JOSUA 23:1-3
JOSUA 23:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Dit was 'n lang tyd nadat die Here die Israeliete laat wen het teen al hulle vyande rondom hulle. Josua was baie oud. Josua het al die Israeliete geroep, die leiers, die hoofde, die regters en die voormanne, en hy het vir hulle gesê: “Ek is baie oud. Julle het self alles gesien wat julle God die Here vir julle gedoen het met hierdie volke. Want julle God die Here, Hy self het oorlog gemaak sodat julle die vyande kon oorwin.
JOSUA 23:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N GERUIME tyd daarna, nadat die HERE aan Israel rus gegee het van al sy vyande rondom, en Josua oud en ver op sy dae was, het Josua die hele Israel laat roep, sy oudstes en sy hoofde en sy regters en sy opsigters, en vir hulle gesê: Ek is oud, ek is ver op my dae; en julle het self gesien alles wat die HERE julle God aan al hierdie nasies voor julle uit gedoen het; want die HERE julle God, Hy het vir julle gestry.
JOSUA 23:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was al lank dat die Here na alle kante toe aan Israel rus gegee het van sy vyande, en Josua was al baie oud. Josua het die hele Israel geroep, die leiers, die hoofde, die regters, die ampsdraers, en vir hulle gesê: “Ek is al baie oud. Julle het gesien wat die Here julle God alles aan hierdie nasies gedoen het ter wille van julle. Dit is Hy, die Here julle God, wat die oorlog vir julle gevoer het.
JOSUA 23:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Lank daarna, nadat die HERE aan Israel rus gegee het van al hulle vyande rondom hulle, toe Josua al oud en gevorderd in jare was, het Josua die hele Israel ontbied – hulle oudstes, hoofde, regters en opsieners – en vir hulle gesê: “Ek is oud en gevorderd in jare. Julle het self alles gesien wat die HERE julle God gedoen het aan al hierdie nasies, ter wille van julle. Die HERE julle God, Hy is immers die Een wat vir julle geveg het.
JOSUA 23:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En 'n lang tyd nadat die HERE aan Israel rus gegee het van al hulle vyande, het Josua oud en verdruk geword. En Josua het die hele Israel en hulle oudstes en hulle hoofde en hulle regters en hulle amptenare laat roep en vir hulle gesê: Ek is oud en verdruk. En julle het alles gesien wat die HERE julle God aan al hierdie nasies gedoen het om julle ontwil; want die HERE julle God is Hy wat vir julle geveg het.
JOSUA 23:1-3 Die Boodskap (DB)
Die jare het verbygegaan en Israel het rustig, sonder enige verdere probleme saam met hulle vyande in die land gebly wat die Here aan hulle gegee het. Teen hierdie tyd was Josua al baie oud. Hy het toe ’n volksvergadering belê met die leiers, die hoofde van stamme, die regters en die ampsdraers van die Israeliete. Hy sê toe vir hulle: “Ek is al baie oud. Julle het alles gesien en beleef wat die Here julle God tydens my leeftyd vir julle gedoen het. Julle het gesien hoe Hy namens julle teen julle vyande opgetree het.
JOSUA 23:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar het ’n lang tyd verbygegaan sedert die HERE vir Israel vrede met al sy bure gegee het. Josua het intussen baie oud geword. Josua het die hele Israel bymekaargeroep, met al hulle leiers, hulle hoofde, hulle regters en hulle ampsdraers. Hy het vir hulle gesê: “Ek het baie oud geword. Julle het gesien wat die HERE julle God alles ter wille van julle met hierdie nasies gedoen het. Hy het aan julle kant geveg.