JOSUA 3:1-6
JOSUA 3:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Josua het vroeg die oggend weggegaan van Sittim, hy en al die Israeliete, en hulle het by die Jordaan-rivier gekom. Hulle het die nag daar gebly voordat hulle oorgegaan het. Ná drie dae het die voormanne deur die kamp gegaan en hulle het vir die mense gesê: “Wanneer julle sien dat die Levi-priesters die verbondskis van julle God die Here optel, dan moet julle kom en julle moet agter die kis loop. Maar julle moet onthou om ver van die kis te bly, omtrent 2 000 el, julle moenie nader kom nie. Julle moet agter die kis loop sodat julle kan weet waarnatoe julle moet gaan, want julle het nie voorheen hierdie pad geloop nie.” Josua het ook vir die volk gesê: “Julle moet julleself wy, want die Here sal môre wonderwerke doen tussen julle.” Josua het vir die priesters gesê: “Julle moet die verbondskis optel en julle moet voor die volk loop.” Die priesters het die verbondskis opgetel en hulle het voor die volk geloop.
JOSUA 3:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROP het Josua die môre vroeg klaargemaak, en hy met al die kinders van Israel het van Sittim af weggetrek en by die Jordaan aangekom en daar die nag oorgebly voordat hulle deurgetrek het. En aan die einde van drie dae het die opsigters die laer deurgegaan en aan die volk bevel gegee en gesê: Net soos julle die verbondsark van die HERE julle God sien en die Levitiese priesters wat hom dra, moet julle van jul staanplek af opbreek en agter hom aan trek. Maar laat daar 'n afstand van omtrent tweeduisend el tussen julle en hom wees; kom nie naby hom nie; sodat julle die pad kan weet waar julle langs moet trek; want gister en eergister het julle nie met dié pad getrek nie. Verder het Josua aan die volk gesê: Heilig julle; want môre sal die HERE wonders onder julle doen. En Josua het met die priesters gespreek en gesê: Neem die verbondsark op en trek weg voor die volk uit; toe het hulle die verbondsark opgeneem en voor die volk uit getrek.
JOSUA 3:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josua het die môre vroeg van Sittim af vertrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek. Na drie dae het die beamptes die kamp deurgegaan en die volk beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg, sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet 'n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.” Josua het vir die volk gesê: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.” Vir die priesters het Josua gesê: “Tel die verbondsark op en stap voor die volk uit.” Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit geloop.
JOSUA 3:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josua het vroeg die môre opgestaan. Hulle het van Sittim af weggetrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oornag voordat hulle oorgetrek het. Ná verloop van drie dae het die opsieners deur die kamp gegaan en aan die volk opdragte gegee: “Wanneer julle die verbondsark van die HERE julle God sien, en die priesters, die Leviete wat dit dra, moet julle van julle staanplekke af verder trek. Volg die ark, maar daar moet 'n afstand van ongeveer tweeduisend el tussen julle en die ark wees. Moenie naby aan die ark kom nie, sodat julle die pad waarop julle moet gaan, kan leer ken, want julle het nie voorheen met dié pad langs getrek nie.” Josua het vir die volk gesê: “Heilig julleself, want môre gaan die HERE in julle midde wonders doen.” Josua het vir die priesters gesê: “Tel die verbondsark op en trek voor die volk oor.” Hulle het toe die verbondsark opgetel en voor die volk geloop.
JOSUA 3:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Josua het die môre vroeg opgestaan; en hulle het van Sittim af opgebreek en by die Jordaan gekom, hy en al die kinders van Israel, en daar vernag voordat hulle deurgetrek het. En ná drie dae het die offisiere deur die leër getrek; En hulle het die volk bevel gegee en gesê: Wanneer julle die verbondsark van die HERE julle God sien en die Levietepriesters wat dit dra, moet julle van julle plek af wegtrek en agter dit aan trek. Tog sal daar 'n spasie tussen julle en hom wees, omtrent twee duisend el per maat; kom nie naby dit nie, sodat julle kan weet die pad waarlangs julle moet gaan; En Josua sê vir die volk: Heilig julle, want môre sal die HERE wonders onder julle doen. En Josua het met die priesters gespreek en gesê: Neem die verbondsark op en trek voor die volk oor. En hulle het die verbondsark opgeneem en voor die volk uit gegaan.
JOSUA 3:1-6 Die Boodskap (DB)
Vroeg die volgende môre het Josua en die Israeliete hulle goed opgepak en van Sittim af getrek tot by die Jordaan. Daar het hulle kamp opgeslaan terwyl hulle gewag het om die rivier oor te steek. Drie dae later het die beamptes deur die kamp gegaan en vir die mense gesê: “Wanneer julle sien dat die Levitiese priesters die verbondsark van die Here julle God dra, moet julle oppak en hulle volg. Hulle sal vir julle wys waarheen om te gaan omdat julle nog nie voorheen hierlangs getrek het nie. Maar sorg dat daar ’n behoorlike afstand tussen julle en die verbondsark is, ten minste 900 meter.” Toe sê Josua vir die volk: “Bely julle skuld voor die Here en sorg dat julle verhouding met Hom reg is, want môre gaan die Here wonders onder julle doen.” Die volgende môre het Josua die priesters beveel om die verbondsark op te tel en die volk die land in te lei.
JOSUA 3:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua en al die Israeliete het vroeg die oggend van Sittim af vertrek. Hulle het by die Jordaan aangekom en daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek. Aan die einde van drie dae het die leiers deur die kamp beweeg. Hulle het die volk ingelig: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters tel die ark van die verbond van die HERE julle God op, moet julle van julle staanplekke af opstaan en hulle begin volg. Hou egter ’n afstand van omtrent 900 meter tussen julle en die ark. Moenie nader as dit kom nie. Volg dit, dan sal julle weet watter koers om te gaan. Julle het nog nooit in hierdie rigting getrek nie.” Josua het vir die volk gesê: “Berei julle voor. Die HERE gaan môre wonderwerke onder julle doen.” Josua het vir die priesters gesê: “Tel op die verbondsark. Begin voor die volk uitloop.” Hulle het die ark van die verbond opgetel en voor die volk begin loop.