruggekeer; so het hulle ses dae gedoen. En op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan teen die aanbreek van die dag en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; maar op dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek.
JOSUA 6:14-15 Die Boodskap (DB)
Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen. Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop.
JOSUA 6:14-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op die tweede dag het hulle weer een keer om die stad geloop en teruggegaan na hulle kamp toe. So het hulle ses dae lank gemaak. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit nog skemer was. Hulle het oudergewoonte om die stad gegaan, maar op hierdie dag sewe keer.