JOSUA 24:29-33 - Compare All Versions

JOSUA 24:29-33 ABA (Bybel vir almal)

Nadat hierdie dinge gebeur het, het die Here se dienaar Josua seun van Nun gesterf. Josua was 110 jaar oud. Hulle het hom begrawe op sy grond by die stad Timnat-Serag in die Efraim-berge, noord van Gaäs-berg. Terwyl Josua gelewe het, het die Israeliete die Here gedien. Hulle het aangehou om Hom te dien, ook toe die leiers gelewe het wat geweet het wat die Here vir die Israeliete gedoen het. Toe die Israeliete voorheen weggegaan het uit Egipte, het hulle Josef se bene saamgebring en hulle het dit begrawe in Sigem. Dit is die stuk grond wat Jakob gekoop het van die nageslag van Sigem, seun van Gamor. Jakob het 100 kesita daarvoor betaal. So het dit gebeur dat die grond aan die nageslag van Josef behoort. Eleasar seun van Aäron het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Efraim-berge, op die heuwel wat aan sy seun Pinehas behoort het.

JOSUA 24:29-33 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En ná hierdie dinge het Josua, die seun van Nun, die kneg van die HERE, gesterwe, honderd-en-tien jaar oud. En hulle het hom begrawe op die grondgebied van sy erfdeel in Timnat-Serag wat op die gebergte van Efraim lê, noord van die berg Gaäs. En Israel het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat lank ná Josua nog in die lewe was en met al die werke van die HERE bekend was wat Hy vir Israel gedoen het. Ook die gebeente van Josef wat die kinders van Israel uit Egipte saamgebring het, het hulle begrawe in Sigem, op die stuk grond wat Jakob van die kinders van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke gekoop het, en wat die kinders van Josef as erfdeel ontvang het. En toe Eleásar, die seun van Aäron, gesterf het, het hulle hom begrawe op die heuwel van sy seun Pínehas wat aan hom gegee was op die gebergte van Efraim.

JOSUA 24:29-33 AFR83 (Afrikaans 1983)

Na hierdie gebeure het Josua seun van Nun, dienaar van die Here, gesterf. Hy was honderd en tien jaar. Hy is begrawe in die gebied wat aan hom gegee was as besitting, in Timnat-Serag in die Efraimsberge, noord van Gaäsberg. Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het. Die liggaam van Josef wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe, in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, vader van Sigem, gekoop het vir honderd stukke silwer. Die grond het die eiendom van die nakomelinge van Josef geword. Ook Eleasar seun van Aäron is oorlede. Hy is begrawe in Gibea, 'n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas toegeken was.

JOSUA 24:29-33 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ná hierdie gebeure het Josua, seun van Nun, die dienskneg van die HERE, op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf. Hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Serag, wat in die heuwelland van Efraim is, noord van die berg Gaäs. Israel het die HERE gedien gedurende Josua se leeftyd, en gedurende die leeftyd van die oudstes wat lank ná Josua nog geleef het en al die dade van die HERE geken het wat Hy vir Israel gedoen het. Die beendere van Josef wat die Israeliete uit Egipte gebring het, het hulle in Sigem begrawe in die stuk veld wat Jakob vir honderd kesita gekoop het by die seuns van Gamor, die vader van Sigem. Dit was die nageslag van Josef se erfdeel. Eleasar, seun van Aäron, het ook gesterf. Hulle het hom begrawe op die heuwel wat aan sy seun Pinehas behoort het en wat in die heuwelland van Efraim aan hom gegee is.

JOSUA 24:29-33 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ná hierdie dinge het Josua, die seun van Nun, die kneg van die HERE, gesterwe, honderd en tien jaar oud. En hulle het hom begrawe op die grens van sy erfdeel in Timnat-Sera, wat op die gebergte van Efraim is, aan die noordekant van die heuwel Gaäs. En Israel het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat Josua oorleef het en al die wee geken het. En die gebeente van Josef wat die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het, het hulle in Sigem begrawe op 'n stuk grond wat Jakob van die seuns van Hemor, die vader van Sigem, gekoop het vir honderd sikkels silwer; erfdeel van die kinders van Josef. En Eleasar, die seun van Aäron, het gesterwe; en hulle het hom begrawe op 'n heuwel wat aan sy seun Pínehas behoort, wat aan hom gegee is op die gebergte van Efraim.

JOSUA 24:29-33 DB (Die Boodskap)

Nie lank hierna nie is die dienaar van die Here, Josua die seun van Nun, op die ouderdom van 110 jaar oorlede. Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim, regoor die Gaäsberge, begrawe. Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle dit nog bly doen terwyl die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir hulle gedoen het, nog geleef het. Die volk het Josef se liggaam wat hulle uit Egipte saamgebring het, in Sigem begrawe op die stuk grond wat Jakob by die kinders van Gamor, die vader van Sigem, vir 100 stukke silwer gekoop het. Josef se nageslag het daar gebly. Aäron se seun Eleasar het ook gesterf. Hy is begrawe in die bergagtige gebiede van Efraim op Gibea, die dorp wat aan sy seun Pinehas behoort het.

JOSUA 24:29-33 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Kort na hierdie gebeure is Josua, die seun van Nun en dienaar van die HERE, dood. Hy was toe 110 jaar oud. Hulle het hom op sy grond begrawe by Timnat-Serag in die heuwels van Efraim, net noord van Gaäsberg. Israel het die HERE bly aanbid solank Josua geleef het en ook in die tyd van die leiers wat langer as Josua bly leef het. Hulle het alles ervaar wat die HERE vir Israel gedoen het. Josef se beendere wat die Israeliete saamgebring het uit Egipte, is in Sigem begrawe in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, die vader van Sigem, gekoop het vir 100 stukke silwer. Hierdie grond het aan die nakomelinge van Josef behoort. Eleasar, die seun van Aäron, is ook dood. Hy is in Gibea begrawe. Dit is ’n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas behoort het.