JOSUA 2:15-18
JOSUA 2:15-18 Bybel vir almal (ABA)
Ragab het die twee mans toe met 'n tou deur die venster laat sak, want haar huis was op die muur van die stad, sy het op die muur gewoon. Sy het vir die twee mans gesê: “Julle moet na die berge gaan, sodat die mense wat vir julle soek, julle nie kan kry nie. Julle moet drie dae lank daar wegkruip, daarna kan julle teruggaan op dieselfde pad wat julle gekom het.” Die mans het vir haar gesê: “Ons sal doen wat ons vir jou belowe het. Maar wanneer ons die land aanval, dan moet jy hierdie rooi tou vasbind aan die venster waar jy ons laat afsak het, en jy moet jou ouers en broers, jou hele familie, in jou huis laat bymekaarkom.
JOSUA 2:15-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop het sy hulle met 'n lyn deur die venster laat afsak; want haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy aan die muur gewoon het; en sy het vir hulle gesê: Loop die gebergte in, dat die vervolgers julle nie aantref nie, en steek julle daar drie dae lank weg totdat die vervolgers teruggekom het; daarna kan julle dan verder gaan. Toe sê die manne vir haar: Ons sal ontslae wees van hierdie eed aan jou wat jy ons laat sweer het — kyk, as ons die land inkom, moet jy hierdie gedraaide rooi lyn waarmee jy ons laat afsak het, aan die venster vasbind, en jy moet jou vader en jou moeder en jou broers en jou hele familie by jou in die huis versamel.
JOSUA 2:15-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sy het hulle met 'n tou deur die venster laat afsak; haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy in die muur gewoon het. Haar woorde aan hulle was: “Gaan die berge in sodat die mense wat na julle soek, julle nie raakloop nie. Kruip drie dae daar weg tot hulle die soektog staak. Daarna kan julle julle koers gaan.” Die manne het vir haar gesê: “Die eed wat jy ons laat aflê het, sal ons net bind as jy, wanneer ons die stad aanval, hierdie bloedrooi tou vasbind aan die venster waardeur jy ons laat afsak, en jou pa en ma, jou broers en jou hele familie by jou in die huis bymekaarhou.
JOSUA 2:15-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sy het hulle toe met 'n tou deur die venster laat sak, want haar huis was binne die dwarsmure van die stadsmuur; sy het in die stadsmuur gewoon. Sy het vir hulle gesê: “Gaan na die bergland, anders kom die agtervolgers op julle af. Kruip daar weg vir drie dae, totdat die agtervolgers terugkom. Daarna kan julle verder gaan op julle pad.” Die manne het vir haar gesê: “Ons sou vry kon wees van hierdie eed aan jou wat jy ons laat sweer het. Kyk, wanneer ons in die land kom, moet jy hierdie karmosynrooi gevlegte tou vasmaak aan die venster waardeur jy ons laat sak het. Jou vader en moeder, jou broers en jou hele familie moet jy by jou in jou huis byeenbring.
JOSUA 2:15-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het sy hulle met 'n tou deur die venster laat sak, want haar huis was teen die stadsmuur, en sy het op die muur gewoon. En sy sê vir hulle: Gaan na die berg, dat die vervolgers julle nie teëkom nie; en verberg julle drie dae daar totdat die agtervolgers teruggekeer het; en daarna kan julle gaan. En die manne sê vir haar: Ons sal onberispelik wees van hierdie u eed wat u ons laat sweer het. Kyk, as ons in die land inkom, moet jy hierdie skarlakenrooi draad vasbind in die venster waardeur jy ons laat afsak het; en jy moet jou vader en jou moeder en jou broers en jou hele huisgesin huis toe bring aan jou.
JOSUA 2:15-18 Die Boodskap (DB)
Later het Ragab hulle met ’n tou deur die venster laat afsak, want haar huis was in die stadsmuur ingebou. “Gaan na die bergagtige gebied toe,” het sy vir hulle gesê, “die soldate sal julle nooit daar kry nie. Kruip dan vir drie dae daar weg totdat die mense wat na julle soek, terugkom Jerigo toe. Daarna kan julle teruggaan na julle eie mense toe.” Die spioene sê toe vir haar: “Ons sal die belofte nakom wat jy ons laat maak het. Later, wanneer ons die land inneem, moet jy hierdie rooi tou waarmee jy ons gaan laat afsak, weer aan jou venster vasbind. Sorg ook dat jou pa en ma en jou broers en al jou pa se familielede by jou in die huis is.
JOSUA 2:15-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sy het op die muur gewoon. Haar huis was daar gebou. Sy het hulle met ’n tou deur die venster laat afsak. Haar raad vir hulle was: “Vlug na die berge toe sodat julle agtervolgers julle nie in die hande kan kry nie. Kruip drie dae lank daar weg totdat die agtervolging verby is. Julle kan daarna weer julle koers kry.” Die mans het vir haar gesê: “Ons sal die belofte wat ons aan jou gemaak het, nakom. Jy moet hierdie rooi tou waarmee jy ons deur die venster gaan laat afsak aan die venster vasbind wanneer ons in die land kom. Jy moet dan jou pa en jou ma, jou broers en jou hele familie hier in jou huis laat bymekaarkom.