JOSUA 2:10-11
JOSUA 2:10-11 Bybel vir almal (ABA)
Want ons het gehoor dat die Here vir julle gehelp het en die Riet-see droog laat word het toe julle uit die land Egipte gekom het. Ons weet ook wat julle gedoen het met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete anderkant die Jordaan-rivier. Julle het hulle en hulle mense almal doodgemaak. Toe ons dit hoor, het ons baie bang geword, niemand van ons dink dat ons teen julle kan wen nie. Julle God die Here, Hý is die God in die hemel daarbo en op die aarde hier onder.
JOSUA 2:10-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
want ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.
JOSUA 2:10-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.
JOSUA 2:10-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want ons het gehoor hoe die HERE die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het met julle uittog uit Egipte, en wat julle gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, aan Sihon en Og wat deur julle met die banvloek getref is. Ons het dit gehoor, en ons harte het ineengekrimp, sodat niemand meer moed het teen julle nie. Die HERE julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.
JOSUA 2:10-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons het gehoor hoe die HERE die water van die Skelfsee vir julle laat opdroog het toe julle uit Egipte uitgetrek het; en wat julle aan die twee konings van die Amoriete gedoen het wat oorkant die Jordaan was, Sihon en Og, wat julle met die banvloek getref het. En toe ons hierdie dinge gehoor het, het ons hart gesmelt, en daar het by niemand meer moed oorgebly nie, ter wille van jou; want die HERE jou God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.
JOSUA 2:10-11 Die Boodskap (DB)
Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte weg is. En ons weet ook dat julle die Amoritiese konings, Sihon en Og, aan die oorkant van die Jordaan saam met al hulle mense uitgeroei het. G’n wonder ons het doodbang geword toe ons dit hoor nie. Daarom het niemand die moed om julle aan te pak nie, want die Here julle God is beslis die God van die hemel daar bo en die aarde hier onder.
JOSUA 2:10-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons het gehoor hoe die HERE die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het toe julle uit Egipte getrek het. Ook wat julle met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete, aan die oorkant van die Jordaan gedoen het en hoe julle hulle uitgewis het. Ons het dit alles gehoor. Ons harte het ineengekrimp. Niemand van ons het meer moed oor om teen julle te veg nie. Die HERE julle God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.