JONA 4:5-9
JONA 4:5-9 Bybel vir almal (ABA)
Jona het uit die stad geloop en hy het oos van die stad gaan sit. Hy het vir hom 'n afdak gemaak en in die skaduwee gaan sit. Hy wou sien wat met die stad gebeur. Die Here het 'n plant laat groei, en die plant het skaduwee gemaak oor Jona se kop. Die son het hom nie gebrand nie. Jona was baie bly oor die plant. Maar toe dit lig word die volgende oggend, het God 'n wurm gestuur, en die wurm het die plant begin vreet. Die plant het toe doodgegaan. Toe die son opkom, het God ook 'n warm oostewind laat waai, en die son het Jona se kop gebrand. Jona het amper flou geword en hy het gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Ek wil sterf, ek wil nie lewe nie.” God het vir Jona gevra: “Dink jy dit is reg om kwaad te word oor die plant?” En Jona het gesê: “Ja, dit is reg! Ek is so kwaad dat ek kan sterf!”
JONA 4:5-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jona het die stad verlaat en aan die oostekant van die stad gaan sit. Daar maak hy toe vir hom 'n skerm, en hy gaan daaronder in die skaduwee sit, totdat hy sou sien wat met die stad gebeur. Toe beskik die HERE God 'n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy ontstemdheid te bevry; en Jona was baie bly oor die wonderboom. Maar God het die volgende môre toe die dag breek, 'n wurm beskik; en dié het die wonderboom gesteek, sodat dit verdor het. En met sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe. Toe sê God vir Jona: Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom? En hy antwoord: Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe.
JONA 4:5-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom 'n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant. Die volgende môre met dagbreek laat God toe 'n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!”
JONA 4:5-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jona het by die stad uitgegaan en aan die oostekant gaan sit. Daar het hy vir hom 'n takskerm gemaak en daaronder in die skaduwee gaan sit, sodat hy kon sien wat met die stad gebeur. Toe het die HERE God 'n kasterolieplant beskik om oor Jona op te kom vir 'n skaduwee oor sy kop en om hom van sy onvergenoegdheid te bevry. Jona was baie bly oor die kasterolieplant. Maar met dagbreek die volgende môre het God 'n wurm beskik. Dit het die kasterolieplant binnegedring, en dit het verlep. Teen sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik, en toe die son op Jona se kop bak, het hy duiselig geraak en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te leef.” Toe sê God vir Jona: “Is dit reg dat jy kwaad is oor die kasterolieplant?” Hy het geantwoord: “Ek is tereg tot die dood toe kwaad.”
JONA 4:5-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jona het toe uit die stad gegaan en aan die oostekant van die stad gaan sit en vir hom 'n hutte gemaak en in die skadu daaronder gaan sit totdat hy kon sien wat van die stad sou word. En die HERE God het 'n kalbas berei en dit oor Jona laat opkom, sodat dit 'n skaduwee oor sy hoof kon wees om hom van sy droefheid te verlos. En Jona was baie bly oor die kalbas. Maar God het 'n wurm berei toe dit die volgende dag opkom, en dit het die kalbas getref dat dit verdroog het. En toe die son opkom, het God 'n hewige oostewind voorberei; en die son het op die hoof van Jona geslaan, dat hy beswyk het en in homself wou sterwe en gesê het: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe. Toe sê God vir Jona: Is dit goed dat jy kwaad word vir die kalbas? En hy sê: Dit is goed om my toornig te wees tot die dood toe.
JONA 4:5-9 Die Boodskap (DB)
Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad vir hom ’n skerm gaan maak sodat hy daaronder in die skaduwee kon sit. Hy het daar gaan sit om te kyk of daar iets met die stad gaan gebeur. Die Here God laat toe ’n wonderplant opkom. Dit het ’n skaduwee oor Jona gegooi wat dit vir hom baie gemakliker gemaak het. Jona was baie bly oor die wonderplant. Maar die volgende oggend toe die son opkom, stuur God ’n wurm. Hy het aan die plant begin vreet en dit het veroorsaak dat die plant doodgaan. Die son het al warmer geword. Soos die dag vorder, het God ’n skroeiende warm wind uit die ooste laat waai. Die son het so warm op Jona gebrand en hom so gedaan gemaak dat hy naderhand gewens het dat hy tog maar liewer dood was. Hy sê toe weer soos hy gesê het: “Dit is beter as ek nie verder lewe nie.” God vra toe weer vir Jona: “Het jy die reg om oor hierdie wonderplant kwaad te wees?” “Ja, tot die dood toe,” antwoord Jona die Here.
JONA 4:5-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jona is toe uit die stad uit. Hy het aan die oostekant van die stad gaan sit en vir hom ’n skuiling gemaak. Hy het onder die skuiling gesit terwyl hy gewag het om te sien of iets met die stad sou gebeur. Die HERE God het toe ’n plant laat groei wat skaduwee oor Jona se kop gemaak het. Dit het hom beter laat voel. Jona was baie bly oor die plant. Maar God stuur toe ’n wurm. Met dagbreek die volgende môre het die wurm die stam van die plant afgevreet. Die plant het verdroog. Toe die son opkom, het God ’n skroeiende oostewind laat opsteek. Die son het so op Jona se kop neergebrand dat hy swak begin voel het en gewens het om dood te gaan. Hy het gesê: “Dit is beter om dood te gaan as om te lewe!” God sê toe vir Jona: “Is dit reg van jou om kwaad te wees omdat die plant dood is?” Jona het geantwoord