JOSUA 2:11-13
JOSUA 2:11-13 Bybel vir almal (ABA)
Toe ons dit hoor, het ons baie bang geword, niemand van ons dink dat ons teen julle kan wen nie. Julle God die Here, Hý is die God in die hemel daarbo en op die aarde hier onder. Julle moet nou vir my belowe, en die Here moet die getuie wees. Ek was goed vir julle. Julle moet belowe dat julle vir my familie ook goed sal wees en julle moet vir my wys dat julle dit sal doen. Julle moenie my ouers en my broers en susters doodmaak nie, julle moet niks vat wat aan hulle behoort nie, julle moet keer sodat julle mense ons nie doodmaak nie.”
JOSUA 2:11-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. Sweer dan nou tog vir my by die HERE dat, terwyl ek aan julle 'n guns bewys het, julle ook aan my familie 'n guns sal bewys; en gee my 'n betroubare teken dat julle die lewe van my vader en my moeder en my broers en my susters en almal wat aan hulle behoort, sal spaar en ons siele sal red van die dood.
JOSUA 2:11-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde. “Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my 'n betroubare aanduiding dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”
JOSUA 2:11-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons het dit gehoor, en ons harte het ineengekrimp, sodat niemand meer moed het teen julle nie. Die HERE julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder. Daarom, sweer nou asseblief vir my by die HERE dat ook julle guns sal betoon aan my familie, omdat ek guns aan julle betoon het. Gee my 'n betroubare teken dat julle my vader en moeder, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, sal laat leef, dat julle ons sal red van die dood.”
JOSUA 2:11-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe ons hierdie dinge gehoor het, het ons hart gesmelt, en daar het by niemand meer moed oorgebly nie, ter wille van jou; want die HERE jou God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. Sweer dan nou tog vir my by die HERE, aangesien ek guns aan julle bewys het, dat julle ook guns sal bewys aan die huis van my vader en my 'n ware teken sal gee. En dat julle my vader en my moeder en my broers en my susters en alles wat hulle het in die lewe sal hou, en ons sal red van die dood.
JOSUA 2:11-13 Die Boodskap (DB)
G’n wonder ons het doodbang geword toe ons dit hoor nie. Daarom het niemand die moed om julle aan te pak nie, want die Here julle God is beslis die God van die hemel daar bo en die aarde hier onder. Belowe my dan nou voor die Here dat julle my en my familie so goed sal behandel soos ek julle behandel het. Gee asseblief vir my ’n waarborg dat wanneer julle Jerigo inneem, julle my pa en ma en my broers en susters en hulle families ook sal laat leef.”
JOSUA 2:11-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons het dit alles gehoor. Ons harte het ineengekrimp. Niemand van ons het meer moed oor om teen julle te veg nie. Die HERE julle God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. Ek was goed vir julle. Sweer dan nou vir my voor die HERE dat julle ook goed sal wees vir my familie. Gee vir my die versekering dat julle my pa en my ma, my broers en susters en hulle families se lewens sal spaar wanneer julle Jerigo aanval.”