JOSUA 11:1-23

JOSUA 11:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Koning Jabin van Hasor het gehoor wat gebeur het. Hy stuur toe boodskappe na koning Jobab van die stad Madon, en na die konings van die stede Simron en Aksaf, die konings in die noordelike bergland, die konings in die Jordaan-vallei suid van die Gennesaret-meer, die konings in die Laeveld en in die westelike berge van die land Dor, die konings van die Kanaäniete in die ooste en die weste, die konings van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete in die berge, en die Hewiete onderkant Hermon-berg in die land Mispe. Die konings het almal hulle leërs gebring, dit was baie mense, so baie soos die sand langs die see. Hulle het ook baie perde en oorlogkarre gehad, dit was baie. Al daardie konings het bymekaargekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die Merom-rivier, hulle wou oorlog maak teen die Israeliete. Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang wees vir hulle nie, want môre hierdie selfde tyd sal Ek die Israeliete laat wen teen hulle. Hulle sal almal sterf in die oorlog. Jy moet hulle perde se hakskene sny en jy moet hulle oorlogkarre verbrand.” Josua en al die soldate by hom het die vyande gesien by die Merom-rivier en hulle het die vyande aangeval. Die vyande het dit nog nie verwag nie. Die Here het die Israeliete laat wen teen die vyande. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die vyande gevolg en gejaag tot by die stad Groot-Sidon en tot by die stad Misrefot-Majim en tot by die Mispe-vallei in die ooste. Die Israeliete het al die vyande doodgemaak, nie een het aangehou lewe nie. Josua het met die vyande gedoen soos die Here vir hom gesê het. Hy het hulle perde se hakskene gesny en hy het hulle oorlogkarre verbrand. Josua het toe na die stad Hasor gegaan. Hy het die stad oorwin en hy het die koning doodgemaak, want Hasor was voorheen die belangrikste stad van al die stede wat konings gehad het. Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het gesê daardie mense is gewy aan die Here, nie een het aangehou lewe nie, en toe het hy die stad verbrand. Josua het al die stede van daardie konings oorwin, en hy het die konings en die mense almal doodgemaak, hy het gedoen soos Moses, die dienaar van die Here, gesê het. Maar die Israeliete het nie die stede verbrand wat op heuwels gestaan het nie, Josua het net die stad Hasor verbrand. Die Israeliete het al die goed in die stede en al die diere vir hulleself gevat, maar hulle het al die mense doodgemaak, hulle het niemand laat aanhou lewe nie. Die Here het voorheen vir Moses gesê wat hy moet doen, en Moses het vir Josua gesê om dit te doen. Josua het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het. Josua het hierdie hele land gevat, die berge en die hele Suid-land en die hele land Gosen en die Laeveld en die Jordaan-vallei en die Israel-berge en die Laeveld daar naby. Dit was die land van die Galak-berg naby die land Seïr tot by die stad Baäl-Gad in die Libanon-vallei suid van Hermon-berg. Josua het al die konings oorwin en hy het hulle doodgemaak. Josua het lank oorlog gemaak teen al daardie konings. Die mense in die stede het nie vrede gemaak met Josua nie. Die Israeliete het al die stede oorwin in die oorlog. Net die Hewiete in die stad Gibeon het vrede gemaak met die Israeliete. Die Here self het daardie konings hardkoppig gemaak sodat hulle oorlog wou maak teen die Israeliete. Die Here wou hê dat die Israeliete nie jammer moes wees vir die mense nie, Hy wou hê dat die Israeliete almal moes doodmaak, soos Hy vir Moses gesê het. Josua het in daardie tyd ook die Enak-mense almal doodgemaak. Die Enak-mense het gewoon in die berge van Hebron, in die stad Debir en die stad Anab, en in al die berge van Juda en Israel. Josua het gesê die mense en hulle stede is gewy aan die Here, en hy het hulle doodgemaak en die stede verwoes. Daar het nie Enak-mense oorgebly in die land Israel nie, net in die stede Gasa, Gat, Askelon en Asdod was daar nog Enak-mense. Josua het die hele land oorwin en gevat, hy het alles gedoen wat die Here voorheen vir Moses gesê het. Josua het die land vir die Israeliete gegee, elke stam het 'n deel van die land gekry. Daar was toe nie meer oorlog in die land nie.

JOSUA 11:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Jabin, die koning van Hasor, dit hoor, het hy gestuur na Jobab, die koning van Madon, en na die koning van Simron en na die koning van Agsaf; verder na die konings in die Noorde, in die gebergte en op die Vlakte suid van Kínnerot en in die Laeveld en op die hoëveld van Dor in die weste; na die Kanaäniete in die ooste en in die weste en die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Jebusiete op die gebergte en die Hewiete onderaan Hermon, in die land van Mispa. Hulle het dan uitgetrek en al hulle leërs saam met hulle, 'n volk talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte, met 'n groot getal perde en strydwaens; en al hierdie konings het volgens afspraak byeengekom en saam laer opgeslaan by die waters van Merom, om met Israel oorlog te voer. Toe sê die HERE vir Josua: Wees vir hulle nie bevrees nie; want môre omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee; hulle perde se hakskeensenings moet jy afsny en hulle waens met vuur verbrand. En Josua met al die weerbare manskappe by hom het skielik op hulle afgekom by die waters van Merom en hulle oorval. En die HERE het hulle in die hand van Israel gegee, sodat dié hulle verslaan en hulle agtervolg het tot by Groot-Sidon en tot by Mísrefot-Maim en tot by die laagte van Mispe teen die ooste; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle was wat vrygeraak het nie. En Josua het met hulle gedoen soos die HERE aan hom gesê het: hulle perde se hakskeensenings het hy afgesny en hulle strydwaens met vuur verbrand. En in dié tyd het Josua omgedraai en Hasor ingeneem en sy koning met die swaard verslaan; want Hasor was tevore die hoof van al daardie koninkryke. En hulle het al die siele wat daarin was, met die skerpte van die swaard verslaan en hulle met die banvloek getref; niks wat asemhaal, het oorgebly nie, en Hasor het hy met vuur verbrand. En al daardie koningstede met al hulle konings het Josua geneem en hulle met die skerpte van die swaard verslaan; hy het hulle met die banvloek getref, soos Moses, die kneg van die HERE, beveel het. Net al die stede wat op hulle heuwels gelê het, dié het Israel nie verbrand nie, behalwe Hasor alleen — wat Josua verbrand het. En al die buit van daardie stede en die vee het die kinders van Israel vir hulleself buitgemaak; net al die mense het hulle verslaan met die skerpte van die swaard, totdat hulle dié verdelg het; hulle het niks wat asemhaal, laat oorbly nie. Soos die HERE Moses, sy kneg, beveel het, so het Moses aan Josua bevel gegee, en so het Josua gehandel; hy het niks nagelaat van alles wat die HERE Moses beveel het nie. So het Josua dan hierdie hele land ingeneem: die Gebergte en die hele Suidland en die hele land Gosen en die Laeveld en die Vlakte en die gebergte van Israel met sy laagte; van die Kaal Berg af, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad in die laagte van die Líbanon onderaan die berg Hermon; en al hulle konings het hy gevang en hulle verslaan en hulle gedood. Baie lank het Josua met al hierdie konings oorlog gevoer. Daar was geen stad wat met die kinders van Israel vrede gesluit het nie, behalwe die Hewiete, die inwoners van Gíbeon; alles het hulle met wapengeweld geneem. Want die HERE het dit so bestier dat hulle hul hardnekkig voorgeneem het om Israel te bestry, sodat dié hulle met die banvloek sou tref, dat daar vir hulle geen genade sou wees nie; maar dat dié hulle sou verdelg, soos die HERE Moses beveel het. En in dié tyd het Josua gekom en die Enakiete uitgeroei, uit die gebergte, uit Hebron, Debir, Anab en uit die hele gebergte van Juda en die hele gebergte van Israel; met hul stede saam het Josua hulle met die banvloek getref. Niemand van die Enakiete het oorgebly in die land van die kinders van Israel nie; net in Gasa, in Gat en in Asdod het hulle oorgebly. So het Josua dan die hele land ingeneem net soos die HERE met Moses gespreek het; en Josua het dit as 'n erfdeel aan Israel gegee volgens hulle afdelings, volgens hulle stamme; en die land het gerus van oorlog.

JOSUA 11:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Koning Jabin van Hasor het gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe aan koning Jobab van Madon, aan die konings van Simron en Aksaf en aan die konings in die noordelike Bergland, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, in die Laeveld en op die bergrug van Dor in die weste, die Kanaäniete in die ooste en die weste, die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die Bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispegebied. Hulle het almal gekom met hulle leërs, 'n groot menigte, so baie soos die sand van die see. Hulle het ook baie perde en strydwaens gehad. Al die konings het 'n bondgenootskap gesluit en saam hulle soldate vir die oorlog teen Israel ontplooi by die Meromwaters. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.” Josua en al sy manskappe het die vyand skielik oorval by die Meromwaters. Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee en dié het hulle verslaan en hulle agtervolg by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei. Nie een het vrygekom nie. Josua het met hulle gedoen soos die Here vir hom gesê het: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand. Daarna het Josua na Hasor toe gegaan, die stad ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor het vroeër die leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar. Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het hulle uitgeroei sodat niks wat asemhaal, bly lewe het nie. Die stad self het hy afgebrand. Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense uitgeroei soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het. Israel het egter nie die ou, gevestigde stede afgebrand nie. Dit is net Hasor wat deur Josua afgebrand is. Die Israeliete het die buit en die vee van die stede gevat, maar al die mense doodgemaak. Hulle het die mense heeltemal uitgeroei. Nie een het bly lewe nie. Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie. Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, die hele Suidland, die hele Gosengebied, die Laeveld, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle uitlopers. Die gebied het gestrek van Kaalberg af wat na Seïr toe oploop, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant Hermonberg. Josua het al die konings in dié gebied verslaan en doodgemaak. Hy moes lank teen hulle oorlog voer. Behalwe die Hewiete in Gibeon het nie een stad met die Israeliete vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower. Dit was die Here wat hulle in verset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, uitgewis word, soos die Here vir Moses beveel het. In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge uitgeroei. Hy het hulle saam met hulle stede uitgeroei, en daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod was daar Enakiete oor. Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam 'n deel. Die land kon toe rus van oorlog.

JOSUA 11:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Jabin, die koning van Gasor, dit hoor, het hy 'n boodskap gestuur na Jobab, die koning van Madon, na die koning van Simron, na die koning van Agsaf en na die konings in die noorde: in die bergland, in die Araba suid van Gennesaret, in die Sjefela, en in die heuwelland by Dor in die weste – die Kanaäniete in die ooste en weste, die Amoriete, die Hetiete, en Feresiete, die Jebusiete in die bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispestreek. Hulle het met al hulle leërs saam met Jabin uitgetrek, met baie manskappe, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is en met 'n groot aantal perde en strydwaens. Al hierdie konings het kragte saamgesnoer, gegaan en kamp opgeslaan by die waters van Merom om teen Israel oorlog te voer. Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want môre teen hierdie tyd sal Ek hulle almal doodgemaak aan Israel oorlewer. Hulle perde se hakskeensenings moet jy afkap, en hulle strydwaens moet jy verbrand.” Josua en al die weerbare manskappe saam met hom het hulle by die waters van Merom verras en hulle oorval. Die HERE het hulle in die hand van Israel gegee, en Israel het hulle verslaan en agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispevallei in die ooste. Hulle het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug het nie. Josua het met hulle gemaak soos die HERE vir hom gesê het: Hulle perde se hakskeensenings het hy afgekap en hulle strydwaens het hy verbrand. In daardie tyd het Josua teruggedraai, Gasor ingeneem en sy koning met die swaard doodgemaak. Vroeër was Gasor immers die belangrikste van al daardie koninkryke. Hy het elke lewende persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan, hulle met die banvloek getref. Niemand wat asemhaal, het oorgebly nie; en toe het hy Gasor afgebrand. Al hierdie koningstede, met al hulle konings, het Josua verower. Hy het hulle met die skerpte van die swaard verslaan en hulle met die banvloek getref soos Moses, die dienskneg van die HERE, beveel het. Net die stede wat op puinheuwels staan, is nie deur Israel afgebrand nie. Gasor was die enigste uitsondering – Josua het net dit afgebrand. Al die buit van hierdie stede en die vee het die Israeliete vir hulleself gevat. Net die mense het hulle met die skerpte van die swaard getref, totdat hulle uitgedelg was. Hulle het niemand wat asemhaal, laat oorbly nie. Soos die HERE Moses, sy dienskneg, beveel het, so het Moses vir Josua opdrag gegee, en presies so het Josua dit gedoen. Hy het niks agterweë gelaat van alles wat die HERE Moses beveel het nie. Josua het hierdie hele landstreek verower: die bergland, die hele Negev, die hele Gosenstreek, die Sjefela en die Araba, die berggebiede van Israel en sy laer liggende dele, van die berg Galak af wat oploop na Seïr, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant die berg Hermon. Al hulle konings het hy gevange geneem, hulle neergevel en hulle doodgemaak. Vir 'n geruime tyd het Josua teen al die konings oorlog gevoer. Daar was nie 'n stad wat vrede gesluit het met die Israeliete nie, behalwe die Hewiete wat in Gibeon woon. Al hierdie stede het die Israeliete in die oorlog verower. Dit was immers deur die HERE se toedoen dat hulle hulle harte verhard het om teen Israel oorlog te voer, sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en daar nie vir hulle genade sou wees nie – ja, sodat Israel hulle kon verdelg soos die HERE Moses beveel het. Josua het in hierdie tyd die Enakiete gaan uitroei – uit die bergland, uit Hebron, Debir en Anab, uit die hele bergland van Juda en uit die hele bergland van Israel. Josua het hulle saam met hulle stede met die banvloek getref. Daar het geen Enakiete in die land van die Israeliete oorgebly nie; net in Gasa, Gat en Asdod het daar van hulle oorgebly. Josua het die hele landstreek verower, net soos die HERE vir Moses gesê het. Josua het dit aan Israel as erfdeel gegee, ooreenkomstig die indeling van hulle stamme. Die land het toe gerus van oorlog.

JOSUA 11:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Jabin, die koning van Hasor, dit hoor, stuur hy na Jobab, die koning van Madon, en die koning van Simron en die koning van Agsaf, En aan die konings wat aan die noordekant van die berge en van die vlaktes was, suid van Kinnerot, en in die dal en aan die westekant van Dor, en vir die Kanaäniete in die ooste en teen die weste, en vir die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Jebusiete in die berge, en vir die Hewiete onder Hermon in die land Mispa. En hulle het uitgetrek, hulle en al hulle leërs saam met hulle, baie mense, soos die sand wat op die seestrand is in menigte, met perde en strydwaens baie. En toe al hierdie konings bymekaargekom het, het hulle gekom en laer opgeslaan by die waters van Merom om teen Israel te veg. Toe sê die HERE vir Josua: Wees nie bevrees vir hulle nie, want môre omtrent hierdie tyd sal Ek hulle almal wat verslaan is voor Israel oorgee; jy moet hulle perde kap en hulle strydwaens met vuur verbrand. Daarop het Josua, en al die krygsmanne saam met hom, skielik teen hulle gekom by die waters van Merom; en hulle het op hulle geval. En die HERE het hulle oorgegee in die hand van Israel, wat hulle verslaan en hulle agtervolg het tot by die groot Sidon en tot by Misrefotmaim en tot by die dal Mispa, teen die ooste; en hulle het hulle verslaan totdat hulle niemand oorgebly het nie. En Josua het met hulle gedoen soos die HERE hom beveel het: hy het hulle perde geskarrel en hulle strydwaens met vuur verbrand. En Josua het in dié tyd omgedraai en Hasor ingeneem en sy koning met die swaard verslaan, want Hasor was vroeër die hoof van al daardie koninkryke. En hulle het al die siele wat daarin was, met die skerpte van die swaard verslaan en hulle met die banvloek getref; daar het niemand oorgebly om asem te haal nie; en hy het Hasor met vuur verbrand. En Josua het al die stede van daardie konings en al hulle konings ingeneem en hulle met die skerpte van die swaard verslaan, en hy het hulle met die banvloek getref, soos Moses, die kneg van die HERE, beveel het. Maar die stede wat in hulle sterkte bly staan het, Israel het nie een van hulle verbrand nie, behalwe Hasor alleen; dit het Josua verbrand. En al die buit van hierdie stede en die vee het die kinders van Israel vir hulle as buit geneem; maar hulle het elkeen met die skerpte van die swaard verslaan totdat hulle hulle verdelg het, en hulle het niemand laat asemhaal nie. Soos die HERE sy kneg Moses beveel het, so het Moses Josua beveel, en so het Josua; hy het niks ongedaan gemaak van alles wat die HERE Moses beveel het nie. En Josua het daardie hele land ingeneem, die heuwels en die hele Suidland en die hele land Gosen en die dal en die vlakte en die berg van Israel en die dal daarvan; Selfs van die berg Halak af wat opgaan tot by Seïr, tot by Baälgad in die dal van die Líbanon onder die berg Hermon; en al hulle konings het hy geneem en hulle verslaan en hulle gedood. Josua het lank oorlog gevoer teen al daardie konings. Daar was geen stad wat vrede gemaak het met die kinders van Israel nie, behalwe die Hewiete, die inwoners van Gibeon; al die ander het hulle in die geveg ingeneem. Want dit was van die HERE om hulle hart te verhard, dat hulle teen Israel sou kom in die geveg, dat Hy hulle met die banvloek sou tref, en dat hulle geen guns sou hê nie, maar om hulle te vernietig, soos die HERE Moses beveel het. En in dié tyd het Josua gekom en die Enakiete uitgeroei uit die berge, uit Hebron, uit Debir, uit Anab en uit al die gebergte van Juda en van al die berge van Israel; Josua het hulle met hulle stede met die banvloek getref. Daar het nie een van die Enakiete in die land van die kinders van Israel oorgebly nie: net in Gasa, in Gat en in Asdod het daar oorgebly. Toe het Josua die hele land ingeneem volgens alles wat die HERE aan Moses gesê het; en Josua het dit as 'n erfdeel aan Israel gegee volgens hulle afdelings volgens hulle stamme. En die land het gerus van oorlog.

JOSUA 11:1-23 Die Boodskap (DB)

Toe die nuus van Israel se oorwinnings koning Jabin van Hasor bereik, het hy dadelik boodskappe aan die volgende konings gestuur: koning Jobab van Madon, die konings van Simron en Aksaf, die konings in die noordelike bergagtige gebiede, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, die konings wat in die vlakte gebly het, asook dié wat in die gebied Dor gebly het, dit is die westelike gebied tussen Karmel en Sesarea teen die kus van die Middellandse See. Ook aan die Kanaäniete in beide die oostelike en westelike gebiede en die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete in die berggebiede en die Hewiete wat aan die voet van die berg Hermon gebly het, naby die gebied van Mispa. Al hierdie konings het onmiddellik op die boodskap gereageer en gereedgemaak vir oorlog. Hulle gesamentlike leër saam met hulle perde en strydwaens was so groot dat hulle soos die sandkorrels op die strand gelyk het. Hierdie gesamentlike mag het hulle kamp by die meer van Merom opgeslaan, gereed vir die oorlog teen die Israeliete. Maar die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Teen dié tyd môre gee Ek hulle oor aan Israel om hulle almal dood te maak. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.” Josua en sy soldate is toe af na Merom toe, waar hulle ’n verrassingsaanval op die ander leër geloods het. Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Toe die vyand vlug, het hulle hulle agternagesit tot so ver noord as Sidon-Rabba en Misrefot-Majim en ook tot by die vallei van Mispa in die ooste. Hulle het nie opgehou voordat hulle die hele mag uitgeroei het nie. Josua het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand. Daarna het Josua omgedraai, terug na Hasor toe. Ook dié stad het hy ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor was voorheen die magtigste van al die koninkryke in daardie omgewing. Die Israeliete het al die inwoners van die stad doodgemaak en die stad totaal en al afgebrand en vernietig. Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense daarin uitgeroei volgens die opdrag van Moses die Here se dienaar. Behalwe vir Hasor het hulle nie een van die ander ou, gevestigde stede afgebrand nie. Die Israeliete het die buit en al die vee van die stede vir hulleself gevat, maar die inwoners het hulle doodgemaak. Die opdragte wat die Here vir Moses sy dienaar gegee het, het Moses net so aan Josua oorgedra. Josua het dit alles stiptelik uitgevoer. Josua het die hele land ingeneem: die bergagtige gebiede, die hele suidelike deel, asook die hele gebied van Gosen, die laerliggende dele, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle voetheuwels. Die gebied het gestrek van die Kaalberg in die suide, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad, aan die voet van die berg Hermon in die Libanonvallei in die noorde. Josua was lank in ’n oorlog met die konings van hierdie gebied gewikkel, maar hy het hulle uiteindelik almal verslaan en doodgemaak. Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gebly het, was daar nie een ander stad wat met die Israeliete ’n vredesverdrag gesluit het nie. Hulle is almal in gevegte verslaan. Die Here het toegelaat dat hulle hardkoppig bly. Hulle het toe in oorloë met die Israeliete betrokke geraak en is voor die voet vernietig, volgens die Here se opdrag aan Moses. In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge van Hebron, Debir en Anab, asook in die berggebiede van Juda en Israel, uitgeroei. Daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Hier en daar in die gebiede van Gasa, Gat en Asdod was daar klein groepies van hulle oor. Volgens die Here se opdrag aan Moses het Josua die hele land ingeneem. Hy het dit aan die Israeliete as hulle besitting gegee deur dit gelykop onder die stamme te verdeel. Na ’n ruk was die land uiteindelik vry van oorlog.

JOSUA 11:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Koning Jabin van Hasor het van Josua se veldslae gehoor. Hy het boodskappe na Jobab, koning van Madon, gestuur en ook na die konings van Simron en Aksaf. Sy boodskappe het ook uitgegaan na die konings in die noordelike heuwelgebied, dié in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea, in die kusvlakte en in die heuwels van Dor by die Middellandse See, die Kanaäniete – oos en wes – die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die heuwelgebied en die Hewiete aan die hange van die Hermonberg in die Mispegebied. Almal het met hulle leërs en perde en strydwaens saamgetrek vir oorlog teen Israel. Hulle was so baie soos die sandkorrels op die strand. Al hierdie konings het ’n bondgenootskap gesluit. Hulle het almal by die Meromwaters bymekaargekom en reggemaak om teen Israel te gaan veg. Die HERE het toe vir Josua gesê: “Jy moenie vir hulle bang wees nie. Môre hierdie tyd sal Ek hulle aan Israel oorgee en dan sal hulle almal dood wees. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.” Josua en sy hele mag het na die Meromwaters opgeruk en hulle in ’n verrassingsaanval oorval. Die HERE het vir Israel die oorwinning gegee. Hulle het die vyand agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en tot in die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei totdat daar nie een oor was nie. Josua het gemaak soos die HERE gesê het en hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand. Josua het toe omgedraai en Hasor ingeneem. Hy het sy koning met die swaard doodgemaak. Hasor was destyds die hoofstad van al die omringende koninkryke. Hulle het elke lewende wese in die stad doodgemaak en niemand gespaar nie. Josua het die stad afgebrand. Hy het ook al die omringende dorpe ingeneem en hulle konings en inwoners uitgewis. Dit was soos Moses, die dienaar van die HERE, beveel het. Israel het egter nie die plekke wat op ruïneheuwels gebou was, afgebrand nie. Josua het net Hasor afgebrand. Alles wat hulle in hierdie stede kon buit en die vee het Israel vir hulleself gehou. Hulle het die mense uitgeroei tot daar nie een oor was nie. Alles wat die HERE sy dienaar Moses beveel het, en wat Moses weer vir Josua opgedra het, het Josua gedoen. Hy het nêrens van enigiets wat die HERE Moses beveel het, afgewyk nie. Josua het die hele gebied ingeneem: die heuwelgebied, die hele Negevgebied, die hele Gosengebied, die kusvlakte, die Jordaanvallei en die heuwels van Israel met hulle valleie. Die gebied van Israel het nou geloop van Kaalberg wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei aan die voet van die Hermonberg. Josua het al die konings van hierdie gebiede verslaan en hulle doodgemaak. Die oorlog wat hy met hulle gemaak het, het lank geduur. Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gewoon het, wou geen stad met die Israeliete vrede sluit nie. Hulle moes almal deur gevegte verower word. Dit was die HERE wat hulle oorreed het om eerder oorlog teen Israel te maak sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en hulle geheel en al kon uitwis soos die HERE vir Moses gesê het. Dit was in hierdie tyd dat Josua ook die afstammelinge van die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge, uitgewis het. Josua het hulle saam met hulle stede totaal uitgeroei. Daar het in die hele land van Israel nie ’n enkele Enakiet oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod het daar Enakiete oorgebly. Josua het die hele land ingeneem, soos die HERE vir Moses beveel het. Josua het toe die land soos dit tussen die stamme verdeel is, aan Israel as hulle erfgrond gegee. Die land kon toe tot rus kom van die oorlog.