JOSUA 1:5-7 - Compare All Versions

JOSUA 1:5-7 ABA (Bybel vir almal)

So lank soos jy lewe, sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees, soos Ek by Moses was. Ek sal jou nie los nie, Ek sal altyd by jou wees. Jy moet sterk en dapper wees, want jý sal hierdie volk lei om die land te vat wat Ek vir hulle voorvaders belowe het. Ja, jy moet sterk en dapper wees, jy moet seker maak dat jy alles doen wat die wette sê, die wette wat my dienaar Moses vir jou gegee het. Jy moet presies so doen, dan sal jy slaag met alles wat jy doen.

JOSUA 1:5-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan.

JOSUA 1:5-7 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan.

JOSUA 1:5-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Solank jy leef, sal niemand voor jou kan standhou nie. Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Wees dapper en sterk, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan.

JOSUA 1:5-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses was, so sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed, want aan hierdie volk moet jy die land wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee, as erfdeel uitdeel. Wees net sterk en baie dapper, dat jy sorgvuldig kan handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het: draai nie daarvan af na regs of links nie, sodat jy voorspoedig kan wees oral waar jy gaan.

JOSUA 1:5-7 DB (Die Boodskap)

Jou hele lewe lank sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees soos Ek by Moses was. Ek sal jou nooit in die steek laat of jou alleen los nie. Wees sterk, vertrou My blindelings. Jy is die leier wat hierdie volk die land moet inlei wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het. Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak.

JOSUA 1:5-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie. “Wees sterk en dapper. Jy is die een wat hierdie volk moet lei om die land in besit te neem. Ek het dit met ’n eed aan hulle voorouers beloof. “Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen.