JOSUA 2:1-14
JOSUA 2:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Josua seun van Nun het twee mans uit die stad Sittim gestuur om spioene te wees. Niemand anders het geweet dat hy hulle gestuur het nie. Hy het gesê hulle moet gaan kyk hoe die land en die stad Jerigo is. Hulle het gegaan en hulle het by die huis van 'n prostituut gekom. Hulle het daar geslaap. Die prostituut se naam was Ragab. Iemand het vir die koning van Jerigo gaan sê: “Daar het vannag Israeliete hiernatoe gekom om te kyk hoe die land is.” Die koning van Jerigo het toe vir Ragab laat weet: “Jy moet die mans uitbring wat na jou huis gekom het, want hulle het gekom om te kyk hoe die land is.” Ragab het die twee mans weggesteek en sy het vir die koning laat weet: “Dit is waar, die mans het na my toe gekom, maar ek weet nie van waar hulle gekom het nie. Hulle het geloop toe dit donker word en toe die wagte die poort gesluit het. Ek weet nie waarnatoe hulle gegaan het nie. Julle moet hulle dadelik volg en jaag, julle sal hulle kry.” Maar Ragab het die mans opgeneem op die dak en sy het hulle weggesteek onder droë vlas wat sy daar oopgegooi het. Die manne van Jerigo het gehardloop op die pad na die Jordaan-rivier tot by die driwwe, en toe hulle uit die stad gegaan het, het die wagte die poort gesluit. Die manne het gedink die spioene is voor hulle op die pad. Ragab het opgegaan na die spioene op die dak voordat hulle aan die slaap geraak het. Sy het vir hulle gesê: “Ek weet die Here sal die land vir julle gee. Ons is baie bang vir julle, en al die mense van die land is baie bang vir julle. Want ons het gehoor dat die Here vir julle gehelp het en die Riet-see droog laat word het toe julle uit die land Egipte gekom het. Ons weet ook wat julle gedoen het met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete anderkant die Jordaan-rivier. Julle het hulle en hulle mense almal doodgemaak. Toe ons dit hoor, het ons baie bang geword, niemand van ons dink dat ons teen julle kan wen nie. Julle God die Here, Hý is die God in die hemel daarbo en op die aarde hier onder. Julle moet nou vir my belowe, en die Here moet die getuie wees. Ek was goed vir julle. Julle moet belowe dat julle vir my familie ook goed sal wees en julle moet vir my wys dat julle dit sal doen. Julle moenie my ouers en my broers en susters doodmaak nie, julle moet niks vat wat aan hulle behoort nie, julle moet keer sodat julle mense ons nie doodmaak nie.” Die mans het vir haar gesê: “As julle sterf, dan moet ons ook sterf. As julle nie sê wat ons hier kom doen het nie, en as die Here die land vir ons gee, dan sal ons ook goed wees vir julle, ons sal doen wat ons belowe.”
JOSUA 2:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROP het Josua, die seun van Nun, uit Sittim in die geheim twee manne as verkenners uitgestuur en gesê: Gaan bekyk die land en Jérigo. Hulle het toe gegaan en in die huis van 'n hoer, met die naam van Ragab, ingekom; en hulle het daar gaan slaap. En toe daar aan die koning van Jérigo gesê is: Kyk, manne uit die kinders van Israel het vannag hierheen gekom om die land te verken, stuur die koning van Jérigo na Ragab om te sê: Lewer die manne uit wat na jou gekom het, wat in jou huis ingegaan het; want hulle het gekom om die hele land te verken. Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle weggesteek; en sy het gesê: Seker, die manne het na my gekom; maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie. En toe die poort met donker gesluit moes word, het die manne uitgegaan; ek weet nie waar die manne heengegaan het nie; jaag hulle gou agterna, want julle sal hulle inhaal. Maar sy het hulle op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat op haar dak oopgegooi was. Die manne het hulle toe agternagejaag in die rigting van die Jordaan, na die driwwe; en die poort het hulle gesluit nadat hulle vervolgers uitgegaan het. En voordat hulle gaan slaap het, het sy op die dak geklim na hulle toe en aan die manne gesê: Ek weet dat die HERE die land aan julle gegee het en dat die skrik vir julle op ons geval het en dat al die inwoners van die land vir julle bewe; want ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. Sweer dan nou tog vir my by die HERE dat, terwyl ek aan julle 'n guns bewys het, julle ook aan my familie 'n guns sal bewys; en gee my 'n betroubare teken dat julle die lewe van my vader en my moeder en my broers en my susters en almal wat aan hulle behoort, sal spaar en ons siele sal red van die dood. Toe sê die manne vir haar: Mag ons siel in julle plek sterwe! As julle nie hierdie saak van ons bekend maak nie, dan sal ons, as die HERE ons die land gee, aan jou guns en trou bewys.
JOSUA 2:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josua seun van Nun het van Sittim af in die geheim twee verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur, veral Jerigo.” Hulle is toe weg en het uitgekom by die huis van 'n prostituut met die naam Ragab en daar tuis gegaan. Die koning van Jerigo het berig gekry dat daar in die nag van die Israeliete af mense aangekom het om die land te verken, en hy het vir Ragab laat weet: “Lewer die manne uit wat na jou toe, na jou huis toe, gekom het. Hulle is hier om die land te verken.” Die vrou het die twee manne weggesteek en vir die koning laat weet: “Daar het manne by my aangekom, maar ek weet nie waarvandaan hulle is nie. Hulle het met donker vertrek toe dit tyd was vir die stadspoort om te sluit, en ek weet nie waarheen hulle is nie. Maak gou en agtervolg hulle. Miskien haal u hulle in.” Sy het die twee manne intussen op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat sy daar oopgesprei het. Die koning se manne het na die twee verkenners gaan soek op die pad na die Jordaan toe, in die driwwe se rigting. Nadat die agtervolgers weg is agter die verkenners aan, is die stadspoort gesluit. Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde. “Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my 'n betroubare aanduiding dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.” Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s'n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.”
JOSUA 2:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het Josua, seun van Nun, in die geheim twee manne as verkenners uit Sittim gestuur en gesê: “Gaan kyk na die land en Jerigo.” Hulle het gegaan en by die huis van 'n prostituut met die naam Ragab aangekom en daar oornag. Aan die koning van Jerigo is gesê: “Kyk, manne van die Israeliete het in die nag hierheen gekom om die land te verken.” Toe stuur die koning van Jerigo 'n boodskap na Ragab: “Lewer die manne uit wat by jou aangekom het, wat in jou huis ingegaan het, want hulle het gekom om die hele land te verken.” Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle versteek. Sy het gesê: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Toe die stadspoort teen donker moes sluit, het die manne uitgegaan. Ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie. Sit hulle gou agterna, want u kan hulle inhaal.” Maar sy het hulle na die dak laat opklim en hulle versteek onder vlasstingels wat vir haar op die dak oopgesprei was. Die manne het hulle agternagesit op die pad na die Jordaan, tot by die driwwe. Die stadspoort is gesluit nadat dié wat hulle agternagesit het, uitgegaan het. Voordat die verkenners gaan lê het om te slaap, het sy op die dak geklim na hulle toe. Sy het vir die manne gesê: “Ek weet dat die HERE aan julle die land gegee het, en dat vrees vir julle ons oorval het, ja, dat al die inwoners van die land sidder oor julle. Want ons het gehoor hoe die HERE die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het met julle uittog uit Egipte, en wat julle gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, aan Sihon en Og wat deur julle met die banvloek getref is. Ons het dit gehoor, en ons harte het ineengekrimp, sodat niemand meer moed het teen julle nie. Die HERE julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder. Daarom, sweer nou asseblief vir my by die HERE dat ook julle guns sal betoon aan my familie, omdat ek guns aan julle betoon het. Gee my 'n betroubare teken dat julle my vader en moeder, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, sal laat leef, dat julle ons sal red van die dood.” Toe sê die manne vir haar: “Ons self staan in vir julle, tot die dood toe, as julle niks oor hierdie saak van ons bekend maak nie. Wanneer die HERE hierdie land vir ons gee, sal ons aan jou guns en trou bewys.”
JOSUA 2:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Josua, die seun van Nun, het uit Sittim twee manne uitgestuur om in die geheim te spioeneer en gesê: Gaan kyk na die land, Jérigo. En hulle het gegaan en in die huis van 'n hoer met die naam van Ragab gekom en daar vernag. En aan die koning van Jérigo is meegedeel en gesê: Kyk, daar het vannag manne van die kinders van Israel hier ingekom om die land te verken. En die koning van Jérigo het na Ragab gestuur om te sê: Bring die manne uit wat na jou gekom het, wat in jou huis ingegaan het, want hulle het gekom om die hele land te verken. En die vrou het die twee mans geneem en hulle weggesteek en so gesê: Daar het manne na my gekom, maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie. En omtrent die tyd van die sluiting van die poort, toe dit donker was, het die manne uitgegaan; waarheen die manne gegaan het, het ek nie geweet nie; want julle sal hulle inhaal. Maar sy het hulle op die dak van die huis gebring en hulle weggesteek met die vlasstingels wat sy op die dak in orde gelê het. En die manne het hulle agtervolg die pad na die Jordaan tot by die driwwe; en sodra die wat hulle agtervolg het, uitgegaan het, het hulle die poort gesluit. En voordat hulle neergelê is, het sy op die dak na hulle geklim; Toe sê sy vir die manne: Ek weet dat die HERE die land aan julle gegee het, en dat julle verskrikking oor ons gekom het, en dat al die inwoners van die land beswyk vanweë julle. Want ons het gehoor hoe die HERE die water van die Skelfsee vir julle laat opdroog het toe julle uit Egipte uitgetrek het; en wat julle aan die twee konings van die Amoriete gedoen het wat oorkant die Jordaan was, Sihon en Og, wat julle met die banvloek getref het. En toe ons hierdie dinge gehoor het, het ons hart gesmelt, en daar het by niemand meer moed oorgebly nie, ter wille van jou; want die HERE jou God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. Sweer dan nou tog vir my by die HERE, aangesien ek guns aan julle bewys het, dat julle ook guns sal bewys aan die huis van my vader en my 'n ware teken sal gee. En dat julle my vader en my moeder en my broers en my susters en alles wat hulle het in die lewe sal hou, en ons sal red van die dood. En die manne het haar geantwoord: Ons lewe vir jou s'n, as jy dit nie ons saak uitspreek nie. En as die HERE die land aan ons gee, sal ons vriendelik en getrou aan jou handel.
JOSUA 2:1-14 Die Boodskap (DB)
Daarna het Josua in die geheim twee spioene uit die kamp in Sittim na Kanaän toe gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur en veral die stad Jerigo.” Hulle is toe daar weg. In Jerigo aangekom, het hulle in die huis van Ragab, ’n prostituut, gaan bly. Die koning van Jerigo het uitgevind dat daar in die nag Israelitiese mans in die land aangekom het om dit te verken. Hy laat weet toe vir Ragab: “Die mans in jou huis het hiernatoe gekom om op ons te spioeneer. Lewer hulle dadelik aan my uit!” “Hier was mans by my,” antwoord sy die koning, “maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Hulle is in elk geval teen donker al hier weg, nog voordat die stad se hekke gesluit is. Ek weet nie waarheen hulle is nie, maar as julle gou maak, kan julle hulle dalk nog inhaal.” Intussen het Ragab egter die twee mans op die dak laat klim en hulle tussen die bondels strooi laat wegkruip wat sy daar opgestapel het. Die koning se soldate is toe daar weg om na die spioene te gaan soek op die pad wat langs die vlakker dele van die Jordaan verbyloop. Nadat die soldate daar uit is, is die stad se hekke weer agter hulle gesluit. Voordat die spioene uit Israel daardie aand gaan slaap het, het Ragab na hulle toe gegaan en vir hulle gesê: “Ek weet die Here het hierdie land vir julle gegee. Ons almal is bang vir julle. Om die waarheid te sê, die mense bewe so bang is hulle vir julle. Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte weg is. En ons weet ook dat julle die Amoritiese konings, Sihon en Og, aan die oorkant van die Jordaan saam met al hulle mense uitgeroei het. G’n wonder ons het doodbang geword toe ons dit hoor nie. Daarom het niemand die moed om julle aan te pak nie, want die Here julle God is beslis die God van die hemel daar bo en die aarde hier onder. Belowe my dan nou voor die Here dat julle my en my familie so goed sal behandel soos ek julle behandel het. Gee asseblief vir my ’n waarborg dat wanneer julle Jerigo inneem, julle my pa en ma en my broers en susters en hulle families ook sal laat leef.” Hulle sê toe vir haar: “Ons is bereid om ons eie lewe as waarborg te gee vir julle veiligheid. As julle ons nie verraai nie, sal ons ons belofte nakom wanneer die Here hierdie land vir ons gee.”
JOSUA 2:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua, die seun van Nun, het in die geheim twee verkenners van Sittim af uitgestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan verken die land, veral Jerigo.” Hulle is daar weg en het by die huis van ’n prostituut uitgekom. Haar naam was Ragab. Hulle het daar tuisgegaan. Iemand het vir die koning van Jerigo gaan vertel dat daar gedurende die nag Israelitiese mans aangekom het om die land te verken. Hy het toe vir Ragab laat weet: “Laat die mans uitkom wat na jou huis toe gekom het. Hulle het op die land kom spioeneer.” Ragab het die twee mans laat wegkruip. Sy het vir die koning laat weet: “Daar was mans hier by my. Ek weet nie van waar af hulle gekom het nie. Toe die poorte teen skemer gesluit het, is die mans hier weg. Ek weet nie waarheen hulle gegaan het nie. As jy gou maak, kan jy hulle miskien nog inhaal.” Sy het die mans op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlashalms wat sy daar oopgegooi het. Die koning se soldate het toe na die mans gaan soek langs die pad wat na die driwwe by die Jordaan loop. Net na die agtervolgers weg is, is die stad se poorte gesluit. Voor die mans gaan slaap het, het die vrou na hulle toe opgeklim op die dak. Sy het vir hulle gesê: “Ek weet dat die HERE vir julle die land gaan gee. Ons is lam van die skrik. Almal van ons wat in die land woon, is bang vir julle. Ons het gehoor hoe die HERE die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het toe julle uit Egipte getrek het. Ook wat julle met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete, aan die oorkant van die Jordaan gedoen het en hoe julle hulle uitgewis het. Ons het dit alles gehoor. Ons harte het ineengekrimp. Niemand van ons het meer moed oor om teen julle te veg nie. Die HERE julle God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. Ek was goed vir julle. Sweer dan nou vir my voor die HERE dat julle ook goed sal wees vir my familie. Gee vir my die versekering dat julle my pa en my ma, my broers en susters en hulle families se lewens sal spaar wanneer julle Jerigo aanval.” Die mans sê toe vir haar: “Ons lewens is julle versekering. As julle nie ons saak weggee nie, sal ons ons belofte hou wanneer die HERE die land vir ons gee.”