JOËL 2:15-17 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JOËL 2:15-17 AFR83 (Afrikaans 1983)
Blaas die ramshoring in Sion, bepaal 'n dag om te vas, roep die gemeente bymekaar. Roep die volk op, reinig die gemeente, laat die leiers bymekaarkom, bring die kinders bymekaar, selfs dié wat nog drink. Die bruidegom moet uit sy kamer uitkom, die bruid uit haar wittebroodskamer. Die priesters wat in die diens van die Here staan, moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil, hulle moet sê: “Betoon medelye met u volk, Here, moenie die volk wat aan U behoort, tot 'n bespotting maak, sodat die nasies met hulle sal spot nie. Waarom moet daar onder die volke gevra word: Waar is Israel se God?”
JOËL 2:15-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek. Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?
JOËL 2:15-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom. Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die HERE. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer. Die priesters wat in diens is van die HERE moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “HERE, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”
JOËL 2:15-17 DB (Die Boodskap)
Blaas op trompette in Sion! Roep ’n vasdag uit waar almal sonder kos klaarkom om te wys hulle is regtig jammer oor hulle sonde. Roep die gemeente op vir ’n vergadering. Kry almal bymekaar. Maak hulle gereed vir ’n spesiale byeenkoms. Bring die oumense, die kinders en die babas. Selfs pasgetroude paartjies wat op wittebrood is, moet hierdie vergadering bywoon. Die priesters wat in diens van die Here is, moet tussen die ingang van die tempel en die altaar, daar waar die offers gebring word, gaan staan en huil. Hulle moet ernstig bid: “Here, kry u mense jammer. Moenie toelaat dat ander volke spot met ons wat aan U behoort en vermakerig vir ons vra: ‘Waar is Israel se God?’ nie.”
JOËL 2:15-17 ABA (Bybel vir almal)
Julle moet die ramshoring blaas op Sionsberg. Julle moet 'n dag aan die Here wy, en almal moet op daardie dag vas. Julle moet al die mense roep om bymekaar te kom. Julle moet die mense bymekaarmaak en die gemeente wy, julle moet al die mense bymekaarmaak, die mense wat oud is, die kinders en ook die babatjies wat nog aan hulle ma's drink. Die bruidegom en die bruid moet ook uitkom uit hulle slaapkamer. Die priesters moet dan tussen die tempel en die altaar staan en hulle moet huil. Die priesters, die mense wat vir die Here werk, moet dan bid en sê: “Here, U moet asseblief jammer wees vir u volk, ons behoort aan U. Die ander volke spot en lag vir ons. U moet hulle stop. Hulle sê: ‘Waar is daardie mense se God? Hoekom help Hy hulle nie?’ ”
JOËL 2:15-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Blaas die ramshoring op Sion, bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die HERE staan. Hulle moet sê: “Spaar u volk, HERE, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ”
JOËL 2:15-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Blaas die basuin in Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n plegtige byeenkoms. Versamel die volk, heilig die vergadering, laat die oudstes bymekaarkom, versamel die kinders en dié wat die borste suig; laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar kleedkamer. Laat die priesters, die dienaars van die HERE, ween tussen die voorportaal en die altaar, en laat hulle sê: Spaar u volk, HERE, en gee u erfdeel nie aan smaad nie, dat die heidene oor hulle sou heers nie; waarom moet hulle sê onder die volk: Waar is hulle God?