JOSUA 15:13-19
JOSUA 15:13-19 Bybel vir almal (ABA)
Josua het vir Kaleb seun van Jefunne 'n deel van die land gegee tussen die Juda-mense. Dit was die stad Hebron, hulle het die stad voorheen Kirjat-Arba genoem. Arba was die pa van Enak. Die Here het vir Josua gesê hulle moet die plek vir Kaleb gee. Kaleb het die Enak-mense Sesai, Agiman en Talmai weggejaag uit Hebron. Hulle was die nageslag van Enak. Kaleb het toe na die stad Debir gegaan, die naam van Debir was voorheen Kirjat-Sefer. Kaleb het gesê: “Ek sal my dogter Aksa gee vir die man wat die stad Kirjat-Sefer oorwin en wat dit vat, my dogter sal daardie man se vrou wees.” Otniël seun van Kenas broer van Kaleb het die stad oorwin, en Kaleb het sy dogter Aksa vir hom gegee om sy vrou te wees. Toe Aksa by Otniël kom, het sy gesê hy moet vir haar pa 'n stuk grond vra waar hulle kan ploeg en plant. Maar toe sy afklim van die donkie, het Kaleb vir haar gevra wat sy wil hê. Sy sê toe: “Jy moet vir my vrugbare grond gee. Jy het vir my die Suid-land gegee, maar nou moet jy vir my ook plekke gee waar daar water is.” Kaleb het toe vir haar plekke gegee waar daar water was in die berge en in die valleie.
JOSUA 15:13-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar aan Kaleb, die seun van Jefúnne, het hy 'n aandeel onder die kinders van Juda gegee, volgens die bevel van die HERE aan Josua: die stad van Arba, die vader van Enak, dit is Hebron. En Kaleb het die drie seuns van Enak: Sesai, Ahíman en Talmai, afstammelinge van Enak, daaruit verdrywe. En daarvandaan het hy opgetrek teen die inwoners van Debir; maar die naam van Debir was tevore Kirjat-Sefer; en Kaleb het gesê: Hy wat Kirjat-Sefer verslaan en dit inneem, aan hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee. Daarop het Ótniël, die seun van Kenas, die broer van Kaleb, dit ingeneem; en hy het sy dogter Agsa aan hom as vrou gegee. En toe sy aankom, het sy hom aangespoor om van haar vader 'n stuk grond te vra; en toe sy van die esel afklim, sê Kaleb vir haar: Wat wil jy hê? En sy sê: Gee my tog 'n geskenk; omdat u my na 'n dor land versit het, moet u my waterfonteine gee. Toe gee hy haar fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte.
JOSUA 15:13-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aan Kaleb seun van Jefunne het Josua, soos die Here hom beveel het, 'n eie gebied toegeken tussen die mense van Juda, naamlik Kirjat-Arba, dit is Hebron. Arba was die voorvader van die Enakiete. Kaleb het die Enakiete Sesai, Agiman en Talmai uit Hebron verdryf, al drie Enakskinders. Daarvandaan het Kaleb die mense van Debir gaan aanval. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer. Kaleb het gesê: “Aan die man wat Kirjat-Sefer verslaan en inneem, gee ek my dogter Aksa as vrou.” Kaleb se stamgenoot Otniël seun van Kenas het die stad ingeneem, en Kaleb het sy dogter Aksa aan hom as vrou gegee. Toe sy by Otniël kom, het sy by hom aangehou dat hulle vir haar pa landbougrond moet gaan vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar wat sy wil hê, en sy antwoord: “Gee my 'n stuk vrugbare grond. U het my die droë Suidland gegee. Gee my nou ook standhoudende water.” Hy het toe vir haar fonteine in die hooggeleë deel en fonteine in die laaggeleë deel gegee.
JOSUA 15:13-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aan Kaleb, seun van Jefunne, is 'n deel gegee tussen die nageslag van Juda, ooreenkomstig die bevel van die HERE aan Josua: Kirjat-Arba, dit is Hebron; Arba was die voorvader van Enak. Kaleb het die drie Enakiete, Sesai, Agiman en Talmai, die kinders van Enak, daar uitgedryf. Daarvandaan het hy opgetrek na die inwoners van Debir. Die naam van Debir was vroeër Kirjat-Sefer. Kaleb het gesê: “Die een wat Kirjat-Sefer aanval en inneem – vir hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee.” Otniël, die seun van Kenas, Kaleb se broer, het die dorp toe ingeneem, en hy het sy dogter Agsa vir hom as vrou gegee. Met haar aankoms het sy hom aangespoor om by haar vader 'n stuk land te vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar: “Wat wil jy hê?” Sy sê toe: “Gee vir my 'n buitengewone geskenk. Omdat u vir my grond in die Negev gegee het, moet u vir my waterbronne gee.” Hy het toe vir haar die boonste en die onderste bronne gegee.
JOSUA 15:13-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En aan Kaleb, die seun van Jefunne, het hy deel gegee onder die kinders van Juda, volgens die bevel van die HERE aan Josua, die stad van Arba, die vader van Enak, dit is Hebron. En Kaleb het die drie seuns van Enak, Sesai en Ahiman en Talmai, die kinders van Enak, daarvandaan verdryf. En hy het daarvandaan opgetrek na die inwoners van Debir, en die naam van Debir was voorheen Kirjat-Sefer. Toe sê Kaleb: Hy wat Kirjat-Sefer verslaan en dit inneem, aan hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee. En Otniël, die seun van Kenas, die broer van Kaleb, het dit ingeneem, en hy het sy dogter Agsa aan hom as vrou gegee. En toe sy by hom kom, het sy hom aangespoor om van haar vader 'n stuk grond te vra; en sy het haar esel afgesteek; en Kaleb sê vir haar: Wat wil jy hê? Hy het geantwoord: Gee my 'n seën; want U het my 'n Suidland gegee; gee my ook waterfonteine. En hy het haar die boonste fonteine en die onderste fonteine gegee.
JOSUA 15:13-19 Die Boodskap (DB)
Volgens die Here se opdrag aan Josua het hy aan Kaleb die seun van Jefunne ’n gebied binne Juda se grense toegeken, naamlik Kirjat-Arba. Dit is vernoem na Arba, die voorvader van die Enakiete. Hierdie gebied staan ook bekend as Hebron. Kaleb het drie van Enak se kinders, Sesai, Agiman en Talmai, uit hierdie gebied verdryf. Van daar af het hy die mense van Debir aangeval. Debir was vroeër as Kirjat-Sefer bekend. Kaleb het gesê: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat Kirjat-Sefer inneem en verslaan.” Otniël die seun van Kaleb se broer Kenas het die stad ingeneem en so het Aksa sy vrou geword. Toe Aksa met Otniël trou, het sy hom probeer oorreed om by haar pa landbougrond te vra, maar hy wou nie. Toe sy haar ouers gaan groet en Kaleb haar vra wat sy wou hê, het sy geantwoord: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook as huweliksgeskenk vir my goeie waterbronne gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee.
JOSUA 15:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Soos die HERE Josua beveel het, het hy aan Kaleb, die seun van Jefunne, ’n eie gebied toegeken tussen die mense van Juda. Hy het Kirjat-Arba, dit is Hebron, gekry, wat na een van die voorouers van die Enakiete vernoem is. Kaleb het die drie Enakietgroepe van Sesai, Agiman en Talmai uit Hebron verdryf, almal nasate van Enak. Van daar af het Kaleb die inwoners van Debir gaan aanval. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer. Kaleb het gesê: “Ek gee my dogter Aksa as vrou vir die man wat Kirjat-Sefer aanval en verslaan.” Otniël, die seun van Kaleb se broer Kenas, het die stad ingeneem. Kaleb het sy dogter Aksa aan hom as vrou gegee. Sy het Otniël aangepor om by haar pa grond te gaan vra. Toe sy van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat is dit?” Sy het geantwoord: “Seën my tog. U het vir my grond in die droë Negevwoestyn gegee. Gee asseblief vir my ook ’n plek met water.” Hy het toe vir haar plekke met fonteine in sowel die hoërliggende as die laer dele gegee.