JOSUA 22:10-34
JOSUA 22:10-34 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier gekom, dit was in die land Kanaän. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het daar 'n altaar gebou, 'n groot altaar. Die ander Israeliete het gehoor dat die manne van die twee en 'n halwe stamme 'n altaar gebou het langs die grens van die land Kanaän, by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier. Dit was langs die ander Israeliete se grond. Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering in Silo bymekaargekom om oorlog te gaan maak teen die twee en 'n halwe stamme. Maar die Israeliete het eers vir Pinehas seun van die priester Eleasar gestuur na die twee en 'n halwe stamme in die land Gilead. Tien leiers het saam met hom gegaan, 'n leier van elke stam. Elke leier was die hoof van 'n groep families van Israel. Toe hulle by die twee en 'n halwe stamme in die land Gilead kom, het hulle vir daardie stamme gesê: “Die volksvergadering van die Here vra: Hoekom is julle ontrou aan die God van Israel? Julle het opgehou om die Here te dien toe julle vir julle 'n altaar gebou het. Julle is nou opstandig teen die Here. Ons het voorheen by die stad Peor groot sonde gedoen en die Here het die volk swaar gestraf, maar tot nou toe het ons nog nie weer rein geword nie. As julle vandag ophou om die Here te dien en as julle opstandig is teen Hom, dan sal Hy môre kwaad wees vir ál die Israeliete. As die land wat aan julle behoort, onrein is, dan moet julle kom na die land wat aan die Here self behoort, die land waar sy tempel-tent is, en julle moet vir julle grond vat tussen ons. Maar julle moenie opstandig wees teen die Here en teen ons nie. Julle moenie vir julle 'n eie altaar bou wat nie die altaar van ons God die Here is nie. Akan seun van Serag was ontrou, hy het van die goed gevat wat aan die Here gewy was, en die Here het nie net vir hóm laat sterf oor sy sonde nie, die Here was kwaad vir ál die Israeliete.” Die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir die hoofde van die familie-groepe van Israel gesê: “Die Here is die God van die gode, die Here is die God van die gode! Hy weet, en julle moet ook weet hoekom ons dit gedoen het. Ons het dit nie gedoen omdat ons opstandig wil wees teen die Here of omdat ons ontrou wil wees aan Hom nie. As julle dink dat ons verkeerd gedoen het, dan moet julle ons vandag doodmaak. Die Here self sal ons straf as ons vir ons 'n altaar gebou het om op te hou om die Here te dien en om brand-offers, koring-offers en ete-offers op die altaar te bring. Nee, ons het die altaar gebou omdat ons bekommerd was. Ons het gedink julle kinders sal eendag vir ons kinders sê: ‘Julle behoort nie aan die Here, die God van Israel, nie. Die Here het gesê daar moet 'n grens wees tussen ons en julle, dit is die Jordaan-rivier, julle behoort nie aan die Here nie.’ Dan sal julle kinders miskien ons kinders laat ophou om die Here te dien. Ons het toe gedink ons moet vir ons 'n altaar bou. Ons wil nie daarop brand-offers en ander offers bring nie, die altaar moet 'n getuie wees tussen ons en julle en tussen ons nageslag en julle nageslag. Die altaar moet die getuie wees dat ons sal aanhou om die Here by sy altaar te dien met ons brand-offers, ons ander offers en ons ete-offers. Dan sal julle nageslag nie eendag vir ons nageslag kan sê: ‘Julle behoort nie aan die Here nie.’ Ons het gedink as julle nageslag dit eendag vir ons nageslag sê, dan kan ons nageslag sê: ‘Kyk, daar is die altaar wat ons voorvaders gemaak het, dit lyk soos die Here se altaar. Maar ons gebruik nie die altaar om brand-offers en ander offers te offer nie, die altaar is die getuie tussen ons en julle.’ Ons wil glad nie opstandig wees teen die Here nie, en ons wil nie ophou om Hom te dien nie. Die altaar van ons God die Here is voor sy tempel-tent, en ons het nie 'n ander altaar gebou vir brand-offers en koring-offers nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die familie-groepe van Israel, hoor wat sê die mense van Ruben, Gad en Manasse, was hulle tevrede. Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou dat die Here by ons is, want julle was nie ontrou aan die Here toe julle die altaar gebou het nie. Julle het gekeer sodat die Here nie die Israeliete straf nie.” Pinehas seun van die priester Eleasar en die leiers het weggegaan van die stamme in die land Gilead. Hulle het na die ander Israeliete toe gegaan en hulle het vir die ander Israeliete gesê wat hulle gehoor het. Die Israeliete was toe tevrede en hulle het God geprys. Hulle het besluit om nie oorlog te maak teen daardie stamme nie en om nie die land te verwoes waar hulle woon nie. Die mense van Ruben en Gad het vir die altaar 'n naam gegee en gesê: “Die altaar is die getuie tussen ons, dit sê die Here is God.”
JOSUA 22:10-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe hulle kom by die klipkrale van die Jordaan, wat in die land Kanaän lê, het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse daar 'n altaar gebou by die Jordaan, 'n altaar groot van aansien. Maar toe die kinders van Israel hoor sê: Kyk, die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse het die altaar gebou teenoor die land Kanaän, by die klipkrale van die Jordaan, aan die kant van die kinders van Israel — toe die kinders van Israel dit hoor, het die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaargekom in Silo om op kommando teen hulle op te trek. En die kinders van Israel het Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, na die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse, na die land Gílead gestuur, en tien owerstes saam met hom, vir elke familie van al die stamme van Israel een owerste; en hulle was elkeen 'n familiehoof van die stamme van Israel. Toe hulle by die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse in die land Gílead kom, het hulle met hulle gespreek en gesê: So sê die hele vergadering van die HERE: Wat is dit vir 'n troubreuk wat julle begaan teen die God van Israel, dat julle vandag van die HERE afvallig word deur vir julle 'n altaar te bou, deur vandag teen die HERE in opstand te kom? Is die ongeregtigheid in verband met Peor vir ons nog nie genoeg nie, waarvan ons tot vandag toe ons nie gereinig het nie — toe die plaag oor die vergadering van die HERE gekom het? En julle wil vandag van die HERE afvallig word! As julle dan vandag in opstand kom teen die HERE, sal Hy môre toornig word op die hele vergadering van Israel. As die land van julle besitting egter onrein is, trek dan oor na die eie land van die HERE waar die tabernakel van die HERE gevestig is, en verkry onder ons vaste besittings; maar kom nie teen die HERE in opstand nie, en moenie teen ons opstandig wees deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die HERE onse God nie. Toe Agan, die seun van Serag, hom vergryp het aan die bangoed, het daar nie 'n toorn oor die hele vergadering van Israel gekom nie? En hy self het nie alleen weens sy ongeregtigheid omgekom nie. Daarop het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse geantwoord en aan die stamhoofde van Israel gesê: Die God van die gode, die HERE, die God van die gode, die HERE, Hy weet dit; en ook Israel mag dit weet: As dit deur opstandigheid of deur troubreuk teen die HERE is — verlos ons nie vandag nie, HERE! — dat ons 'n altaar vir ons gebou het om van die HERE afvallig te word; en as dit is om daarop 'n brandoffer en spysoffer te bring of om daarop dankoffers te berei, dan mag die HERE self dit wreek. Maar waarlik, ons het dit uit 'n sekere besorgdheid gedoen en gesê: Later sou julle kinders met ons kinders kan spreek en sê: Wat het julle te doen met die HERE, die God van Israel? Die HERE het tog tussen ons en julle, kinders van Ruben en kinders van Gad, die Jordaan as grens gestel; julle het geen deel aan die HERE nie; so sal julle kinders dan maak dat ons kinders die HERE nie meer vrees nie. Daarom het ons gesê: Laat ons tog dit doen en vir ons die altaar bou, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie, maar dat dit 'n getuie kan wees tussen ons en julle en ons geslagte ná ons dat ons die diens van die HERE sal waarneem voor sy aangesig met ons brandoffers en ons slagoffers en ons dankoffers, sodat julle kinders later nie aan ons kinders kan sê: Julle het geen deel aan die HERE nie. En ons het gedink: As hulle dit later aan ons en ons geslagte sou sê, sal ons sê: Kyk na die boustyl van die altaar van die HERE wat ons vaders gemaak het, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie, maar 'n getuie is hy tussen ons en julle. Dit is ver van ons dat ons opstandig sou word teen die HERE en vandag afvallig sou word van die HERE deur 'n altaar te bou vir brandoffer, spysoffer en slagoffer naas die altaar van die HERE onse God wat voor sy tabernakel staan. Toe Pínehas, die priester, en die owerstes van die vergadering, die stamhoofde van Israel wat saam met hom was, die woorde hoor wat die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse gespreek het, was dit goed in hulle oë. Toe sê Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, aan die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse: Vandag weet ons dat die HERE in ons midde is, omdat julle hierdie troubreuk teen die HERE nie begaan het nie; nou het julle die kinders van Israel gered uit die hand van die HERE. Daarop het Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, en die ouerstes teruggekeer van die kinders van Ruben en die kinders van Gad, uit die land Gílead na die land Kanaän, na die kinders van Israel, en hulle 'n antwoord gebring. En die antwoord was goed in die oë van die kinders van Israel, en die kinders van Israel het God geprys; en hulle het daar nie meer van gespreek om teen hulle op kommando te trek, om die land waarin die kinders van Ruben en die kinders van Gad gewoon het, te verwoes nie. En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het die altaar genoem: Hy is getuie tussen ons dat die HERE God is.
JOSUA 22:10-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar. Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant. Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam. Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep. Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme: “So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom! Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het. Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel. As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie. Akan seun van Serag was ontrou met wat aan die Here gewy was, en die toorn het teen die hele Israel losgebreek. Nie net hy het vir sy sonde gesterf nie.” Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê: “Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie. Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel. Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel? Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien. Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’ “Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering en die Israelitiese familiehoofde wat by hom was, hoor wat die mense uit Ruben, Gad en Manasse sê, was hulle tevrede. Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou die Here is by ons; julle was nie ontrou aan die Here nie; julle het Israel aan die straf van die Here laat ontkom.” Pinehas seun van die priester Eleasar en die volksleiers is toe terug van die mense van Ruben en Gad af uit Gilead na Kanaän, na die Israeliete toe en het verslag gedoen. Die Israeliete was tevrede en het God geprys. Hulle het afgesien van die plan om die mense van Ruben en Gad te gaan aanval en die gebied waar hulle woon, te verwoes. Die mense van Ruben en Gad het die altaar 'n naam gegee, en gesê: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”
JOSUA 22:10-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe hulle by Gelilot kom, wat in die land Kanaän langs die Jordaan is, het die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse, daar langs die Jordaan 'n altaar gebou, 'n groot, indrukwekkende altaar. Die Israeliete het berig gekry: “Kyk, die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het 'n altaar gebou op die grondgebied van die land Kanaän, by Gelilot langs die Jordaan, aan die Israeliete se kant.” Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering van die Israeliete byeengekom by Silo om teen hulle op te trek vir die stryd. Die Israeliete stuur toe vir Pinehas, seun van die priester Eleasar, na die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek, en saam met hom tien leiers, een leier vir elke stamvader van al die stamme van Israel. Elkeen van hulle was 'n stamhoof van die leërafdelings van Israel. Hulle het by die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek aangekom, met hulle gepraat en gesê: “So sê die hele volksvergadering van die HERE, ‘Wat is die bedoeling van hierdie troubreuk wat julle teen die God van Israel pleeg deur vandag van die HERE af weg te draai? Met die bou van 'n altaar vir julleself is julle vandag in opstand teen die HERE. Is die sonde by Peor, waarvan ons tot vandag toe onsself nog nie gereinig het nie, vir ons onbelangrik? Die plaag het dan teen die volksvergadering van die HERE uitgebreek! Julle draai vandag weg van die HERE af. As julle vandag in opstand teen die HERE is, is Hy môre vertoornd vir die hele volksvergadering van Israel. As die land van julle erfgrond egter •onrein is, kom dan oor na die land van die HERE se eiendom, waar die •tabernakel van die HERE staan, en kry vir julle erfgrond tussen ons. Maar teen die HERE moet julle nie in opstand kom nie, en teen ons moet julle ook nie in opstand kom deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die HERE ons God nie. Het Agan, seun van Serag, nie troubreuk gepleeg met die bangoed, sodat die hele volksvergadering van Israel getref is deur 'n oordeel uit toorn nie? Hy was nie die enigste wat vir sy sondeskuld gesterf het nie.’ ” Die nageslag van Ruben en Gad, en die halwe stam van Manasse het daarop geantwoord. Hulle het vir die hoofde van die leërafdelings van Israel gesê: “Die God van die gode, die HERE, die God van die gode, die HERE, Hy weet, en Israel moet dit weet: As dit uit opstand of in troubreuk teen die HERE was, moet u ons vandag nie spaar nie. As dit was om vir ons 'n altaar te bou om van die HERE af weg te draai, en om •brandoffers en •graanoffers daarop te offer, of om •maaltydoffers daarop te bring – die HERE, Hy sal rekenskap eis. Ons sweer dit is uit besorgdheid oor die saak dat ons dit gedoen het. Ons het gedink, in die toekoms sal julle kinders vir ons kinders sê, ‘Wat het julle met die HERE, die God van Israel, te doen? As 'n grens het die HERE tussen ons en julle, nakomelinge van Ruben en Gad, die Jordaan daargestel. Julle het geen deel aan die HERE nie.’ Julle kinders sal ons kinders laat ophou om vir die HERE ontsag te hê. Ons het toe so gedink: Laat ons iets vir onsself doen deur die altaar te bou, nie vir brandoffers en slagoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte ná ons, om nog die diens van die HERE in sy teenwoordigheid te kan verrig met ons brandoffers, slagoffers en maaltydoffers. Julle kinders sal dan nie in die toekoms vir ons kinders kan sê, ‘Julle het geen deel aan die HERE nie.’ Ons het gedink: As hulle dit in die toekoms vir ons en ons nageslag sou sê, sal ons antwoord, ‘Kyk na die weergawe van die altaar van die HERE wat ons voorouers gemaak het – nie vir brandoffers nie, en nie vir slagoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ Nooit sal ons teen die HERE in opstand kom nie – deur vandag van die HERE af weg te draai, deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en maaltydoffers, naas die altaar van die HERE ons God wat voor sy tabernakel is nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die leërafdelings van Israel wat by hom was, die verduideliking hoor wat die nageslag van Ruben, Gad en Manasse gee, het hulle dit goedgevind. Toe sê Pinehas, seun van die priester Eleasar, vir die nageslag van Ruben, Gad en Manasse: “Vandag weet ons dat die HERE in ons midde is, dat julle nie hierdie troubreuk teen die HERE gepleeg het nie. Julle het dan ook die Israeliete gered uit die hand van die HERE.” Pinehas, seun van die priester Eleasar, en die leiers het teruggekeer van die nageslag van Ruben en Gad, van die Gileadstreek af na die land Kanaän, na die Israeliete, en aan hulle verslag gelewer. Die verslag het byval gevind by die Israeliete, en hulle het God geprys. Daar was nie meer sprake daarvan om teen hulle op te trek vir die stryd en die land waar die nageslag van Ruben en Gad woon, te verwoes nie. Die nageslag van Ruben en Gad het vir die altaar 'n naam gegee: “Dit is 'n getuie tussen ons dat die HERE God is.”
JOSUA 22:10-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle by die grense van die Jordaan kom, wat in die land Kanaän is, het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse daar 'n altaar gebou by die Jordaan, 'n groot altaar om na te kyk. En die kinders van Israel het hoor sê: Kyk, die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse het 'n altaar gebou teenoor die land Kanaän, aan die grens van die Jordaan, op die pad van die kinders van Israel. En toe die kinders van Israel dit hoor, het die hele vergadering van die kinders van Israel in Silo bymekaargekom om teen hulle op te trek. En die kinders van Israel het na die kinders van Ruben en na die kinders van Gad en na die halwe stam van Manasse, na die land Gílead, Pinehas, die seun van die priester Eleásar, gestuur; En saam met hom tien vorste, van elke hoofhuis 'n vors onder al die stamme van Israel; en elkeen was 'n hoof van die huis van hulle vaders onder die duisende van Israel. En hulle het by die kinders van Ruben en by die kinders van Gad en by die halwe stam van Manasse, in die land Gílead gekom, en hulle het met hulle gespreek en gesê: So sê die hele vergadering van die HERE: Watter oortreding is dit wat julle teen die God van Israel begaan het, om vandag van die HERE af te wyk deurdat julle vir julle 'n altaar gebou het, sodat julle vandag in opstand kan kom teen die HERE? Is die ongeregtigheid van Peor vir ons te min, waarvan ons tot vandag toe nie gereinig is nie, al was daar 'n plaag in die vergadering van die HERE? Maar dat julle vandag moet afwyk om die HERE te volg? en terwyl julle vandag teen die HERE in opstand kom, sal Hy môre toornig word op die hele vergadering van Israel. Maar as die land van julle besitting onrein is, trek dan oor na die land van die besitting van die HERE waarin die tabernakel van die HERE woon, en neem onder ons besit; maar wees nie opstandig teen die HERE en kom nie teen ons in opstand nie bou vir jou 'n altaar langs die altaar van die HERE onse God. Het Akan, die seun van Serag, nie 'n oortreding begaan deur die bangoed nie, en toorn het oor die hele vergadering van Israel geval? en daardie man het nie alleen in sy ongeregtigheid omgekom nie. Toe het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse geantwoord en aan die hoofde van die duisende van Israel gesê: Die HERE, die God van die gode, die HERE, die God van die gode, ken Hy, en Hy sal Israel ken; as dit in opstand is of in oortreding teen die HERE is (verlos ons nie vandag nie) dat ons vir ons 'n altaar gebou het om van die HERE af te wyk, of om daarop 'n brandoffer of spysoffer te bring, of om daarop dankoffers te bring, laat die HERE dit self eis; En as ons dit nie eerder gedoen het uit vrees vir hierdie saak nie, deur te sê: Mettertyd sal julle kinders met ons kinders kan spreek en sê: Wat het julle met die HERE, die God van Israel, te doen? Want die HERE het die Jordaan 'n grens gemaak tussen ons en julle, kinders van Ruben en kinders van Gad! julle het geen deel aan die HERE nie; so sal julle kinders ons kinders laat ophou om die HERE te vrees. Daarom het ons gesê: Laat ons nou gereed maak om vir ons 'n altaar te bou, nie vir brandoffer of slagoffer nie. Maar dat dit 'n getuie kan wees tussen ons en julle en ons geslagte ná ons, dat ons die diens van die HERE voor sy aangesig kan verrig met ons brandoffers en met ons slagoffers en met ons dankoffers; sodat julle kinders nie mettertyd vir ons kinders mag sê: Julle het geen deel aan die HERE nie. Daarom het ons gesê dat dit sal gebeur as hulle so aan ons of aan ons geslagte in die toekoms sê, dat ons weer kan sê: Kyk na die voorbeeld van die altaar van die HERE wat ons vaders gemaak het, nie vir brandoffers nie, ook nie vir offers nie; maar dit is 'n getuie tussen ons en jou. Mag God verhoed dat ons teen die HERE in opstand kom en ons vandag van die HERE afwyk, om 'n altaar te bou vir brandoffers, spysoffers of slagoffers, by die altaar van die HERE onse God wat voor sy tabernakel is. En toe Pinehas, die priester, en die owerstes van die vergadering en die hoofde van die duisende van Israel wat by hom was, die woorde hoor wat die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse gespreek het, het dit hulle behaag. En Pinehas, die seun van Eleásar, die priester, het aan die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse gesê: Vandag sien ons dat die HERE onder ons is, omdat julle nie hierdie oortreding teen die HERE begaan het nie: nou het julle die kinders van Israel verlos uit die hand van die HERE. En Pinehas, die seun van Eleásar, die priester, en die vorste, het teruggekeer van die kinders van Ruben en van die kinders van Gad, uit die land Gílead, na die land Kanaän, na die kinders van Israel, en hulle laat weet weer. En die saak het die kinders van Israel behaag; en die kinders van Israel het God geprys en nie van plan om teen hulle op te trek in die oorlog om die land te verwoes waarin die kinders van Ruben en Gad gewoon het nie. En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het die altaar Ed genoem, want dit sal 'n getuie tussen ons wees dat die HERE God is.
JOSUA 22:10-34 Die Boodskap (DB)
Voordat die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam die Jordaan oorgesteek het, het hulle ’n groot en indrukwekkende altaar by Gelilot in Kanaän gebou. Toe die res van die Israeliete hoor dat hierdie stamme ’n altaar by Gelilot aan die westekant van die Jordaan in Kanaän gebou het, het hulle almal by Silo bymekaargekom en gereedgemaak om teen hulle broers aan die oostekant te gaan oorlog maak. Maar voordat hulle iets verder gedoen het, het hulle eers ’n afvaardiging onder aanvoering van Pinehas die seun van die priester Eleasar na die stamme in Gilead toe gestuur. Saam met hom was daar ook tien leiers van die volk, een uit elke stam, elkeen ’n hoof van ’n familiegroep. Met hulle aankoms in Gilead het hulle vir die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam gesê: “Ons praat namens die hele gemeente van die Here. Hoekom was julle ontrou aan die God van Israel? Toe julle die altaar gebou het, het julle die rug vir die Here gedraai en teen Hom in opstand gekom! Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Daar het die Here sy eie volk met ’n epidemie getref en ons dra tot vandag toe nog die gevolge daarvan. En wat doen julle nou? Julle draai sowaar die rug vir die Here! Besef julle nie dat as julle vandag teen die Here in opstand kom Hy môre vir ons almal wat sy volk is, kwaad sal wees nie? As julle gebied nie geskik is om in te aanbid nie, kom dan oor na ons kant toe waar die Here se tent staan. Dit is die teken van sy teenwoordigheid by ons. Op daardie plek aanbid ons Hom. En as julle grond nodig het om op te kom bly, is ons bereid om met julle te deel. Moet asseblief net nie in opstand kom teen die Here en ons dan ook daarby betrek deur ’n ander altaar te bou nie. Julle weet mos daar kan net een ware altaar vir die Here ons God wees. Onthou julle wat gebeur het toe Akan die seun van Serag hom vergryp het aan dit wat aan die Here gewy was? Die hele volk het daaronder gely. Dit was nie net hy wat gesterf het oor sy sonde nie!” Hierop het die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam vir die leiers van die volk gesê: “Die Here alleen is God! Die Here alleen is God! Die Here weet waarom ons dit gedoen het en ons wil hê julle moet ook weet. As ons dan ontrou was en teen die Here in opstand gekom het, moet julle ons dadelik doodmaak. As ons teen die Here in opstand gekom het en ons eie altaar gebou het waarop ons brandoffers of graanoffers of vredesoffers wou bring, mag die Here dan self van ons rekenskap eis. Maar nee, dit was uit besorgdheid dat ons dit gedoen het. Ons was bang dat julle kinders dalk in die toekoms vir ons s’n sou sê: ‘Wie gee julle die reg om die Here die God van Israel te aanbid? Die Here self het tog die Jordaan as ’n duidelike grens tussen ons en julle gestel. Julle het niks met die Here te doen nie.’ Dit kon dalk tot gevolg hê dat ons kinders nie meer die Here wou aanbid nie. Daarom het ons besluit om die altaar te bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as ’n getuienis. Dit moet ons en julle kinders daaraan herinner dat ons inderdaad ook die Here dien met ons brandoffers en slagoffers en vredesoffers. Dan kan julle kinders nie dalk vir ons s’n sê: ‘Wat het julle met die Here te doen?’ nie. Dit was die hele idee daaragter. Want dan sou ons kinders vir julle s’n kon sê: ‘Kyk, hier is ’n afbeelding van die Here se altaar wat ons ouers gemaak het. Dit is nie bedoel vir brandoffers of slagoffers nie, maar as ’n bewys dat ons dieselfde Here dien.’ Dit was glad nie ons idee om teen die Here in opstand te kom of die rug vir Hom te draai deur ons eie altaar vir brandoffers en spysoffers en slagoffers te bou nie. Ons weet daar is net een altaar wat hiervoor gebruik kan word, en dit is die een by die tabernakel, die altaar van die Here ons God!” Toe die priester Pinehas en die ander leiers van die volk wat saam met hom daar was, dié woorde hoor, het dit hulle gerusgestel. Toe sê Pinehas die seun van die priester Eleasar vir die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam: “Nou weet ons die Here is by ons. Julle was nie ontrou aan die Here nie en het nie teen Hom in opstand gekom soos ons gedink het nie. Inteendeel, julle het juis gekeer dat die Here die Israeliete straf.” Hiermee is Pinehas die seun van die priester Eleasar en die ander leiers van die volk uit Gilead weg, terug Kanaän toe om aan die Israeliete te gaan rapporteer. Die Israeliete was tevrede met wat hulle gehoor het en hulle het God geloof. Hiermee was al hulle oorlogspraatjies ook op ’n end. Die mense van Ruben en Gad het die altaar “Getuie” genoem, “want,” het hulle gesê, “dit dien as getuie dat die Here God is.”
JOSUA 22:10-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het by Gelilot by die Jordaanrivier gekom. Dit is nog aan Kanaän se kant van die rivier. Daar het hulle langs die Jordaan ’n baie groot en mooi altaar gebou. Toe die ander Israeliete hoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar by Gelilot aan hulle kant in Kanaän opgerig het, het hulle by Silo saamgetrek om oorlog teen die twee en ’n half stamme te gaan maak. Die Israeliete het vir Pinehas, die seun van die priester Eleasar, na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. Tien leiers wat elkeen hoof was van ’n Israelitiese familiegroep, en die tien ander stamme verteenwoordig het, het Pinehas vergesel. Hulle het by die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam in Gilead aangekom en vir hulle gesê: “Die volksvergadering van die HERE wil by julle hoor hoekom julle so ontrou is aan die God van Israel. Julle het julle rug op die HERE gedraai toe julle die altaar gebou het! Julle is mos nou in opstand teen Hom! Was ons oortreding by Peor nie groot genoeg nie? Ons het tot vandag toe nog nie die smet daarvan afgeskud nie, selfs al het die HERE die gemeenskap daarvoor gestraf. Julle is nou besig om van Hom af weg te dwaal. Julle kom vandag in opstand teen Hom en net môre is Hy woedend teen ons almal in die gemeenskap van Israel. As julle grond dan besoedel is, moet julle liewer oorkom na die HERE se gebied waar die HERE in sy tabernakel woon. Kry liewer grond tussen ons, maar moenie in verset kom teen die HERE of ons deel maak van julle verset deur ’n ander altaar vir julleself te bou nie. Daar is net een altaar van die HERE ons God. Was die HERE nie briesend vir die hele gemeenskap van Israel toe Akan, die seun van Serag, ontrou was en van die goed van die banvloek gevat het nie? Hy was nie die enigste een wat deur sy sonde dood is nie.” Die Rubeniete, die Gadiete en die mense van die halwe Manassestam het die hoofde van die familiegroep geantwoord: “Die HERE alleen is God, net die HERE is God! Hy weet, en laat Israel ook weet dat julle nie vandag ons lewens moet spaar as ons dit uit opstand of met slegte bedoelings teen die HERE gebou het nie. Ons het nie die altaar gebou om ons rug op die HERE te draai nie. As ons dit gebou het om daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, moet die HERE ons straf. Ons het dit gebou omdat ons bekommerd was dat julle nageslag net oormôre vir ons nasate sal sê: ‘Wat het julle met die HERE, die God van Israel, te doen? Die HERE het die Jordaanrivier as ’n skeiding tussen ons en julle van Ruben en Gad gestel. Julle het nie deel aan die HERE nie!’ Julle nageslag sal dan ons nasate keer om die HERE te dien. Ons het daarom besluit om vir ons die altaar te bou, nie met die oog op brandoffers of diere-offers nie, maar as herinneringsteken vir ons en vir julle en vir ons nageslagte ná ons, dat ons ook die reg het om die HERE by sy heiligdom te gaan aanbid met ons brandoffers, ons ander diere-offers en ons maaltydoffers. Julle nageslag sal nie later vir ons nageslag kan sê: ‘Julle het geen deel aan die HERE nie.’ Ons het by onsself gedink dat as hulle later so iets vir ons of ons nageslag sou sê, dan kan ons nageslag vir hulle sê: ‘Kyk na die afbeelding van die HERE se altaar. Ons voorouers het dit nie vir brandoffers of diere-offers gebou nie, maar as ’n gedenkteken tussen ons en julle.’ “Dis glad nie in ons gedagte om teen die HERE in opstand te kom of die rug op Hom te draai deur ons eie altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diere-offers nie. Daar is nie ’n ander altaar hiervoor as net die een van die HERE ons God wat voor sy tabernakel staan nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die familiehoofde wat by hom was, hoor wat die Rubeniete, Gadiete en mense van Manasse te sê het, was hulle gerusgestel. Pinehas, die seun van die priester Eleasar, het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet vandag dat die HERE tussen ons is. Julle was nie ontrou aan die HERE soos ons gedink het nie. Julle het die Israeliete uit die hand van die HERE gered.” Pinehas, die seun van die priester Eleasar, en die tien leiers het toe teruggekom van die mense van Ruben en Gad in Gilead. Hulle is terug na die ander Israeliete in Kanaän om aan hulle verslag te doen. Die ander Israeliete was tevrede. Hulle het God geloof. Daar was nie langer sprake daarvan om oorlog te gaan maak en die gebied van die Rubeniete en Gadiete te verwoes nie. Die mense van Ruben en Gad het die gedenkaltaar “Getuienis” genoem. Hulle het gesê: “Dit is die getuienis tussen hulle en ons dat die HERE ook ons God is.”