JOSUA 1:1-18
JOSUA 1:1-18 Bybel vir almal (ABA)
Moses, die dienaar van die Here, het gesterf. Josua seun van Nun het vir Moses gewerk. Die Here het vir Josua gesê: “My dienaar Moses is dood. Daarom moet jy nou gereedmaak, jy en hierdie hele volk, en julle moet oor die Jordaan-rivier gaan na die land wat Ek vir hulle, die Israeliete, gee. Ek het dit vir Moses belowe, en daarom sal Ek vir julle elke plek gee waar julle sal kom, van die woestyn en die Libanon-berg tot by die groot rivier, die Eufraat. Die hele land van die Hetiete tot by die Groot See in die weste sal julle land word. So lank soos jy lewe, sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees, soos Ek by Moses was. Ek sal jou nie los nie, Ek sal altyd by jou wees. Jy moet sterk en dapper wees, want jý sal hierdie volk lei om die land te vat wat Ek vir hulle voorvaders belowe het. Ja, jy moet sterk en dapper wees, jy moet seker maak dat jy alles doen wat die wette sê, die wette wat my dienaar Moses vir jou gegee het. Jy moet presies so doen, dan sal jy slaag met alles wat jy doen. Jy moet aanhou om te lees wat in hierdie wetboek staan, jy moet elke dag en elke nag daaroor dink, dan sal jy seker maak dat jy alles doen wat daarin geskryf is. Jy sal kan doen wat jy moet doen en jy sal slaag. Ek het vir jou gesê jy moet sterk en dapper wees. Jy moenie bang wees nie, jy moet vir niks skrik nie, want jou God die Here sal by jou wees, oral waar jy gaan.” Josua het vir die voormanne van die volk gesê: “Julle moet deur die kamp gaan en julle moet vir die mense sê: ‘Julle moet vir julle padkos gereedmaak, want oor drie dae sal julle deur hierdie Jordaan-rivier gaan. Julle sal die land vat wat julle God die Here vir julle gee.’ ” Josua het vir die stamme Ruben en Gad en vir die halwe Manasse-stam gesê: “Julle moet onthou wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gesê het. Hy het gesê: ‘Julle God die Here het julle vyande oorwin en Hy sal vir julle hierdie grond oos van die Jordaan-rivier gee.’ Julle vroue en kinders en oumense en julle diere mag hier bly, maar almal van julle wat oorlog kan maak, moet voor die ander Israeliete oor die Jordaan-rivier gaan en julle moet hulle gaan help. Wanneer die Here die vyande van die ander Israeliete ook oorwin het en wanneer die ander Israeliete die land gevat het wat julle God die Here vir hulle gee, dan mag julle terugkom na julle eie grond wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle oos van die Jordaan-rivier gegee het.” Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir Josua gesê: “Ons sal alles doen wat jy sê en ons sal gaan waar jy ons stuur. Ons sal luister na jou, soos ons geluister het na Moses. Ons is seker dat die Here by jou sal wees, soos Hy by Moses was. Elke man wat nie na jou wil luister nie en wat nie wil doen wat jy sê nie, moet sterf. Maar jy moet sterk en dapper wees.”
JOSUA 1:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê: My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee. Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See in die weste sal julle grondgebied wees. Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel. Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan. Toe het Josua aan die opsigters van die volk bevel gegee en gesê: Gaan die laer deur en gee die volk bevel en sê: Maak vir julle padkos klaar; want oor drie dae sal julle deur hierdie Jordaan trek om die land in besit te gaan neem wat die HERE julle God aan julle gee, om dit in besit te neem. En aan die Rubeniete en Gadiete en die halwe stam van Manasse het Josua dit gesê: Dink aan die saak wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het toe hy gesê het: Die HERE julle God verskaf 'n rusplek aan julle en sal hierdie land aan julle gee. Julle vroue, julle kinders en julle vee kan bly in die land wat Moses julle oos van die Jordaan gegee het; maar julle self, al die dapper helde, moet gewapend voor julle broers deurtrek en hulle help, totdat die HERE aan julle broers, soos aan julle, rus gee, en hulle ook die land in besit neem wat die HERE julle God aan hulle sal gee; dan kan julle teruggaan na die land van julle besitting wat Moses, die kneg van die HERE, julle gegee het oos van die Jordaan, teen sonop, en dit in besit neem. Toe het hulle Josua geantwoord en gesê: Alles wat u ons beveel het, sal ons doen, en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan. Net soos ons na Moses geluister het, so sal ons na u luister; mag die HERE u God net met u wees soos Hy met Moses gewees het. Elke man wat teen u bevel wederstrewig is en na u woorde nie luister met betrekking tot alles wat u ons sal beveel nie, moet gedood word; wees net sterk en vol moed.
JOSUA 1:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: “Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee. Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom: van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste, alles sal julle woongebied wees. “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” Josua het die beamptes van die volk beveel: “Gaan die kamp deur en sê vir die mense: Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae trek julle deur die Jordaan en gaan julle die land in besit neem wat die Here julle God julle as besitting gee.” Vir die stamme Ruben en Gad en vir die halwe Manassestam het Josua gesê: “Julle onthou die woorde van Moses die dienaar van die Here. Hy het vir julle gesê: ‘Die Here julle God sal vir julle 'n vaste woonplek gee; Hy sal julle hierdie gebied gee.’ Julle vrouens en kinders en julle vee kan in die gebied aan hierdie kant van die Jordaan bly wat Moses aan julle toegeken het, maar julle, elke weerbare man, moet in formasie voor julle volksgenote uit optrek en hulle help. Eers nadat die Here aan julle volksgenote 'n vaste woonplek gegee het soos vir julle, en hulle ook die gebied in besit geneem het wat die Here julle God aan hulle gee, kan julle terugkom. Dan kan julle julle eie gebied wat Moses die dienaar van die Here aan julle oos van die Jordaan toegeken het, in besit neem.” Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat u ons opdra, ons sal gaan waar u ons ook al stuur. Soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die Here u God by u wees soos Hy by Moses was. Elke man wat hom teen u bevele verset en nie gehoorsaam is aan al die bevele wat u gee nie, sal doodgemaak word. Wees u net sterk en vasberade.”
JOSUA 1:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná die dood van Moses, die dienskneg van die HERE, het die HERE vir Josua, seun van Nun, Moses se helper, gesê: “Moses, my dienskneg, is dood. Daarom, maak nou gereed om hierdie Jordaan oor te steek, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, aan die Israeliete, gaan gee. Elke plek waarop julle voete trap – aan julle gee Ek dit soos Ek aan Moses beloof het. Van die woestyn en die Libanon af tot by die groot rivier, die Eufraat, die hele land van die Hetiete tot by die Groot See in die weste, sal julle gebied wees. Solank jy leef, sal niemand voor jou kan standhou nie. Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Wees dapper en sterk, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan. Hierdie •boekrol van die wet mag nie uit jou mond verdwyn nie. Jy moet dit dag en nag mymerend prewel, sodat jy alles wat daarin geskryf is, nougeset kan nakom; want dan sal jy voorspoedig wees op jou pad; dan sal jy sukses behaal. Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die HERE jou God is by jou, oral waar jy gaan.” Josua het toe die opsieners van die volk opdrag gegee: “Gaan deur die kamp en gee opdrag aan die volk, ‘Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae gaan julle hierdie Jordaan oorsteek om die land binne te gaan, om in besit te neem wat die HERE julle God aan julle gaan gee om in besit te neem.’ ” Vir die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het Josua gesê: “Onthou die saak waaroor Moses, die dienskneg van die HERE, julle opdrag gegee het, ‘Die HERE julle God gaan vir julle rus gee en hierdie land aan julle gee. Julle vroue, die swakkes onder julle en julle vee kan bly in die gebied oorkant die Jordaan wat Moses aan julle gegee het. Maar julle moet in slagorde voor julle broers oortrek, al die dapper krygers, en hulle bystaan totdat die HERE vir julle broers rus gegee het soos vir julle, en hulle ook die land wat die HERE julle God vir hulle gee, in besit geneem het. Dan mag julle terugkeer na die land wat julle eiendom is en dit in besit neem – die land wat Moses, die dienskneg van die HERE, vir julle gegee het oorkant die Jordaan, aan die oostekant.’ ” Hulle het Josua geantwoord: “Alles wat u ons beveel, sal ons doen, en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan. Net soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die HERE u God ook by u wees, net soos Hy by Moses was. Elkeen wat teen u bevel in opstand kom en nie u woorde gehoorsaam nie, wat u hom ook al beveel, moet sterf. Wees net dapper en sterk.”
JOSUA 1:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê: My dienaar Moses is dood; Staan dan nou op, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, aan die kinders van Israel, sal gee. Elke plek waarop jou voetsool sal trap, het Ek aan jou gegee, soos Ek vir Moses gesê het. Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See teen sononder, sal julle kusgebied wees. Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses was, so sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed, want aan hierdie volk moet jy die land wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee, as erfdeel uitdeel. Wees net sterk en baie dapper, dat jy sorgvuldig kan handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het: draai nie daarvan af na regs of links nie, sodat jy voorspoedig kan wees oral waar jy gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar jy moet dit dag en nag oordink, dat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe is; Het ek jou nie beveel nie? Wees sterk en hou goeie moed; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie, want die HERE jou God is met jou oral waar jy gaan. Toe het Josua die opsigters van die volk bevel gegee en gesê: Trek die leër deur en gee bevel aan die volk en sê: Maak vir julle kos gereed; want binne drie dae moet julle deur hierdie Jordaan trek om in te gaan om die land in besit te neem wat die HERE julle God aan julle sal gee om dit in besit te neem. En met die Rubeniete en die Gadiete en die helfte van die stam van Manasse het Josua gespreek en gesê: Onthou die woord wat Moses, die kneg van die HERE, jou beveel het deur te sê: Die HERE jou God het jou rus gegee en aan jou hierdie land gegee. Jou vroue, jou kinders en jou vee moet bly in die land wat Moses aan jou gegee het oos van die Jordaan; maar julle moet gewapen voor julle broers verbygaan, al die dapper helde, en hulle help; Totdat die HERE julle broers rus gegee het soos Hy julle gegee het, en hulle ook die land in besit geneem het wat die HERE julle God aan hulle gee; dan moet julle teruggaan na die land van julle besitting en dit geniet wat Moses, die kneg van die HERE, het jou aan hierdie kant van die Jordaan teen sonsopgang gegee. En hulle het Josua geantwoord en gesê: Alles wat u ons beveel, sal ons doen; en waarheen u ons ook al stuur, sal ons gaan. Soos ons in alles na Moses geluister het, so sal ons na jou luister: net die HERE jou God wees met jou, soos Hy met Moses was. Elkeen wat teen u gebod in opstand kom en nie na u woorde luister in alles wat u hom beveel nie, hy moet gedood word; wees net sterk en vol moed.
JOSUA 1:1-18 Die Boodskap (DB)
Na die dood van Moses, die groot dienaar van die Here, het die Here met Josua kom praat. Hy was die seun van Nun. Josua was vroeër ook Moses se assistent. Die Here het vir hom gesê: “Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy Israel deur die Jordaan na die land toe lei wat Ek self aan hulle gaan gee. Ek maak aan jou dieselfde belofte wat ek vroeër aan Moses gemaak het: elke plek waardeur julle trek, sal Ek aan julle gee. Die grense van julle land sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanonberge in die noorde, en van die Eufraatrivier in die ooste deur die gebied van die Hetiete tot by die Middellandse See in die weste. Jou hele lewe lank sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees soos Ek by Moses was. Ek sal jou nooit in die steek laat of jou alleen los nie. Wees sterk, vertrou My blindelings. Jy is die leier wat hierdie volk die land moet inlei wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het. Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak. Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal. Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.” Josua sê toe vir die amptenare van die volk: “Gaan deur die kamp en sê vir die mense: Kry vir julle padkos reg, want oor drie dae trek ons deur die Jordaan om die land in besit te neem wat die Here julle God vir julle gee.” Toe roep Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse bymekaar. Hy sê vir hulle: “Julle onthou mos dat die Here se dienaar, Moses, vir julle gesê het: ‘Die Here julle God sal hierdie stuk grond aan die oostekant van die Jordaan vir julle gee as julle nuwe woonplek. Laat julle vroue, kinders en vee dan solank hier bly terwyl julle met julle wapens voor die res van die stamme uittrek om hulle te help om die land in te neem. Nadat die Here vir julle volksgenote ook ’n rusplek gegee het soos vir julle, en nadat julle hulle gehelp het om die land wat die Here julle God vir hulle gee, in te neem, kan julle weer hierheen terugkom. Dan kan julle hier aan die oostekant van die Jordaan kom bly. Dit is die gebied wat Moses, die Here se dienaar, vroeër aan julle gegee het.” Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat jy sê en ons sal gaan waarheen jy ons stuur. Ons sal na jou luister soos ons na Moses geluister het. Mag die Here jou God by jou wees soos Hy by Moses was. Enigeen wat nie doen wat jy sê nie, moet doodgemaak word. Wees jy maar net sterk en vasberade!”
JOSUA 1:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses, die dienaar van die HERE, is dood. Daarna het die HERE met Josua, seun van Nun, gepraat. Hy was vroeër die assistent van Moses. Die HERE het vir hom gesê: “Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy gereedmaak om my volk deur die Jordaanrivier te lei na die land toe wat Ek vir die Israeliete gee. Soos Ek vir Moses belowe het, sal Ek elke plek waar julle kom vir julle gee. Alles sal julle grond wees, van die Negevwoestyn af tot by die Libanonberge, die hele gebied van die Hetiete, van die Eufraatrivier af tot by die Middellandse See in die weste. “Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie. “Wees sterk en dapper. Jy is die een wat hierdie volk moet lei om die land in besit te neem. Ek het dit met ’n eed aan hulle voorouers beloof. “Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen. Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees. My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die HERE jou God is saam met jou oral waar jy gaan.” Josua het die leiers van die volk beveel: “Gaan deur die kamp en sê vir die mense om padkos reg te kry. Oor drie dae gaan julle deur die Jordaan trek om die land wat die HERE julle God vir julle gee, in ontvangs te neem.” Josua het vir die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse gesê: “Onthou die opdrag wat die HERE se dienaar Moses vir julle gegee het: ‘Die HERE julle God het hierdie gebied vir julle as vaste woonplek gegee.’ “Julle vroue, kinders en vee mag intussen aan hierdie kant van die Jordaan bly wat Moses aan julle toegeken het. Julle vegters moet egter gewapend voor julle broers uitmarsjeer en hulle gaan help. Eers nadat die HERE ook aan julle broers vaste blyplek gegee het en hulle die grond in besit geneem het wat die HERE julle God aan hulle gee, kan julle terugkom om julle te vestig in die deel oos van die Jordaan wat die HERE se dienaar Moses vir julle gegee het.” Hulle het vir Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat jy vir ons sê. Ons sal gaan waarheen jy ons ook al stuur. Soos ons na Moses geluister het, sal ons ook aan jou gehoorsaam wees. “Mag die HERE jou God saam met jou wees soos Hy by Moses was. Enige persoon wat jou opdragte verontagsaam en nie luister na alles wat jy beveel nie, sal tereggestel word. Jy moet sterk en dapper wees.”