JOSUA 6:13-20
JOSUA 6:13-20 Bybel vir almal (ABA)
Die sewe priesters het elkeen 'n ramshoring gedra en hulle het voor die kis van die Here geloop. Hulle het aangehou om die ramshorings te blaas. Die manne wat wapens gehad het, het voor hulle geloop, en die ander mense het agter die kis van die Here geloop. Die priesters het aangehou om die ramshorings te blaas. Hulle het op die tweede dag een maal om die stad geloop en toe het hulle teruggegaan na die kamp. Hulle het dit ses dae lank elke dag gedoen. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit begin lig word, en hulle het dieselfde gedoen, maar hulle het toe sewe maal om die stad geloop. Hulle het net op hierdie sewende dag sewe maal om die stad geloop. En toe die priesters die sewende maal die ramshorings blaas, het Josua vir die manne gesê: “Julle moet skree om die oorlog te begin, want die Here sal julle laat wen teen die mense van hierdie stad. Maar julle moet die stad en alles wat daarin is, aan die Here wy en julle moet dit verwoes. Net die prostituut Ragab en almal by haar in haar huis mag aanhou lewe, want sy het ons boodskappers weggesteek. En onthou, julle moet versigtig wees met alles wat aan die Here gewy is, julle moenie iets vat wat aan die Here gewy is nie. As julle dit doen, dan sal die kamp van Israel ook aan die Here gewy wees, en dan bring julle die dood in die kamp. Die silwer en die goud en die goed van brons en yster is aan die Here gewy, julle moet dit sit in die stoorkamer van die Here.” Die manne het geskree om die oorlog te begin, en hulle het die ramshorings geblaas. Toe die manne hoor die ramshorings blaas, het hulle hard geskree om die oorlog te begin. Die muur van die stad het omgeval, en die manne het opgeklim in die stad, elkeen het reguit vorentoe in die stad ingegaan en hulle het die stad oorwin.
JOSUA 6:13-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en die sewe priesters wat die sewe ramshorings gedra het, het voor die ark van die HERE gedurig geloop en blaas op die horings, terwyl die gewapendes voor hulle loop; en die agterhoede het agter die ark van die HERE aan gegaan, terwyl gedurig op die horings geblaas word. So het hulle dan op die tweede dag die stad een keer omgetrek; daarna het hulle in die laer teruggekom. So het hulle ses dae lank gedoen. Maar op die sewende dag het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; net maar dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek. En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE gee die stad aan julle oor. Maar die stad met al wat daarin is, moet 'n banoffer aan die HERE wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het. Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie. Maar al die silwer en goud en die koper- en ystervoorwerpe is heilig aan die HERE: dit moet by die skat van die HERE kom. Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk 'n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem.
JOSUA 6:13-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, het die ramshorings geblaas terwyl hulle loop; die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas. Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen. Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan. Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor! Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek. Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor. Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.” Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem
JOSUA 6:13-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die ark van die HERE dra, het aanhoudend op die ramshorings geloop en blaas. Die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die HERE gevolg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. Op die tweede dag het hulle een keer om die stad getrek en na die kamp teruggekeer. So het hulle dit ses dae lank gedoen. Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek. Die sewende keer het die priesters op die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Hef die oorlogskreet aan, want die HERE gee die stad aan julle! Die stad en alles wat daarin is, is onder die ban vir die HERE. Net Ragab, die prostituut, mag leef, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, versteek het. Bly net weg van die bangoed, anders neem julle van die bangoed terwyl julle die stad met die banvloek tref. Julle sal die kamp van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort. Al die silwer en die goud en al die voorwerpe van brons en yster is heilig vir die HERE; na die skatkamer van die HERE moet dit gaan.” Die manskappe het die oorlogskreet aangehef en die priesters het op die ramshorings geblaas. Ja, net toe die manskappe die geluid van die ramshoring hoor, het hulle 'n harde oorlogskreet aangehef. Die stadsmuur het ineengestort, en die manskappe het elkeen reg voor hom uit bo-oor geklim, die stad in. Hulle het die stad ingeneem
JOSUA 6:13-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En sewe priesters wat sewe ramshorings gedra het voor die ark van die HERE, het gedurigdeur gegaan en op die ramshorings geblaas; en die gewapendes het voor hulle uit gegaan; maar die beloning het agter die ark van die HERE aangekom, terwyl die priesters voortgegaan en op die ramshorings geblaas het. En op die tweede dag het hulle een keer die stad omsingel en na die laer teruggekeer; so het hulle ses dae gedoen. En op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan teen die aanbreek van die dag en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; maar op dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek. En op die sewende keer, toe die priesters op die basuine blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE het aan julle die stad gegee. En die stad sal vervloek wees, ook sy en alles wat daarin is, aan die HERE: net Ragab, die hoer, sal lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, weggesteek het. En julle moet julle in elk geval bewaar van die bangoed, dat julle nie vir julleself vervloek word as julle van die bangoed aanneem en die laer van Israel 'n vloek maak en dit vervloek nie. Maar al die silwer en goud en die voorwerpe van koper en yster is aan die HERE geheilig; dit moet in die skatkamer van die HERE kom. En die volk het geskreeu toe die priesters op die basuine blaas; en toe die volk die geluid van die basuin hoor, en die volk met 'n groot geroep skree, het die muur plat geval, sodat die volk opgegaan het en die stad binne, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem.
JOSUA 6:12-20 Die Boodskap (DB)
Josua het die volgende môre vroeg weer dieselfde gedoen. Die priesters het die ark van die Here gedra met die sewe priesters wat op die trompette geblaas het vooraan. Die soldate het weer die voor- en agterhoede beman. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas. Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen. Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop. Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor! Die stad en alles wat daarin is, moet egter totaal vernietig word as ’n offer aan die Here. Net Ragab die prostituut en haar mense mag bly lewe omdat sy ons spioene weggesteek het. Julle mag niks van dit wat aan die Here behoort en wat vernietig moet word, vir julleself vat nie. As julle dit doen, sal dit groot probleme veroorsaak en dan sal die kamp ook vernietig word. Alle voorwerpe van silwer, goud, brons en yster behoort aan die Here en moet in sy skatkis kom.” Die priesters het op die trompette geblaas. Toe die volk die geluid van die trompette hoor, het hulle hard geskree, waarop die muur van die stad inmekaargeval het. Die manskappe is toe oor die puin wat omgeval het, die stad in. Hulle het die stad oorrompel.
JOSUA 6:13-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die sewe priesters met die ramshorings het voor die ark van die HERE geloop en op die ramshorings geblaas. Die soldate het voor hulle uit marsjeer. Die volk het agter die ark van die HERE aangekom. Die priesters het die hele tyd op die ramshorings geblaas. Op die tweede dag het hulle weer een keer om die stad geloop en teruggegaan na hulle kamp toe. So het hulle ses dae lank gemaak. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit nog skemer was. Hulle het oudergewoonte om die stad gegaan, maar op hierdie dag sewe keer. Die sewende keer het die priesters die teken op die ramshorings gegee. Josua het vir die volk geskreeu: “Gee die kreet! Die HERE gee die stad vir julle! Die stad is ’n banoffer vir die HERE. Die stad en alles wat daarin is, moet heeltemal uitgewis word. Die prostituut Ragab en almal wat by haar in die huis is, moet bly lewe. Sy het die verkenners wat ons uitgestuur het, weggesteek. Bly weg van die goed wat vernietig moet word sodat julle nie julleself onder die ban bring nie. Moenie enigiets vat van die goed wat aan die HERE behoort nie. Julle sal die kamp van Israel ’n banvloek maak. Julle sal onheil daaroor bring. Alles wat van silwer en goud gemaak is en al die brons- en ystergoed behoort aan die HERE. Alles moet in die skatkis van die HERE kom.” Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaargestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem.